Category: Uncategorized (Page 1 of 33)

Dagstuk 03 Desember 2021 – Lofsange vir die Kind Jesus – Skrifgedeelte: Lk 2:25-40

Skrifgedeelte: Lk 2:25-40:         Teks wat tref: v33

Lk 2:33  – “Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom (Jesus) gesê is.”

Agt dae na Jesus se geboorte terwyl die engele se lofsange nog in die skaapwagters se ore opklink, vertrek Josef en Maria na Jerusalem om Jesus in gehoorsaamheid aan die wet te laat besny.  Daar ontmoet hulle vir Simeon en Anna by die tempel. Deur die Heilige Gees gelei, deel hulle in die opgewondenheid van Josef en Maria.  Simeon kry die voorreg om die Kindjie in sy arms te neem. Die bejaarde Anna dank God vir die Kindjie en verkondig aan almal dat daar vir Jerusalem verlossing gekom het.  Hiermee kry Josef en Maria die versekering dat die engel Gabriël se woorde waar geword het.

Die belewenis van Simeon en Anna beklemtoon God se liefde vir die mens.  Hulle ervaar eerstehands wat Jesus se verlossing beteken.  God kom tree konkreet in die leefwêreld van die mens in.  Ons verlossing is ʼn realiteit wat nooit ongedaan gemaak kan word nie.  Benewens die vreugde van hierdie Kerstyd word ons herinner aan God se Plan om sy Seun na die wêreld te stuur.  Jesus is nie net die Kindjie wat in doeke toegedraai is en in ʼn krip neergelê is nie.  Jesus se werk op aarde word met Simeon se woorde opgesom: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ʼn val en opstanding van baie in Israel en tot ʼn teken wat weerspreek sal word.”

Christus se geboorte was die begin van sy werk op aarde. Ons kan nooit sy optrede beperk deur net sy geboorte te romantiseer nie. Hy doen oneindig meer. Hy kom red en verlos. Hy word die Koning wat regeer.  Die Satan wil hierdie mag van Christus vir homself opeis. Daarom sê Simeon dat Jesus bestem is tot ʼn val en opstanding van baie.  Nie almal erken sy gesag nie en sal Hom teenstaan.  Die felheid hiervan word beskryf met die swaard wat deur Maria se siel gaan.  Haar Kind groei op om later te sterf sodat ons gered kan word.  Die bejaarde Anna is hieroor in vervoering en verkondig die verlossing deur Christus. 

Deur die Heilige Gees word ons gelei om hieraan deel te hê en om soos Simeon in ʼn persoonlike verhouding met Christus te staan. Mag die geboorte van Jesus jou ook hierdie Feestyd verwonderd laat staan. “Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.” (Lk 2:40)

Dors vir meer:

Ef 1:15-23

Gebed

Here, dankie dat ek mag deel hê aan Jesus se verlossingswerk.  Dankie dat ons ware Feesvreugde mag belewe en uitsien na die dag wanneer ons Koning Jesus weer kom.  Amen

NS – Hierdie is die laaste van die Dagstukkies vir 2021. Mag elkeen die ware vrede van Christus in hierdie Feestyd beleef en uitsien na ʼn opwindende 2022 waar ons Jesus mag volg.

Petrus van Blerk

Sel: 082456023

Dagstuk 01 Desember 2021 – Besing die grootheid van die Here – Skrifgedeelte: Lk 1:39-56

Skrifgedeelte: Lk 1:39-56:         Teks wat tref: v46,47

Lk 1:46,47 – “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.”

Nadat Maria haar tot beskikking van die Here gestel het, vertrek sy haastig na ʼn dorp in die bergstreek van Judea. Daar gaan sy tuis by Sagaria en Elisabet.  Hierdie bejaarde egpaar het ook beleef dat niks vir God onmoontlik is nie. Die engel Gabriel is gestuur om aan hul te verkondig dat daar vir hulle ʼn seun gebore sal word. Elisabet bely dat die Here dit vir haar gedoen het (Lk 1:27) en Maria roep uit dat niks vir God onmoontlik is nie (Lk 1:37). Deur God se genade word  ʼn bejaarde vrou en ʼn maagd bymekaar uitgebring.  In die belewenis van hul swangerskappe hoor ons die vreugde en blydskap vir alles wat God aan hulle gedoen het. 

