Jesaja 28:23-29

Teks wat tref:  Jesaja 28:29

Ook dit is iets wat van die Here die Almagtige af kom; kennis wat van Hom kom, is wonderbaar

en laat alles voorspoedig verloop.

Wysheid is iets wat ons almal nodig het. Veral in tye van swaarkry en beproewings en uitdagings het ons wysheid nodig. Wysheid is meer as om net antwoorde en oplossings te kry. Wysheid is om te weet hoe om hierdie inligting aan te wend – twee persone kan na dieselfde saak kyk en dieselfde data en inligting hê, maar beide gaan nie noodwendig die regte antwoord daaruit kry nie.

So kort ons wysheid vanaf die Here om ook na ons huidige omstandighede te kyk.

In hoofstuk 28 lees ons hoe die godsdiensleiers nie na Jesaja wou luister nie- hulle beleef sy uitsprake as brabbel taal.   Jesaja bring dan weer die boodskap van vernietiging oor die land.  Die volk en leiers wil hulle nie daaraan steur nie- ons het mos die Here aan ons kant, die doderyk sal ons nie kan raak nie.  Die Here gaan ʼn Rots neersit, ʼn Fondament, (vers 16) en slegs wie op God vertrou (deur die werk van Jesus Christus) sal gered word en hulle hoef nie te vrees nie.

Die volk wil nie nogtans nie luister na Jesaja nie.  Nou gebruik hy ʼn baie bekende beeld van ʼn boer wat weet wanneer om te plant en hoe om te oes. Waar kom hierdie kennis vandaan?

Die Here gee kennis en wysheid.  Hy bepaal die natuur en die skepping en die wette hoe om te bewerk en te vermeerder. So is alle kennis en wysheid vanaf die Here- die kennis om te werk en besighede te bestuur en om die ekonomie te versterk.

Maar net so is die belangrikste kennis wat ons nodig het ook vanaf die Here- die kennis oor die Here self.  Die kennis wat ons kry in sy Woord en wat dit werk deur Sy Gees.

God “boer” met wysheid in ons lewens.

Die Here voorsien nie net kennis nie, Hy is vir ons die beste voorbeeld van ʼn boer wat weet hoe om te plant en te oes en elke saad anders te dors.- Hy plant en bewerk elkeen van ons se lewens anders.

Party van ons moet hard getrap word op die dorsvloer soos Paulus wat geroep is op weg na Damaskus om die saad los te kry vanaf die kaf. In ander van ons se lewens is die Here besig om grond reg te maak om te plant.  Ander is weer in ʼn groeifase waar daar natgemaak word.  In ander is die Here besig om te oes en te dors.  So werk die Here verskillend in ons lewens soos wat ʼn boer verskillend werk met komyn en graan. 

Hy weet wat elkeen van ons nodig het en hoe lank dit nodig is.

Voor ʼn boer plant moet daar geploeg word- die grond moet oopgebreek word, maar ʼn boer sal nie vir altyd aanhou ploeg en ʼn oes verwag nie, daar moet ook geplant word.

So is die Here ook besig om in van ons se lewens grond oop te breek, om te dolwe- maar Hy sal ophou wanneer die grond reg is.  Moet daarom die werking van die Here nie teenstaan wanneer Hy met ons werk nie.

So werk die Here met die beste wysheid en kundigheid in elkeen van ons se lewens. 

As ons twyfel oor die swaarkry in ons lewens- die beproewings wat ons moet deurmaak.  Dink aan Christus wat gesterf het aan die kruis, sodat die oes groot kan wees,  dan sal daar vrede in ons hart kom.

Sien raak dat die Here met ons werk sodat Hy ons kan kom oes as koringkorrels van die skuur van die ewige lewe en nie as vuilgoed wat in die helse vuur gewerp gaan word nie.

Lewe met die wysheid van die Here, sien dit in alles raak.  Maar besef die grootste wysheid is dat Jesus Christus vir ons kom sterf het . Want Christus is die hoeksteen op wie ons lewens onwrikbaar vasstaan.  Wie op Hom vertrou hoef nie te vlug nie.

Dors vir meer:

Romeine 9:30-10:4 en 1 Korintiërs 15:35-58.

Gebed

Here dankie dat ons altyd op U kan vertrou.  Skenk ons die wysheid om vandag ook te beste te hanteer.  Dankie dat ons die wysheid van U Woord kan hoor en verstaan.  Werk met ons volgens U wil. Amen.

Ds Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.