Jesaja 30:8-18

Teks wat tref:  Jesaja 30:15

So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê:

As julle julle bekeer en tot rus kom,

sal julle gered word.

Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.

Vertrou op jouself en gaan ten gronde- Vertrou op God en leef!  Oor en oor bring Jesaja dieselfde boodskap.  Julle vertroue is nie op die Here nie.  Julle wil op ander lande vertrou.  Julle wil op vinnige perde vertrou en vinnig wegjaag as die moeilikheid te veel is. Julle vertrou op geweld en bedrog. Oor en oor bring Jesaja die boodskap want die Here se lankmoedigheid met sy volk is verstommend.  Hoekom sal die volk nie die Here vertrou?  Hoe blind is ons nie deur ons sondes en begeertes nie. (Sien ook Jesaja 29)

In hierdie gedeelte stuur die Here nogmaals vir Jesaja na Juda, nie net om die boodskap te preek nie, maar om dit op skrif te stel, dit sal altyd teen hulle getuig.  Hulle het die boodskap gehoor, daar is nie verskonings nie.  Duidelik maak die Here dit uit, die Heilige van Israel het hulle gewaarsku.   Gaan voort soos julle nou voortgaan en hierdie muur gaan inmekaar tuimel en julle vernietig, daar gaan niks van jul oor wees nie.

Maar weereens is die Here genadig.  Die Heilige van Israel se boodskap is: Kom tot rus, bekeer julle!  Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.

Word stil voor God en voel veilig.  Is dit nie wat ons ook nou opnuut moet doen nie?  Ons moet stil word en tot rus kom.  Ja, bekeer en ons vertroue op God stel.

Dit is tipies van die mens om ongeduldig te word. Jy is nie bereid om te wag nie.  Hoe het ons gevoel nadat daar nog steeds nie oorgegaan is nie vlak 3 van Inperking nie?

Het ons verleer om stil te word voor die Here?  Kan ons nog op die Here wag?  Die grootste les wat die Inperking vir ons leer is dat ons nie die toekoms kan sien nie en dat ons kan breek met die wêreldse manier van dinge doen en leef.  Ons kan werlik tot stilstand kom en stil word voor God.

Stel opnuut jou vertroue op die Here, wag vir die Here om dinge in jou lewe reg te maak op sy tyd.  Hoekom? Omdat ons sekerheid van ons verlossing in Christus het, moet ons leer om stil te wees en om op God se tyd te wag.  Hy gee ons die ware rus deurdat ons volkome verlos is van al ons sonde.

Sy beloftes staan vas, Hy is gretig om ons genadig te wees en Hom oor ons te ontferm.  Ons krag is nie in self nie- maar dat ons op die Here kan wag.

Dors vir meer:

Psalm 27 (kyk vers 14 in verskillende vertalings) en Jesaja 40:26-31

Gebed

Here die Heilige. Dankie dat ons op U kan wag en stil word voor U.  Leer my om te onderskei die dinge wat ek vandag moet verander en kan verander en die dinge wat ek alleen in U hande kan plaas.  Laat U wil geskied. Amen.

Ds Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.