Net soos Maria word Elisabet ook met die Heilige Gees vervul  toe Maria haar groet en die kind in haar moederskoot beweeg.  Selfs die ongebore baba beleef iets van die groot genade van God.  Die geboorte van Jesus Christus het die ganse wêreld kom verander.  Die belewenis hiervan deur die twee vroue verkondig dat God vreugde bring.  Hierdie blydskap geld ook vir die hele wêreld. God gee aandag aan elke individu en tegelyk ook aan die ganse mensdom.

In die loflied van Maria hoor ons die opgewondenheid van ʼn moeder oor die drome wat sy vir haar Kind koester.  As mens is sy vol vreugde. In haar loflied verkondig sy die ewige werk van God in Christus.  Sy besig God se grootheid, juig oor die Here se liefde en vind troos daarin dat die Here na die mens omsien en ons te hulp kom.  In haar moederhart beleef sy die engel Gabriel se woorde dat uit haar ʼn Seun gebore sal word wat groot sal wees en die Seun van die Allerhoogste genoem sal word.  Lank voor die lofsange van die engele en skaapwagters, is Maria bewus van die goeie tyding van groot blydskap vir die hele wêreld. 

Die treffende beskrywing van God se optrede in Lk 1:50-53 bring groot troos vir ons elkeen. Die Here bewys ontferming aan die wat Hom eer.  Met kragtige dade kom red die Here ons.  Hy verdelg hoogmoediges en verhoog geringes.  Hy kom ons deur sy Heilige Gees te hulp. Hy is Kind wat gebore is sodat ons al God se weldade kan ervaar. 

Na haar verblyf by Elisabet vertrek Maria huiswaarts om gereed te maak vir die geboorte van haar Seun. Haar loflied laat ons ook weer besef hoe kosbaar die geboorte van Christus is.  Hy is ook my Verlosser. 

Dors vir meer:

Lk 2:25-40

Gebed

Here, dankie vir U liefde. Ek juig oor die grootheid van U werke. Dankie dat U my te hulp kom.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 29 November 2021 – Niks is vir God onmoontlik nie – Skrifgedeelte: Lk 1:26-38

Skrifgedeelte: Lk 1:26-38:         Teks wat tref: v37

Lk 1:37 – “Niks is vir God onmoontlik nie”

Alles verloop soos wat God dit beplan.  Die engel Gabriël word na die maagd Maria in Nasaret gestuur.  As verloofde meisie wat na alle waarskynlikheid besig was met die beplanning van haar huwelik met Josef is sy noodwendig verbysterd oor die woorde van die engel. In die gebeure wat voor Jesus se geboorte afspeel leer ons God se liefde en genade ken.  Waar Christus se geboorte die ganse geskiedenis kom verander is die wyse waarop God by die mens betrokke is opvallend.

Lukas laat ons die hart van God sien.  As verloofdes was Josef en Maria baie opgewonde en druk besig met voorbereidings.  ʼn Swangerskap was nie deel hiervan nie.  Altans nie volgens hul beplanning nie.  Die engel Gabriël se woorde is aanvanklik vir Maria onverstaanbaar.  Sy word begroet as begenadigde van die Here. Sy word verseker dat die Here by haar is.  Haar reisplan en beplanning verander meteens nadat sy hoor dat die beloftes van ʼn Verlosser in vervulling gaan.  So iets is nie moontlik nie, want sy het nog nooit omgang met ʼn man gehad nie.  Wanneer die Heilige Gees oor haar kom en die Allerhoogste lewe in haar wek, besef sy dat niks vir God onmoontlik is nie. 

Die aankondiging van Jesus se geboorte laat ons besef dat God elkeen van ons in sy Raadsplan gebruik.  Ons plaas gewoonlik baie klem op die geboorte van Christus met die verhaal van die gebeure by die krip, die wyse manne en die skaapwagters.  Die besondere manier waarop God vir Maria en Josef voorberei en hul omstandighede verander laat ons besef dat God alles wat in my lewe plaasvind beheer en bestuur.  Niks gebeur sonder Hom nie.  Maria word nie aan haar eie lot oorgelaat nie.  Die engel Gabriël berei haar vir alles voor.  Sy ontvang God se genade. Sy hoef nie bang te wees nie.  Selfs die Naam van haar kind en die rol wat Hy vervul word deeglik vir haar uitgestip. Hy sal vir ewig regeer.  Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.  

Wanneer God jou gebruik gee Hy alles wat ons nodig het.  Hy rus ons vir elke taak toe.  Hy plaas my vandag op die plek waar Hy my wil gebruik.  Ek hoef nie alles te verstaan nie.  Maria was verbysterd oor die woorde van Gabriël en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. Toe Gabriël na Elisabet, ʼn bloedvervant van Maria verwys, wat reeds ses maande in hoë ouderdom swanger is, besef sy dat sy nie besig is om te droom nie.  Die Heilige Gees wat oor haar gekom het laat haar bely dat niks vir God onmoontlik is nie. 

Besef vandag dat alles wat  met jou gebeur reeds deur God bepaal is.  Wees tot beskikking van die Here!

Dors vir meer:

Lk 1:46-56

Gebed

Here, dankie dat U my ook in U koninkryk gebruik. Laat alles gebeur wat U gesê het. Ek is tot beskikking van U met my lewe. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 26 November 2021 – Hoe begin die verskillende evangelies? – Johannes – Skriflesing: Johannes 1:1-18.

Skriflesing: Johannes 1:1-18.
Vers wat tref: 1,2 “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God.”

Johannes begin sy evangelie nie by Jesus se geboorte nie. Hy begin nie met ’n geslagsregister wat Jesus binne die geskiedenis van die mensdom en die Jode sou plaas nie – anders as Matteus. Hy begin nie met die verhaal van Johannes die Doper wat in vervulling van die profesieë van Jesaja die wegbereider vir Jesus was nie – anders as Markus. Hy begin nie met ‘n sorgvuldige geskiedenis van die eerste eeu sodat ‘n mens Jesus binne sy eie tyd kan verstaan nie – anders as Lukas.

Nee, Johannes begin met ʼn lied wat waarin Jesus se Godheid besing word.
Vers 1 begin dan by die begin. Dit begin by die ewigheid, nog voor die wêreld se geskiedenis, nog voor die wêreld daar was. “In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was God. Hy was in die begin by God.” (Joh. 1:1-2).

Kersfees het nie begin met ʼn krip in Bethlehem nie. Dit het al begin nog voor daar enige iets was. Jesus Christus is die Woord! Die Een wat aan mense geopenbaar is nie en in wie die ware blye boodskap gekom het nie. Christus was God nog voordat daar enige iets geskape is. Deur God drie-enig is die heelal geskape. God is verhewe bo die skepping. Die Woord het nie geword nie; Hy was daar “in die begin”.

Dink ‘n bietjie hieroor na. Wie is Jesus Christus? Hy is die Woord van God. Hy was van die begin af by God. Hy is God. Hy bestaan van altyd af. Hy is voor alles. Hy sal tot in alle ewigheid God wees.

Dan eers kan ons hierdie groot wonder besef in vers 14: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.
Jesus is die Messias wat die Lig vir die wêreld bring.

Gebed
Ons hemelse Vader. Dankie dat ons in U lig mag leef. Dankie dat U die Lig vir die wêreld vir ons gegee het in Jesus Christus. Stuur ons om soos Johannes die Doper te getuig van die Lig! Amen.

Dors vir meer:
Efesiërs 1:1-14.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 24 November 2021 – Hoe begin die verskillende evangelies? – Markus. – Skriflesing: Markus 1:1-8

Skriflesing: Markus 1:1-8
Fokusverse 1:1,2. Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:
In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe:
“Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit.
Hy sal die pad vir jou regmaak.”

