Author: Karen de Lange (Page 27 of 33)

Dagstuk 18 Junie 2020 – Net om U wil te doen – met voetstappe wat die goeie boodskap bring

Skriflesing: Romeine 10:5-15                     Teks wat tref: 11 en 15  

Paulus kan steeds nie ophou om oor ons vryspraak in Christus te praat nie.  Die feit dat Christus my gered het en van die dood bevry het moet so lewend in my optrede wees dat dit al is waaroor ek eintlik kan en wil praat.  Dit is meer as ʼn teologiese gesprek oor waar ek vir Christus sal vind. CHRISTUS het my GEVIND en beheers nou my hele lewe. “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” (v8)

Dit is wonderlik om te weet dat God elke dag besig is om my te ontmoet. In elke ding wat met my gebeur, bewys God dat Hy my liefhet en Hom met my bemoei. Hierdie bemoeienis word pragtig in Rm 10 verwoord.  Hy bewerkstellig ‘n intieme liefdesverhouding met ons. Hy bevestig en bestendig sy verbond. Hy is altyd vir ons beskikbaar.  Hy is elke oomblik op ons pad. Ek is nêrens sonder God nie.  In die hemel en op aarde is Hy by my. Die grootste bewys daarvan het Christus aan die kruis bewys deur vir my te sterwe.

“Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie en elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”

Daarom onderneem ons om God elke dag saam op ons pad te neem. Op grond hiervan word ek opgeroep om net God se wil te doen. My hele lewe en bestaan is in God se diens. Maar omdat ons geneig is om so maklik ons eie koers in te slaan en te besig is vir oomblikke om stil te word voor God, stuur Hy verkondigers van sy Boodskap. 

Deur sy  Woord en Gees verskyn God elke dag op ons pad. Dit is ‘n pad wat  waarvan die eindbestemming seker is. Dit lei na die ewige lewe. Nou gee die Here ‘n opdrag – Laat julle voetstappe God se goeie boodskap bring!   Maak erns daarmee om die Here gereeld te ontmoet.

Gaan soek geleenthede waar jou voetstappe kan klink. Ons huidige omstandighede bied talle geleenthede: voorbidding, geestelike en morele ondersteuning wat soms net ʼn oproep of Whatsapp ver is, voorbeeld vir my gesin wees, ondersteuning aan hulpverleningsinstansies en nog talle meer.

God se hande is deur Christus om ons.  In antwoord daarop verwag Hy ons voetstappe op sy pad!

Dors vir meer:

Ps 91

Gebed

Here, rig my voetstappe en laat my in pas kom om net U wil te doen. Dankie vir ander wie se voetstappe U heerlike boodskap laat weerklink sodat ek op koers kan bly. Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235

Dagstuk 17 Junie 2020 – Net om U wil te doen – Geloofsekerheid

Skriflesing:   Rm 8:18-38      Teks wat tref:  v 37            

Nadat Paulus in die eerste ses hoofstukke van die Brief aan die Romeine uitgewys het dat die mens deur Christus van die sonde verlos is, word al die aandag nou verder aan die mens se herstelde posisie gegee. Ons lewe deur die Heilige Gees. Hierdie nuwe verhouding laat my die wil van God doen, want niks kan my van die liefde vir God skei nie.

Ek kan geloofsekerheid ervaar al leef ek in ʼn wêreld wat daagliks verander.  Juis omdat ek seker is van ʼn aantal dinge in my lewe ervaar ek vreugde en blydskap.  Dit sluit my gesondheid, ondersteuning van medegelowiges en materiële besittings in. Hierby word die belofte van ʼn ewige lewe beklemtoon.  Die verloop van die wêreldgeskiedenis en my daaglikse welstand is in God se hand.  Niks kan ooit God se Plan omverwerp of verander nie.

God se onmeetbare liefde en sy reddende genade in Christus is die basis vir my geloofsekerheid.  Niks is deur my toedoen nie. My geloofsekerheid is nie van my afhanklik nie, want God gee dit aan ons.   Hy het ons as sy kinders aangeneem en in hierdie verhouding is ons van verganklikheid bevry.  Alles op die aarde is kortstondig en kom tot ʼn einde.  Alles op die aarde kan binne ʼn oogwink radikaal verander.  Niemand sou kon dink dat Covid ons ganse bestaan sal oorheers en verander nie. 

Die gronde van my geloofsekerheid is my kindskap.  Alles begin en eindig by God.  Die Here se liefde vir my is ʼn rots in stormwaters, dit is sterker as die dood, dit kan nie beperk word nie en geen mates kan dit begrens nie. Daarom kom Paulus in vers 31 tot die gevolgtrekking dat niks en niemand teen ons kan wees as God vir ons is nie.  By alles wat Christus ons skenk het Hy ook die dood oorwin. 

Dit mag baie dae voel dat ons soos slagskape behandel word. Al die eise en gevolge van Covid 19 kan ons maklik moed laat verloor.  By die swaarkry en werksverlies is daar die sosiale en maatskaplike gevolge van die inperking wat hoë eise stel.  Vereensaming, gesinsgeweld, die begeerte om vrylik te kan beweeg en om met my medemens te sosialiseer is net so intens as die siekte wat die virus bring.

Tog kan ons geloofsekerheid hê om staande te kan bly.  Ons deel in die sekerheid van vers 37: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet.” Niks kan ons van daardie liefde skei nie!

Dors vir meer:

Ps 139

Gebed

Here, dankie dat ek U kind mag wees en weet  dat U my oneindig liefhet.  Dankie dat ons te midde van talle struikelblokke meer as oorwinnaars is.  Leer my deur U Gees om net U wil te doen. Lei my om in vreugde te leef. Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235

Dagstuk 16 Junie 2020 – Net om U wil te doen – Gehoorsaamheid beloon

Skriflesing: Romeine 6:15-23                     Teks wat tref: v16      

Die Brief aan die Romeine word nog meer betekenisvol wanneer ek sien hoedat die Heilige Gees vir Paulus lei om argumente te stel.  Hy skryf hierdie brief aan die Romeine waar die regstelsel gesetel was.  Hy gebruik heelwat regsterme. Hier stel hy telkens twee sake teenoor mekaar en lei die eerste hoorders en lesers daarna om keuses te maak.  Met hierdie tegniek waar hy vergelykings en teenoorgesteldes gebruik word ons ook gekonfronteer om standpunt in te neem.

In die eerste gedeelte van Romeine 6 word ons opgeroep om nie die begeertes van ons sterflike aardse bestaan te gehoorsaam nie.  Daarteenoor volg daar vanaf vers 15 ‘n beloning vir elkeen wat aan God gehoorsaam is: vryspraak en lewe.  Paulus se woordkeuse beklemtoon die skerp verskil. Aan die een kant is jy slaaf en dood en aan die anderkant vrygespreek en lewend. 

In hierdie nuwe verhouding waarin Christus jou geplaas het, verwag Hy van jou gehoorsaamheid aan sy wil.  As dienskneg (slaaf) van die Here stel jy nou alles in diens van God.  Ons is slawe van God wat sy wil doen.  Van ‘n slaaf word absolute gehoorsaamheid en toewyding aan die eienaar verwag.  Dit is meer as net ‘n voorneme maar verg konkrete dade.  Elke deel van jou liggaam word ingespan om heilig te lewe.

Die digter van Psalm 123 gee ‘n treffende beskrywing van gehoorsaamheid:  “ Soos die oë van ‘n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, so is ons oë gerig op die Here ons God.”

Met hierdie beeld word ons vermaan en opgeroep om noukeurig op ons optrede te let.  Waar jou oë, hande en voete op die pad van onreinheid en wetteloosheid gefokus was, stel jy nou alles in diens van God.  Dit is ʼn radikale en doelbewuste verandering.  As ek my gedagtes  vir ʼn oomblik na ʼn volgepakte hofsaal verskuif kan ek in my geestesoog sien hoedat Paulus op ‘n lewe vir of ʼn lewe teen God pleit.

Vroeër het ons optrede tot niks gelei nie.  Ons is eerder skaam oor ‘n leefwyse wat niks opgelewer het nie.  Maar vir elke gehoorsame kind van die Here is daar vrug: ‘n heilige lewe en die ewige lewe.  Gehoorsaamheid is die intiemste belewenis van my geloof.  As gehoorsame kind is ek onmiddellik in die ruimte waar die Here sy liefde en genade betoon. 

As ek myself vandag in die hofsaal bevind waar die Regter ʼn uitspraak lewer, het Christus dit moontlik gemaak dat ek kan pleit …….. “net om U wil te doen Here”.

Dors vir meer:

Ps 25

Gebed

Here, maak my aan U gehoorsaam.  Dankie dat U my vrygespreek het.  Dankie dat ek U genade kan beleef.  Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235

Dagstuk 15 Junie 2020 – Net om U wil te doen – Gehoorsaamheid gevra

Skriflesing: Romeine 6:1-14                     Teks wat tref: v12      

Daagliks raak keuses die verloop van ons lewe.  In normale omstandighede sou ons keuses heel moontlik anders as nou lyk.  Omstandighede kan maklik veroorsaak dat ons keuses deur gebeure rondom my geraak word.  Die huidige inperking dwing ons om onvermydelik anders op te tree. Dit is juis nou dat ons ook na die wil van God sal vra.

Afhangende van dit waarop ons keuses berus, word ons lewens bepaal.  Met hierdie waarheid in gedagte gaan Paulus voort om die grondslag van die eerste aantal hoofstukke van die Brief aan die Romeine verder te verduidelik.  Hy  gebruik lewe en dood om die kern van die boodskap oor te dra – “moenie die begeertes van julle sterflike aardse bestaan gehoorsaam nie!”

Hiervoor gee hy die volgende motivering – “deurdat Christus vir ons gesterf het, lewe ons vir God.  Ten diepste gaan gehoorsaamheid oor my verhouding met die Here.  Gehoorsaamheid is ‘n noodwendige gevolg vir elkeen wat in God glo.  Dit is ‘n doelbewuste keuse om te buig voor God se wil.  Dit vereis ‘n gesindheid om jou aan die Here te onderwerp.  Noodwendig beteken dit dan dat ek sekere dinge prysgee.  Dit is die begeertes van ons sterflike aardse bestaan.

Om aan God gehoorsaam te wees, behels dan veel meer as ‘n voorneme om Hom as Here te erken.  Ons moet dit baie prakties verstaan:

  • Ons moenie aanhou sonde doen nie (v 1)
  • Ons is sekerlik een met Christus in sy opstanding (v 5)
  • Ons is daarom vry van die sonde en leef saam met Christus (v 6-8)

Hierdie nuwe lewenswyse word deur Paulus benadruk om ons te vermaan om radikaal anders te wees. Dit is onmoontlik om aan die een kant aan die sonde te bly vasklou en aan die ander kant te probeer om God te dien.  Die verskoning dat ek nou maar eenmaal sondige mens is en nie kan help om voort te ploeter word hier ook die nek ingeslaan. 

Een maal vernuwe deur Christus, maak my ‘n nuwe mens. ‘n Gehoorsame mens!

Dors vir meer:

Ps 40

Gebed

Here, leer my om daagliks my keuses volgens U Woord te rig.  Dankie dat U my lewe verander het.  Dankie dat ek U genade en liefde beleef.  Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235

Dagstuk Vrydag 12 Junie 2020 – Die Here alleen is God, daar is geeneen buiten God nie.

Teks wat tref: Jesaja 44:8.
Moenie skrik nie, moenie bang wees nie! Het Ek dit nie van lankal af aan julle verkondig, dit vir julle gesê nie? Julle is my getuies: is daar ‘n God buiten My?
Daar is geen ander Rots nie; Ek weet van geeneen nie.

Weereens die oproep- moenie bang wees nie. Hoe baie hoor ons dit nie deur die Bybel nie? Hoe maklik raak ons nie bang en bekommerd nie. Weereens wil die Here vir jou hierdie boodskap gee- Moenie bang wees nie, want buiten God, is daar geeneen nie. Letterlik sê die Here daar is geen Rots buiten Hy nie. Die beeld van ʼn Rots word deur die Bybel gebruik om aan te dui dat die Here vir ons die standvastigheid is, ons beskerming en skuilplek. Niks kan hierde Rots omkeer nie.

Die groot struikelblok van die volk Israel was nog altyd, dat hul nie hul vertroue op die Here plaas nie. Dit is ook die hoofoorsaak van die Babiloniese ballingskap. Die ballingskap bring ʼn keerpunt in die volk se godsdienstige lewe- hulle draai weg van die afgode en keer terug na God (al is dit net die minderheid van die volk wat terugkeer).
Wanneer die Here in Jesaja 44 van die afgode praat, vertel Hy vir sy volk hoe belaglik dit is as mense vir hulleself gode maak. In hierdie spotprent wat die Here teken, wys die Here hoe dom dit van ʼn mens is om te dink dat daar iets soos gode is. Dit is net ʼn stuk hout wat tot die afbeelding van ʼn mens afgewerk is. Die ander stukke van daardie selfde stuk hout waaruit die beeld gemaak is, het die mens in elk geval gebruik om homself warm te maak en sy kos op gaar te maak. Wat maak daardie stuk wat tot ʼn afbeelding afgewerk is nou so besonders teenoor die hout wat verbrand is? Niks behalwe die mens se verbeelding nie.

Nie net Israel moet hieroor nadink nie, maar ons ook. Getuig ons lewe nog daarvan dat ons net een God dien – die ware drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees? Of dien ons geld (wat waarde verloof), besittings (wat verweer), mense (wat teleurstel)? Dink aan die God wat met jou begin het. Hy is die enigste ware God! By Hom is daar almag en liefde. Hy is die Rots wat standvastigheid gee en die wêreld regeer!
Waar stel jy jou vertroue? Waar belê jy jou lewe? Vertrou ons alleen op die Here wat deur Christus vir ons die verlossing gee? En vir alles in hierdie lewe stel jy jou vertroue in Hom alleen. Hy is die enigste God wat beloftes kan maak – soos om jou met alles te versorg wat jy nodig het, die kwaad van jou afweer of tot jou beswil beskik – en elkeen van daardie beloftes ook vir jou bewaarheid. Mag die Heilige jou lei om indringend ondersoek te doen in jou lewe- trek ek al my vertroue van God, of stel ek dit 50% op God en soek die ander 50% by ander beelde wat ek self maak?

Hierdie gedeelte herinner ons opnuut, die Here is alleen die enigste lewende God en Rots. Buiten Hom is daar geen ander gode nie. Hy weet nie van so een nie, sê Hy en Hy is alwetend.

Dors vir meer:
Deuteronomium 32 en Heidelbergse Kategismus Sondag 34
Gebed
Here, U alleen is die enigste en ewige. Dankie dat U vir ons die Rots is! Dankie dat ons in alles en met alles alleen op U kan vertrou. Mag ons altyd na U luister en na U kom, veral wanneer ons bang is. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Dors vir meer:
Hebreërs 6:13-20 en Filippense 3.
Gebed
Here ons Here, dankie dat U getrou is. Ons groot troos lê nie in ons optrede en getrouheid nie, maar in wie U is. Lei ons deur U Gees dat ons lewenswandel in ooreenstemming is met die evangelie van Jesus Christus. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Donderdag 11 Junie 2020 – Die Here is getrou aan Homself en laat iets nuuts gebeur!

Jesaja 43:14-28

Teks wat tref: Jesaja 43:25.

Die goeie ou dae!  Hoe baie het jy dit nie al gehoor nie.  As dinge maar net was soos in die goeie ou dae.  Die probleem as jy aan die verlede vashou kan jy nie die goeie sien wat nou gebeur nie, kan jy nie hoopvol die toekoms ingaan nie.  Verder vergeet jy ook die verkeerdhede van die ou dae.  Dit is wat die volk in ballingskap ook aan vasgehou het.  Waar is die goeie ou dae?  Hoekom laat die Here ons in hierdie situasie beland?  Hou die Here dan nie sy beloftes nie?  Hoe kan die Here dit met sy volk doen, ons het mos offers gebring by die tempel?

Weereens antwoord die Here en daag die volk uit om hul onskuld te bewys.  Hulle is so skuldig soos kan kom.  Hulle gryp na paar goed wat hul wil voorsit wat hul reg gedoen het, maar hulle doen geen moeite om die Here te dien nie. 

Is jou verhouding met die Here net ʼn passiewe verbygaan van elke dag of doen jy moeite om die Here te dien? Ons kla so maklik oor wat die Here nie doen nie, maar wat doen ons?  Kan ʼn man in die hof staan vir aanranding op sy vrou maar getuig dit is nie so erg nie, want ek deel my salaris met haar?  Dit is hoe belaglik ons baie kere wil redeneer oor die “bydrae” wat ons lewer vir die Here.

En tog is dit die Here wat jou opstandigheid vergewe, want Hy is getrou aan Homself!  Ek dink nie meer aan jou sondes nie sê die Here (vers 25).  Is dit nie wonderlik nie!  Die Here bly getrou, dis Hy alleen wat die vergewing van sondes bewerk.  Hierdie nuwe begin is meer radikaal as die eksodus.  Hierdie nuwe begin berus heeltemal in God se trou teenoor die agtergrond van Israel se ontrou.

God se selfopofferende liefde maak hulle vry van die vroeëre dinge, die Here bewerk die vergiffenis sonde.  Met ander woorde, die negatiewe effek van die sonde in die verlede het geen effek meer op die toekoms nie.  Die is voorwaar volkome sonde vergiffenis.  Daarom kan hulle God vertrou vir die toekoms.

God regverdig die goddeloses. Grawe daarom nie terug in die verlede om jouself te regverdig nie. Ons kyk na die verlede en neem afskeid daarvan, soos die Here daarvan afskeid neem en dit nie meer in berekening bring nie (2 Kor 5:17-19). Hy gee immers ’n nuwe begin deur Christus wat alle ander nuwe beginne oortref. Hy is ook vandag nog besig om oor en oor te begin met sy kinders.

Die Here het alles self betaal. Hy het die vloek van die sonde gedra wat ons moes dra. Sal ons oë dan nie oopgaan vir die goedheid van God nie! Sal ons lewensrigting dan nie oopgaan na God se toekoms met ons nie? Ons is geroep om God te eer, maar kan dit net doen as ons die grootheid van sy wonderdade verstaan.

Dit het ons opnuut weer gesien by ons Vroegoggendvolgelinge Bybelstudie vanuit die Hebreërbrief.  Christene is nie mense is wat “die goeie ou dae” kan verheerlik nie. Deur die koms van Christus het iets beters (nuuts!) aangebreek. Ons het ’n beter hoop, beter vaderland, beter verbond waaraan ons deel het. Juis daarom is die Christelike lewe ’n lewe wat op pad is. ʼn Lewe waar ons met hoop die toekoms instap omdat die Here saam met ons is!

Dors vir meer:

Hebreërs 6:13-20  en Filippense 3.

Gebed

Here ons Here, dankie dat U getrou is.  Ons groot troos lê nie in ons optrede en getrouheid nie, maar in wie U is.  Lei ons deur U Gees dat ons lewenswandel in ooreenstemming is met die evangelie van Jesus Christus. Amen.

Ds Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.

Dagstuk Woensdag 10 Junie 2020 – Die Here kén my naam!

Jesaja 43:1-13
Teks wat tref: Jesaja 43:1.
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne

Luister! Hoekom moet ek luister? Dit is nie net enige iemand wat hier praat nie. Dit is die Here self. Die Here praat nie net in die algemeen nie. Hy begin met die oproep vir volk in ballingskap en gebruik die besitsnaam Jakob. Die Here is die een wat geskep het. Die Here het alles en elkeen gemaak. Wat staan vir ons uit van Jakob se geskiedenis? Hy is Jakob genoem, maar die Here het sy naam verander na Israel. Die Here het met hom ʼn pad gestap en Jakob gevorm om hom Israel te noem (Genesis 32:28). So is die oproep vir die volk om te luister, die Here maak nie net en laat staan nie, Hy loop saam met hulle en vorm hulle. Daarom die oproep: Moenie bang wees nie, Ek jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Wat beteken dit vir dat die Here ons op die naam roep? Die Here roep nie net sommer so in die algemeen nie. Hy roep persoonlik. Hy ken jou persoonlik en is persoonlik betrokke in jou lewe. Nie net ken die Here jou naam nie, maar nou jou Syne. Hy plaas sy Naam op jou. So dra ons die naam Christen ook oor ons. Wat beteken dit dat die Here ons Syne noem? Ons is God se eiendom en God kyk na sy kinders. Daarom is ons verseker van God se versorging en beskerming. Niemand sal ons uit die hand van God kan ruk nie. Net soos wat niemand uit die mag van God gered kan word nie (vers 13). Om na God se naam genoem te word (vers 7) gee vir ons die versekering van ons kindskap. Ons dra die naam van die Here en word ingesluit by Sy huishouding. Ons word as erfgename gereken.
Riviere en water en vuur en vlamme kan oor jou pad kom. Uitdagings en beproewings kan voor ons deur kom lê, maar die Here gebruik dit om ons te vorm. Soos Jakob by die Jabbokrivier met die Here gestoei het maar toe tot inkeer gekom het, so ook moet deur die omstandighede gaan om hierdeur ook verander te word.
Hoe het die Inperking jou verander? Is als nog net dieselfde en gaan ons nog steeds net voort soos altyd? As dit so was, dan het jy die grootste geleentheid gemis wat die Here dalk tot dusver nog oor jou pad gebring het.
Moenie bang wees nie! Wanneer die riviere oor ons pad kom, gaan ons nie wegspoel nie, die vlamme sal ons nie verbrand nie. Jy is vir die Here kosbaar! Soveel dat Hy sy Seun in jou plek gegee het. Die Here het jou lief en is by jou!

