Met hierdie week se dagstukkies leer ons om aan God gehoorsaam te wees en ʼn verskil te maak.
Skrifgedeelte: Matteus 28:16-20 Teks wat tref: Matt 28:19
Ons vier vandag Christus se hemelvaart. Ons heg gewoonlik baie waarde aan ‘n persoon se laaste woorde op aarde. Daar word dikwels na Matt 28 verwys as die “Groot Opdrag” van ons Here Jesus Christus en dan ‘n beroep gedoen om by sendingwerk betrokke te wees..
Jesus het kort tevore uit die dood opgestaan en wanneer Hy sy dissipels beveel om Hom weer by die berg te ontmoet, verwag die verslae dissipels weer iets groots. Hy was dood. Nou staan Hy in hulle midde. Jesus se verskyning laat hulle Hom dadelik aanbid. Sekerlik wou hulle Hom nooit weer laat gaan nie.
Jesus se woorde bring vir hulle sekerheid en troos: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op aarde.” Om met so iemand bevriend te wees, kan beslis net goeie voordele en sukses beteken. Hulle sou nooit weer toelaat dat Hy ver van hulle moet wees nie.
En tog stuur Jesus hulle weg met sy eerste woorde: – “Gaan” – Maar ons lees in vers 18 dat Jesus eers nader aan sy dissipels gekom het. Daarmee openbaar Hy sy deernis vir en betrokkenheid vir die mens in nood. Onthou, hulle was verslae en verlore na sy dood. Jesus beklemtoon eers sy posisie. Hy het die dood oorwin. Hy beskik oor alle mag. Hierdie waarheid motiveer ons verdere optrede. Ons kan mos nooit stil bly of stil staan oor hierdie heerlike boodskap nie. Ons kan nie anders as om te gaan nie. Dit is die wese van dissipelskap. Om dissipel te wees beteken nie net om Jesus te volg nie, maar om ook oral en altyd besig wees om te gaan. Dit is om met jou optrede die hart van die Evangelie te leef. Om Christus te dien en te volg is dinamies.
Die werkwoord gaan waarmee Jesus die dissipels uitstuur is nooit verlede tyd nie. Om die lewende Christus te dien is nie ‘n middelmatige saak nie. Soos ‘n avonturier elke keer ‘n nuwe uitdaging aanvaar en opgewonde voorberei en nie kan wag om hoër hoogtes te verken nie, moet ek bereid wees om te gaan!
Dit was nooit Jesus se bedoeling om in Matt 28 akademiese en teologiese gesprek oor doop, bekering en leer te begin nie. Sy opdrag was eenvoudig net: – “gaan”. Die inhoud van die boodskap wat die dissipels moet gaan uitdra is die enigste rede vir die opdrag: – Jesus het alle mag! Jesus is elke dag by ons!
Hieroor durf niemand swyg nie. Gaan en maak ʼn verskil!
Dors vir meer:
Lk 10:1-11
Gebed
Here, dankie dat ons nooit alleen is nie. Dankie dat U die pad vir ons voorberei het sodat ons met sekerheid daarop mag wandel. Amen
Ds Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235