Met hierdie week se dagstukkies leer ons om aan God gehoorsaam te wees en ʼn verskil te maak.
Skrifgedeelte: Ester 4:1-17 Teks wat tref: Ester 4:14
Wie weet wat die dag van more vir ons inhou? Skaars twee maande gelede sou ek bevorder word tot ʼn hoër posvlak. Moontlik verhuis het. Lid word van die eerste span by my skool. In die huwelik tree. Met vakansie vertrek…………………..Totdat alles drasties en ingrypend verander.
Koning Ahasveros geniet ongekende mag en rykdom. Hy spog 180 dae lank met al die prag en praal van sy koninkryk en onthaal almal ʼn week lank in sy paleistuin. (Ester 1:4,5) Ten spyte hiervan weier koningin Vasti, wat beeldskoon was, dat hy haar aan almal vertoon. In sy woede word sy vervang met ʼn ander ewe mooi meisie. Ester verskyn op die toneel en word deur God se beskikking koningin.
ʼn Posisie wat sy later gebruik om die ganse Joodse bevolking van daardie tyd te red. As weeskind word sy onder die sorg van haar oom Mordegai geplaas. Hy waarsku die koning deur bemiddeling van Ester van ʼn sameswering om hom te vermoor. Tot dusver is beide Mordegai en Ester deur die Here in posisies geplaas sodat hulle later diensbaar kan wees.
Dan verskyn Haman op die toneel en word hy bevorder tot ʼn posisie oor al die koning se amptenare Hy maak onder valse voorwendsels ʼn voorstel om nog meer in die guns van die koning te kom. Hiervolgens sou al die Jode doodgemaak word. Ook Ester, want sy was uit die geslag van die ballinge (Jode) wat deur Nebukadneser weggevoer is.
Te midde hiervan pleit Mordegai by Ester om die koning te versoek om die Jode te spaar. “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ʼn tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” Ester sou baie moes waag maar word deur God in ʼn posisie geplaas om die Jode te red.
Sy raak ook bewus van ʼn verdere posisie waarin die Here ons deur Christus se genade plaas. Ons het die voorreg om te bid. Die koning gee gehoor aan Ester se versoek en die volk word nie uitgemoor nie.
Dit is deur God beskik dat jy in die posisie is waar jy jou nou bevind. Gebruik dit om ʼn verskil te maak!
Dors vir meer:
Jona 1:1-17
Gebed
Here, baie dankie vir alles wat ek van U ontvang. Help my om te begryp waarom ek op hierdie oomblik en in hierdie omstandighede op die plek en posisie is waar ek my nou bevind. Gebruik my in u diens. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply