Skriflesing: Jesaja 26
Vers wat Tref: 26:7
“Die pad van die regverdige is reguit,
U maak sy pad gelyk..”
Wie van ons wil nie ʼn reguit lewenspad hê nie? Ons hou daarvan om die gelyk paaie te neem, die snelweë wat ons vinnig by ons bestemming bring.
Wie van ons probeer nie om ons lewenspad reguit te laat verloop nie- nie net ons sin nie, maar veral die van ons kinders sin. Ons probeer die berge plat te maak, die bosse oop te kap, die slaggate te vul.
Maar slaag ons daarin? Kan ons werklik ons lewenspad reguit maak?
Ons slaag nie baie goed daarin nie. Vir ʼn tyd lyk dit of ons dit regkry- maar daar kom altyd weer berge en bosse en slaggate en selfs doodloopstrate. Wie van ons kan werklik voorberei het vir dit wat ons nou beleef met die inperking. Kan enige iemand met eerlikheid sê wat gaan ek doen oor 2 of 3 maande of volgende jaar? Die lewe is vol van hierdie hindernisse- wonde wat ons voel nie kan genees nie, geestelik en fisies. Vlekke wat nie wil uitwas nie, berge wat nie wil skuif nie. Daar is vir ons geen waarborg dat ons die lewenspad vir ons reguit kan maak nie. Die hoogste posisie, die grootste rykdom, die beste grade is geen waarborg van ʼn gelyke lewenspad nie.
Is als dan vir ons tevergeefs? Wat help dit dan dat ons swoeg en sweet en beplan? Die geheim van ʼn gelyke lewenspad lê nie by ons nie, maar by die Here.
Die pad van die regverdige is reguit, die Here maak dit gelyk. Hoe is ons dan regverdig? Uit eie vermoëns? Nee, die Here maak ons regverdig. Hy roep ons en gee dit vir ons geskenk. Hy het ons losgekoop deur die bloed van Christus. Hy is by ons en niks gebeur uit toeval nie.
Die regverdige se begeertes is nie aardsgerig nie, maar na bo. “ Ons wil u Naam eer en U aanroep.
In die nag smag ek na U, in die môre vra ek na u wil.”
Die regverdige besit die geheim van ʼn gelyke lewenspad. Christus het die die ongelyke, onregverdige pad gestap tot by Golgota sodat daar vir ons ʼn gelyke pad is na die Here. ʼn Pad wat ons moet vrymoedigheid kan betree en wat ons reguit neem na gelyktes wat ons nie eens kan besef nie.
Vandag weet ons, die Here werk met my in my lewenspad. God se vertroosting is groter as enige hartseer, angs of vrese. God is groter as enige berg of struikelblok of slaggat. God bevestig deur Sy Gees, daar is vir ons hoop, en vrede en vertroue. Daar is vir ons genade en vergiffenis.
Maak nie saak hoe ons verlede lyk nie, hoe onseker die toekoms is- saam met God het ons die allerbeste lewenspad. Ons beleef nou ontbering van die tentwoning, maar sien uit na die huis wat die Here vir ons gereed het.
Daarom kan ek vandag en elke dag sê: “Sy genade is vir my genoeg- meer as genoeg.”
My lewenspad is gelyk want ek wandel my lewenspad nie net in die lig van die Here nie, maar saam met die Here!
Daarom soek ek die eer van Sy Naam- in die aand begeer my siel die Here, in oggend soek ek na Sy wil!
Dors vir meer:
Psalm 27 en 2 Korintiërs 4:16-5:10.
Gebed
Here my Here! My siel, en hart begeer na U, ek wil leef in U wil alleen. Dankie dat U my op die allerbeste lewenspad neem, tot die verheerliking van U naam! Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply