Met hierdie week se dagstukkies leer ons om aan God gehoorsaam te wees en ʼn verskil te maak.

Skrifgedeelte: 1 Sam 25:1-10 en 23-29 Teks wat tref: 1 Sam 25: 26

Terwyl Dawid vir Saul vlug ervaar hy hulp maar ook teenstand van mense. In Karmel ontmoet hy vir Nabal en Abigajil en leer ‘n baie groot lewensles. Nabal, die onbeskofte korrelkop weier om kos te voorsien ten spyte daarvan dat hy die guns en beskerming van Dawid geniet. Deur die bemiddeling van die beeldskone en wyse Abigajil weerhou God vir Dawid van kwaad.

Abigajil beteken – “my vader se vreugde”. In haar ontmoeting met Dawid wys sy waarom sy hierdie naam het:

Sy groet Dawid op ‘n eerbiedwaardige wyse. Sy openbaar insig in haar man se dwaasheid. Sy voorsien in die manskappe se behoefte vir voedsel. Sy weerhou Dawid daarvan om wraak te neem deur Nabal dood te maak en so God se gebooie te oortree.

So spreek God deur Abigajil om te verseker dat Sy raadsplan uitgevoer word. Abigajil ontvang skoonheid, wysheid en insig om ʼn verskil te maak sodat Dawid later as koning aangestel word om God se oorloë te voer en geen rampe hom van koers sal bring nie. (v28,29)

So gebruik God elke dag mense om sy plan uit te voer. As jy skoonheid, wysheid, insig en enige ander gawe ontvang, moet jy dit elke oomblik aanwend om God te verheerlik. Soms gaan dit vra dat jy ook teenoor mense wat naby jou is, moet optree. Abigajil se huwelik met Nabal kon haar seker van baie vreugde beroof. Met haar optrede leer ons dat ek altyd aan God gehoorsaam moet wees. Daar is daagliks mense soos Nabal op ons pad. Talle keer sal mense se reaksie en optrede ons ook teleurstel.

Juis dan moet ons leer dat dit belangriker is om God te verheerlik as om aan die grille en dwaasheid van mense gehoor te gee. Christus bly tot die dood aan sy Vader gehoorsaam en gee aan ons lewe tot in ewigheid.

Mag jou optrede en bemiddeling help dat ander raaksien hoe God jou regsaak behartig!

Dors vir meer:
Gen 12:1-9

Gebed
Here, leer my om gehoorsaam aan U te wees en ʼn verskil te maak met die gawes wat U aan my gee. Dankie dat U my gedagtes rig deur U Heilige Gees. Amen

Ds Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235