Markus begin die boek deur dit duidelik te stel dat dit handel oor die evangelie van Jesus Christus. Die wonderlike en goeie nuus dat Jesus die Messias is, die enigste verlosser vir die mensdom.
Wat beteken dit vir jou dat Jesus Christus, die Seun van God is?

Net soos Matteus begin hy om aan te haal vanuit die Ou Testament om aan te dui dat Jesus Christus se koms nie toeval is nie, maar deel uitmaak van die Here se raadsplan. Die Here beskik en hou al Sy beloftes

In die profesie van Jesaja is daar voorspel dat daar eers ʼn boodskapper gestuur gaan word om die Messias se koms aan te kondig- om die pad reg te maak en voor te berei. In die Ou Ooste was dit die gebruik dat die koning eers ʼn boodskapper stuur om sy koms aan te kondig.

Duidelik word daar aangedui dat Johannes die Doper die een is wat die pad voorberei. Johannes die Doper het in die woestyn opgetree en dra klere van kameelhaar- hy dra die klere van ʼn profeet, en tree op as ʼn tweede Elia.
Hy het verkondig: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.” Bekering is die boodskap wat die profete keer op keer aan die volk gebring het. Nie net moet jy afstand doen van jou sonde nie, maar ook ʼn lewe van totale toewyding aan die Here leef. Daar moet verandering kom in jou verhouding met God. Daarom het persone na Johannes gekom en hulleself bereid verklaar om ʼn nuwe, toegewyde lewe aan God te leef. Hierdie openbare belydenis is gevolg deur die doop, maar moes ook in daad uitgeleef word.

Die volgende hoogtepunt van Johannes se prediking is die nabye koms van die verwagte Messias. Die belangrikste gebeurtenis en die belangrikste Persoon is oppad! Johannes ag homself nie eers waardig om die kleinste slawetaak te doen nie – om af te buk en Jesus se skoenriem los te maak. Die verskil tussen JOhannes en Christus is enorm groot.

Johannes doop met water, maar die Seun van God met die Heilige Gees. In Joël 2:28 is reeds die verwagting dat die MEssias nie net die draer is van die Heilige Gees nie, maar ook die Gees aan ander kan gee.

So wys Markus vir ons duidelik dat die koms en lewe van Jesus Christus die grootste gebeurtenis is in die wereld se geskiedenis.

Gebed
Ons hemelse Vader. Dankie dat U aan ons die Goeie Nuus gee in Jesus Christus. Dankie dat ons nie net dit hoor nie, maar dat U Heilige Gees in ons woon en ons deel in die verlossing. Lei ons om in volle oorgawe tot U te leef! Amen.

Dors vir meer:
Jesaja 40:1-11

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

Dagstuk 22 November 2021 – Hoe begin die verskillende evangelies? – Matteus – Skriflesing: Matteus 1:1-17.

Skriflesing: Matteus 1:1-17.
Vers wat tref: 1 “Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham: … ”

Hierdie week kyk ons hoe die verskillende skrywers van die vier Evangelies, hulle boodskappe verskillend begin. Hoekom begin elkeen die Goeie Nuus van Jesus Christus so verskillend?
Vandag kyk ons na die Evangelie volgens Matteus.
Matteus begin met die geslagsregister vanaf Abraham tot en met Jesus Christus. Baie keer wil ons sommer net so verby ʼn geslagsregister lees. Dit mag dalk lyk soos ʼn vervelige lys van name.
Matteus rig die evangelie boodskap hoofsaaklik aan Jode. Daarom wys hy met hierdie vetrekpunt vir die Jode aan maar Jesus Christus is die vervulling van die beloftes wat die Here in die Ou Testament gemaak het.
Die beloftes veral aan Abraham en aan Dawid is vervul in die geboorte van Jesus Christus.

Maar Matteus probeer nie die geslagregister van Jesus Christus goed laat lyk nie. Dit sien ons veral in die name van die vyf vroue in die geslagsgister, vroue wat gewoonlik nie genoem is in ʼn geslagslyn nie. Ragab was ʼn prostituut, Rut ʼn Moabiet, Salomo se moeder was eers die vrou van Urija wat Dawid laat vermoor het. Ook in die manlike lyn sien ons dat die Here sondaars gebruik het om Sy belofte te vervul dat Jesus Christus gebore word.
Die Here roep en bring sondaars en uitlanders en maak hul deel van volk wat Hy uitgekies het.

In hierdie lys name gee die Here aan ons troos. Alle mense is sondaars en het ʼn Verlosser nodig. Die Here het al sy beloftes vervul en gee vir ons Jesus Christus, die Verlosser!

Gebed
Here, dankie dat U betroubaar is en al U beloftes vervul. Dankie vir die volkome verlossing in U Seun Jesus Christus. Gebruik my ook in die uitbouing van U koninkryk. Amen.

Dors vir meer:
Lukas 3:23-28

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvalle

Dagstuk 19 November 2021 – Verhale oor Kersfees (3/3) – Skrifgedeelte: Mt 1:18-25 

Skrifgedeelte: Mt 1:18-25        Teks wat tref: v21,23

Mt 1:21  – “Sy sal ʼn Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem……. ”

Met die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus in Mt 1:18-25 is God nogeens besig om die mens op te soek.  In Gen 3 verneem Hy waar die mens is nadat hulle gesondig het. In Jesaja 9 leef die volk in duisternis totdat die Here hul verlos. In Mt 1 stuur God ʼn engel om Josef se voorneme om die verlowing met Maria stilweg te verbreek, onsuksesvol te maak.  Weereens kom soek God die mens op om sy Plan uit te voer 

Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet in Jesaja 7:14 gesê het, vervul sou word: “Die maagd sal swanger word en ʼn Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. Ook dit is ʼn bewys dat God die mens kom opsoek. Inderdaad begin die verhaal van Christus se geboorte al in die Ou Testament. 

Alles verloop soos wat God dit beplan. In die uitvoering daarvan gebruik God mense wat Hy kom soek. Toe Maria nog aan Josef verloof was, blyk dit dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het.  Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom.  Aanvanklik het Josef nie verstaan wat gebeur het nie.  Daarom wil hy die verlowing verbreek.  Dit is duidelik dat God sy Plan sal deurvoer.  Baie dinge gebeur ver bo ons begrip.  God soek die mens op en stuur ʼn engel met die opdrag dat Josef en Maria trou.  Sonder dat Hy met Maria omgang het word Jesus uit die huwelik gebore.  En Josef het Hom Jesus genoem. 

Die maagdelike geboorte van Jesus bly een van God se grootste wonders.  Die beloftes van die Ou Testament gaan in vervulling.  By die absolute verwondering hieroor, word ons ook verseker dat God my ook kom soek. Jesus word Immanuel genoem. Die naam beteken God by ons.  Die geboorte van Christus is die grootste bewys van God se liefde.  In Christus het Hy ons kom soek en ontvang ons die genade om deel te hê aan die verlossingswerk van ons Here. 

God maak met sy kinders bemoeienis.  Ek is instrument in God se hand en ek moet daarna streef om gehoorsaam en diensbaar te wees.  God gebruik die jong egpaar Josef en Maria om uitvoering aan sy Beloftes te gee.  Wees gereed om na God se opdragte te luister. 

Dors vir meer:

Mt 2:19-23

Gebed

Vader, dankie dat my oortredinge vergewe is.  Dankie dat U by ons is. Leer my om diensbaar in U koninkryk te wees.  Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 17 November 2021 – Verhale oor Kersfees (2/3) – Skrifgedeelte: Jesaja 9:1-6  

Skrifgedeelte: Jesaja 9:1-6      Teks wat tref: v5

Jesaja 9:5 – “Vir ons is ʼn Seun gebore, aan ons is ʼn Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”

Die verhaal van Kersfees loop soos ʼn goue draad deur die Ou Testament wanneer God in Jesaja 9 die donkerte verdryf met die verskyning van ʼn groot lig.  Net soos in Genesis 3 is die Here besig om die mens op te soek.  Die duisternis waarin die volk hulself bevind, was die gevolg van hulle ongehoorsaamheid.  Hul verhouding met God het nie meer bestaan nie.  Die feit dat hul nie meer ʼn nasie was nie beskryf die verbrokkeling. Omstandighede waarin ek myself mag bevind veroorsaak dat ek voel dat ek nêrens behoort nie en dat niemand vir my omgee nie. 

