Met hierdie week se dagstukkies leer ons om aan God gehoorsaam te wees en ʼn verskil te maak.

Skrifgedeelte:  Jh 6: 1-15             Teks wat tref: Jh 6:9

Dit kan maklik gebeur dat ons soms so vasgevang raak met die dinge waarmee ons besig is, dat daar maklik iets agterweë bly.  In hoofstuk 5 vertel Johannes van die talle wondertekens wat Jesus gedoen het. Dit het tot gevolg dat ʼn groot skare mense agter Hom aangekom het om nog meer te sien. 

Alhoewel Jesus uitgeput moes gewees het na al die wondertekens en die skares wat net nog meer wil hê, is dit juis Hy wat besef dat iemand hulle van ‘n maaltyd moes voorsien.  In die daaropvolgende gebeure leer Jesus ons om dit wat tot ons beskikking is te gebruik.  Hy sal voorsien en wonders laat plaasvind. 

Ons is so gewoond om te fokus op die dinge wat ons nie het nie, dat ons gou vergeet van die baie wat ons wel uit die hand van die Here ontvang het. Filippus is dadelik gereed met verskonings en menslike berekeninge.  Volgens hom is dit ‘nie moontlik om soveel kos te koop nie. Twee honderd mense se dagloon sou nie eens genoeg wees nie.  Andreas maak boonop ook nog die opmerking dat dit ʼn hopelose situasie.  Al het Jesus soveel wonders in hulle teenwoordigheid gedoen, het hul steeds nie in Hom geglo en op Hom vertrou nie. 

Hierna leer Jesus die dissipels om te gebruik wat jy het. Met dit wat die seuntjie beskikbaar gehad het, sal Jesus nou voorsien.  Jesus neem beheer oor. Hy gee opdrag dat die mense moet gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. Met die vyf brode en die twee visse van die seuntjie word almal gevoed. Volgens Joodse gebruik word die kos wat oor is bymekaar gemaak. Daar is meer oor as waarmee aanvanklik begin is. 

Jesus wil die dissipels nog meer leer. Voordat die wonder plaasvind, het Hy God daarvoor gedank – God is die Gewer van alles wat ek het.  Vir hulle is Hy die Profeet wat na die wêreld moes kom. Hulle wou Hom dadelik koning maak want Hy sou in elke moontlike behoefte kon voorsien. Hulle begryp nie dat Hy gekom het om sy Vader se opdragte uit te voer nie.  Daarom gaan Jesus die berg op. Hy alleen, om later na nog ʼn wonder waar Hy op die see loop, vir hulle te wys dat Hy gekom het om die ewige lewe te gee.

Dors vir meer:

1 Kon 17:1-16

Gebed

Here, baie dankie dat U in my daaglikse behoeftes voorsien.  Dankie vir elke gawe wat ek uit U hand ontvang. Leer my om raak te sien dat alles vir U moontlik is en dat ek volkome op U kan vertrou. Maak my diensbaar in U Koninkryk. Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235