Met hierdie week se dagstukkies leer ons hoe om ons vrese te oorkom deur na God te luister, weerbaar te wees en voorbereid op te tree.
Skrifgedeelte: 2 Kron 13:1-15 Teks wat tref: 2 Kron 13:10
Die skrywer van Kronieke gee die volgende getuienis oor Abia: Hy regeer drie jaar in Jerusalem. Na ʼn uiters suksesvolle oorlog teen Jerobeam neem sy mag toe. Hy het twintig seuns en sestien dogters. Hy word in die familiegraf in die Dawidstad begrawe as ʼn laaste eerbetoon en as aanduiding dat hy reg voor die Here opgetree het.
Abia beroep hom op die Here se belofte dat die koningskap vir altyd aan Dawid se nageslag gegee is. Toe Jerobeam in opstand kom, weerstaan hy direk die koninklike mag van die Here. Vol bravade durf Abia ʼn groot oormag aan en beroep hom op die Here met die geloofleuse in vers 10 – “Ons dien die Here ons God; ons het Hom nie verlaat nie.”
Toe Jerobeam ʼn hinderlaag opstel en hulle van alle kante bedreig, ontstaan daar ʼn hewige geveg waar die Here vir Juda die oorwinning gee. Omdat hulle op die Here vertrou beleef hulle dat hulle die Here self as leier by hulle het.
Abia se sukses is nie sy eie nie maar die gevolg van ʼn lewe wat aan God toegewei is. Hy sorg dat die diens van die Here onderhou word deur gereelde offers en rituele wat deur God beveel is. (v11). Hy het ʼn lewende verhouding met God en gee aan die Here die eer vir sy oorwinning. Moontlik was hy ook beangs oor Jerobeam se groot weermag. Deur geloof aangespoor, begin hy die geveg om God se eer!
Selfs as dit soms lyk dat gevare en die aanslae van die lewe my van alle kante bedreig; wanneer die eise van elke dag soms te veel word; en vir elke hinderlaag waarin ek mag kom, het die Here al klaar die oorwinning verseker. In God se teenwoordigheid vlug enige oormag, hoe groot en sterk ook al. Watter aanslag daar ook al op jou pad mag kom, hoef jy nooit te vrees nie.
Aan die kruis het Christus elke hinderlaag wat ons mag bedreig afgeweer. Maak Abia se woorde ook jou leuse en leef sonder vrees want ons het die Here self altyd by ons as Leier!
Sing: Ps 91:1 (Totius)
Dors vir meer:
Ps 91
Gebed
Dankie dat U ons van alle kante omring en ons altyd na veiligheid bring. Leer ons om te vertrou en elke oomblik in U teenwoordigheid te leef. Amen
Ds Petrus van Blerk
0824560235
GK Rietvallei
Leave a Reply