Dit is nie sonder rede dat daar vir Christus met sy geboorte nie plek in die wêreld was nie.  Met Jesus se geboorte word die vervulling van die profesie in Jesaja 9 waar.  Dit is oor die geboorte van hierdie Seun dat die engele in Lukas 2 in sangstem uitbreek om met soortgelyke woorde as in Jesaja 9 lof te betoon. 

Die profeet Jesaja beskryf die sigbare tekens wat teenwoordig is. Daar is blydskap oor die groot oes wat gewag het en daar is ongekende vreugde oor die buit wat verdeel word.  Hierdie beelde beskryf voorspoed en oorwinning en word dikwels gebruik wanneer God ingryp en sy liefde vir sy volk bevestig.  Teenoor die verslae en gebroke harte waarmee ons in die duisternis voortploeter verlig God die swaar juk wat ek moet dra en breek Hy die stok waarmee ek geslaan word. 

Daarby word die Here se heerskappy uitgebrei en bring Hy vir altyd vrede en voorspoed.  Uit die nageslag van Dawid word die Messias gebore.  Die Here die Almagtige se onverdeelde trou sorg dat daar ʼn Verlosser kom.  Die koms van hierdie Verlosser is reeds in Genesis 3 verkondig.  Christus kom om te heers.  Dit beteken dat die mag van die Satan volkome verbreek is.

Hierdie Seun word Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors genoem.  Met elk van die Name word iets van die Verlosser se werk en karaktereienskappe beskryf. As Raadsman staan Christus gereed om die Plan van sy Vader uit te voer.  Daar is niks buite God se beheer nie. Met sy verbondenheid aan sy Vader voer Christus God se besluite uit.  Soos ‘n vader sien Hy om na die belange van al God se kinders.  As Vredevors herstel Hy die gebroke verhouding tussen God en ons.  Daarom sing die engele met Jesus se geboorte – “Vrede op aarde!”

Dors vir meer:

Jesaja 11:1-10

Gebed

Here, dankie dat U die duisternis om my verdryf sodat ek vry kan wees om in U lig te wandel. Dankie dat U my swaar juk verlig. Leer my om U elke dag te loof. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 15 November 2021 – Verhale oor Kersfees (1/3) – Skrifgedeelte: Gen 3:1-19 

Skrifgedeelte: Gen 3:1-19         Teks wat tref: v9

Gen 3:9 – “Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: Waar is jy?”

Die verhaal van Kersfees begin reeds in Genesis 3 met die slang wat listiger is as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is.  Nogal in skrille kontras met die prentjie van Josef en Maria wat hul kindjie in doeke toedraai en in ʼn krip neerlê waarvan ons in Lukas 2 lees en op elke Kersfeeskaartjie sien. Tog berei die vrae, twyfel, verraad, onmin, ongehoorsaamheid en teleurstelling die weg voor vir die heerlikste boodskap in die mensdom se ganse bestaan. 

Die skeppingsverhaal in Genesis vertel van orde. Alles het grense.  Daar is vastigheid. Daar heers harmonie. Daar bestaan absolute vrede en vreugde. God is in beheer totdat die slang op die voorgrond tree en alles versteur. Skielik is alles verlore. Die bestaande skeppingsorde wat God vasgestel het word verbreek.  Die mens se kwesbaarheid en gevalle toestand laat hom kaal.  Hy word van sy bestaan in die paradys gestroop. Hierdie ongehoorsaamheid laat die mens swaarkry.

