Skriflesing: Jesaja 25
Vers wat Tref: 25:6
Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke,
‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn.
Vanuit die oordeel-uitsprake in hoofstuk 13-24 kry ons opnuut weer die bevestiging, die groot troos, dit is die Here wat die gang van die geskiedenis bepaal.
Hierdie loflied in Hoofstuk 25 begin dan ook met hierdie belydenis: die Here voer alles uit soos wat Hy dit vooraf bepaal en bestem het. Weereens hoor ons hier dat geen nasie voor die Here kan standhou nie, almal moet voor Hom buig- daarom is die Here vir ons die toevlug in ons nood!
In Jesaja 25:6 staan dit uit dat die Here die Almagtige ’n feesmaal vir al die volke gereed gaan maak. Oorwinning in die Here sal gevier word. Die doek wat oor die aarde was oor al die nasies, sal verwyder word- die Here word geprys oor die hele aarde!
Die mag van die dood en die sonde sal gebreek word. God vee as Vader die trane af. Vir die oorblyfsel van Israel het dit werklikheid geword, want hulle is na Jerusalem teruggelei.
Nie net vir Israel nie, maar vir die hele wêreld, al die volke wat in Hom glo!
God het sy Seun, Jesus Christus, gestuur om redding te kom gee! Deur Jesus Christus verander alles vir die mens en die skepping. Jesus word gespot, gekruisig. Hy word deur God verlaat en Hy beleef die angste van die hel. Hy oorwin die dood, die sonde en Satan! Alles in die stad Jerusalem- Hier word die Here se mag bekend gemaak, in die hemel en op die aarde. Hy gee aan jou Sy genade.
Hy het die dood ewig vernietig, ons trane en smaad vir ewig verwyder!
Jesus kom weer, en dan sal ons die bruilofsfees van die Lam in sy volheid beleef. Dan sal God die
Vader ons trane finaal afvee. Dan is die seerkry van die sonde verby, finaal, vir altyd en altyd! (Op.
21:4)
Intussen? Jy is nie alleen nie. Die Heilige Gees is in jou en die Woord lei jou.
God skenk aan jou medegelowiges om saam die stryd te voer en nou reeds saam die oorwinningsfees te leef. Dit is waarom ons nagmaal vier.
Mag die Heilige Gees jou laat vashou aan die redding en vreugde wat Hy as God die Vader, Seun en Heilige Gees aan jou gee.
Deel jou vreugde van redding met dié wat nog soek en smag na God. Vertel vir almal (vers 9): Kyk daar, dit is ons God, ons het op Hom vertrou, Hy het ons gered.
Dit is die Here!
Dors vir meer:
Psalm 63 en Openbaring 21.
Gebed
Here, U is my God! U sal ek altyd prys en loof! Dankie vir U redding, liefde en hoop! Dankie vir U versorging elke dag en dat ek kan deel in die heerlikheid wat op my wag. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply