Skriflesing: Jesaja 27
Vers wat Tref: 27:8
“Die Here het sy volk gestraf
deur hulle te verjaag en weg te dryf.
Met ‘n sterk wind het Hy hulle weggewaai ooste toe.”

Jy kan nie Jesaja lees sonder om onder die besef te kom nie dat dit God is wat die volk straf. Dit is Hy wat hulle verjaag en wegdryf deur ander volke te gebruik om hulle in ballingskap weg te voer en hulle stede te vernietig. Telkens deur die Ou Testament het die Here die volk gewaarsku om Sy bevele te gehoorsaam en nie weg te draai vanaf Hom en hul hulp by ander gode te soek nie. Reeds in Hoofstuk 1 was dit vir ons duidelik die oproep van die Here, nie ʼn wettiese nakom van godsdiens nie (die tempel en offers was besig) maar ʼn bekering van die hart, ʼn ingestelheid heeltemal gerig op die Here.
Is die Here vandag nog besig om ons te tug en te straf? Christus se verlossing het vir ons die volkome vergiffenis van ons sonde gebring. Die Heilige Gees het ons kinders van die Here gemaak (Romeine 8).
Is hierdie oproep vir ons dan nog steeds vandag? Leef ons nie onder die Evangelie nie?
Hebreërs 12 gee vir ons mooi die antwoord vir Jesaja 27 vir vandag.
Watter pa sal nie sy kind tug nie? Tugtiging is nooit lekker nie, self pynlik, nogtans lewer dit ʼn groot impak en vrug later in jou lewe.

In Jesaja lees ons op soveel plekke van die straf en vernietiging van die nasies. Die Here se straf oor hulle is met die uitsluitlike doel- hulle gaan vernietig word (sien ook Romeine 9:22).
Israel en die volke het gesondig deur hulle tot afgode te wend vir veiligheid en voorspoed. God straf en vernietig, maar in die geval van Israel bring Hy dit sodat daar nie net verset en vernietiging is nie, maar bekering en bevestiging. Daar moet terugkeer en berou plaasvind.

Sommige mense wil nooit ʼn gebeurtenis as straf en tugtiging vanaf die Here sien nie. Ja, elke droogte en pandemie en oorlog is nie altyd direkte straf vanaf die Here teenoor jou nie. Maar elke gebeurtenis, elke beproewing, gebruik die Here tot jou beswil en om jou nader aan Hom te bring.
Christus het aan die kruis vir ons God se toorn gedra en het ons bevry van die sonde. Maar God wil ons nog steeds as sy kinders dissiplineer.
Kan Hy net toesien hoe ons nogtans volhard in die sonde, nie volkome op Hom vertrou en ons redding op ander plekke soek nie? God se straf en tugtiging is nie vir ons ʼn betaling op ons sondes nie- dit alleen het Christus vir ons betaal- maar dit is die manier wat die Here die sonde in ons lewens ontbloot. Die Heilige Gees wys vir ons in tye van nood waar staan ons met ons verhouding met die Here en met ander.

Die Here se genade bly vir ons groot! As ons bekeer, ons vrede by die Here kom soek en met Hom vrede maak (vers 5) sal ons beleef hoe die Here ons weer laat groei in ons geloof.
Laat hierdie gebeurtenisse van die Covid-19 ons opnuut weer selfondersoek laat doen: Waar lê ons vertroue werklik? Watter deel van my lewe wil die Here nie vir my ontbloot sodat ek die afgodsaltare kan afbreek nie? Waar moet ek nog tot bekering kom en die ware aanbidding weer in my lewe herstel?

Bely opnuut weer jou sondes, keer terug na die Here! Lewe in Sy Lig!

Dors vir meer:
Psalm 94 en Hebreërs 12:4-12.

Gebed
Here my Here! Voed my en onderrig my in U Woord. Dankie vir die rus wat U vir my gee. Ek bely my sondeskuld voor U, lei my terug na U in alle dele van my lewe. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.