Dan volg die verhaal van God wat die mens kom opsoek: “Waar is jy?”  God doen dan  die onverklaarbare. Hy soek die mens in liefde op. Hy kom nie met vernietigende verwyte nie, maar met soekende liefde. Met deernis roep Hy na die mens. God hou nooit op om sy kinders te soek nie.  Deur al die eeue heen het Hy steeds na die mens geroep totdat Hy sy Seun na die aarde stuur om die ongehoorsaamheid met sy kruisdood weg te neem.

So word Christus se geboorte die vervulling van die Here se belofte in Gen 3:15 dat Hy uit die nageslag van die vrou iemand sal stuur wat die slang se kop sal vermorsel. Teenoor die slang wat God se orde probeer vernietig lees ons in Luk 2:9 van ʼn engel van die Here wat meteens tussen die skaapwagters kom staan en die boodskap van die geboorte van die Verlosser aankondig. Die engel bring ʼn goeie tyding van groot blydskap!

My omstandighede mag soms veroorsaak dat ek vandag vasgevang is deur gebeure wat my naak en weerloos laat.  Die swaarkry van elke dag se bestaan en stryd om oorlewing vanweë verskillende gebeure bring pyn en seerkry.  Toe Adam en Eva geen hoop meer gehad het nie, hoor hulle God se stem: “Waar is jy?”

Met Christus se geboorte word God se liefde vir my beklemtoon.  Dit is die grootste bewys van God se onbeskryflike genade.  God verseker my dat ek nooit alleen is nie. 

Dors vir meer:

Lk 2:8-20

Gebed

Here, dankie dat U my kom soek. Dankie dat U my teen die aanslae van die wêreld bewaar.  Dankie dat U my elke dag beskerm. Amen

Petrus van Blerk

Sel: 0824560235

Dagstuk 12 November 2021 – Met watter gesindheid gee jy? (3/3) – Skriflesing: Maleagi 3:6-12

Skriflesing: Maleagi 3:6-12
Vers wat tref: 7. “Van julle voorvaders se tyd af het julle van my voorskrifte afgewyk en nie daarvolgens geleef nie.
Bekeer julle tot My, dan sal Ek terugkom na julle toe, sê die Here die Almagtige.
Maar julle vra: “Waarom moet ons ons bekeer?”

Maleagi 3 begin met die koms van die Verbondsengel, Jesus Christus wat kom om te suiwer en te regspraak te gee.
Die Here gee die wonderlike troos dat Hy altyd dieselfde is. Die Here het nie verander nie en dit is wat die volk van ondergang red. Hoe sou ons die Here kon vertrou en tot Hom bid indien ons nie kon reken op wie Hy is nie?

Die Here hoef nie te verander nie, maar ons moet verander. Nie net verander soos ons wil nie, maar bekeer tot die Here.
Wat is ons reaksie op die oproep tot bekering? Vra ons nie te dikwels: “Waarom moet ons bekeer?”
Kom ons vra eerder opnuut vir die Here: Waar moet ek bekeer in my lewe?
Dit is dan ook hierdie vraag wat ons moet vra voor ons Sondag saam Nagmaal vier.

Een van die plekke waar die Jode moes bekeer, is dat hul nie vir die Here hul tiendes gegee het nie en daarom was daar nie genoeg vir die Leviete om te eet nie. Een kommentaar beskryf dat hul die allerminste vir die Allerhoogste gee.

Kom ons besef weer die prys wat vir ons redding betaal is. 1 Korintiërs 6:19-20 “Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.”

Ons moenie selfsugtig vir ons self leef nie. Deur Christus se bloed is ons duurgekoop sodat ons vir die Here en vir ons naaste kan lewe.
Verheerlik die Here met jou liggaam en met alles wat jy besit.

Gebed
Here, lei om om te verander en myself te bekeer na U toe Here. Help my om te besef hoe duur is die prys wat vir my betaal is en dat ek nie aan myself behoort nie, maar dat die Heilige Gees in my woon. Amen.

Dors vir meer:
1 Korintiërs 6:12-20.

Danie Potgieter
0722729631
GK Rietvallei

« Older posts