Dors vir meer:
Psalm 139 en 1 Johannes 5:1-12.

Gebed
Dankie Here dat U my naam ken. Dankie vir U vaderlike sorg en dat U altyd by my is. Mag ek altyd naby U lewe! Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Dinsdag 09 Junie 2020 – Sing vir die Here ʼn nuwe lied!

Jesaja 42:10-17
Teks wat tref: Jesaja 42:10

Sing vir die Here ʼn nuwe lied! Hoe dikwels sing ons nie as ons bly is nie. Wanneer ons goeie nuus hoor beleef ons ʼn lied in ons hart. Hoeveel te meer kan ons nie die vreugde beleef en uitleef wat die Here se blye evangelie boodskap vir ons bring nie?
Daarom is dit nie vreemd nie dat Jesaja as deel van die profesie ʼn nuwe loflied, ʼn psalm, vir die Here bring. Hoekom ʼn nuwe lied? ʼn Lied wat tot nou toe nog nie gesing is nie. ʼn Lied wat aansluit by hierdie wonderlike boodskap van redding vir Israel. Die grootheid en die mag van die Here moet verkondig word. Sy liefde en genade moet gedeel word met ander en Hy alleen moet grootgemaak word! Die Here se eer en lof moet verkondig word oor die hele aarde! Hierdie gedeelte in Jesaja fokus veral op die “Westerse” wêreld (die see en eilande) wat ook die lof van die Here verkondig en nie net Israel nie. Die hele wêreld moet God verheerlik en eer vir Wié die Here is, maar nou kan hul ook omdat die Here oor die hele wêreld ook die boodskap van verlossing bring. Vir almal is daar verlossing wat in die Here glo! Hy gee aan ons die Lig in die duisternis.

Gister het ons gelees hoe Jesus Christus gekom het as iemand wat nie harde woorde gebruik nie, maar nou gaan die Here nie stilbly nie. Hy gaan ʼn oorlogskreet uitroep en Sy vyande oorwin. Met die wederkoms van Christus kom Hy nie stilletjies nie, maar blaas die basuin sodat die hele wêreld gaan hoor. Hy kom as die Koning, as die Krygsman wat sy vyande oorwin en elke knieg sal voor Hom buig.

Sing opnuut vir die Here ʼn nuwe lied vandag! Hoe wonderlik deel ons nie in sy goedheid nie en wil ons sy Naam loof en eer! Sing ʼn nuwe lied tot ons saam met al die gelowiges ʼn nuwe lied voor die troon van die Here gaan sing! (Openbaring 5:9-10).

Dors vir meer:
Psalm 40, 98 en Openbaring 5

Gebed
Dankie Here dat ons ‘n nuwe lied tot U kan sing. Dankie dat ons U oorwinning kan beleef en dat U reddingsdade ook aan ons bekend gemaak is. Dankie vir U trou tot in ewigheid. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 08 Junie 2020 – Die Here ken ons swakheid en maak ons sterk!

Jesaja 42: 1-9

Teks wat tref: Jesaja 4:3

Ons beleef in baie situasies magteloosheid, ʼn gevoel dat ons swak is.  Verwyt die Here ons vir ons swakheid?  Stuur Hy ons weg van Hom?  Nee, dit is in omstandighede soos hierdie wat die Here ons tot Hom roep.  “ ʼn Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ʼn lamppit wat dof brand sal hy nie uitdoof nie” (vers 3).  Ondanks jou gebrek aan geloof en vertroue is God vol deernis. “Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.” Psalm 103:13,14.

Daarom het Hy Jesus Christus vir ons gestuur- die dienaar wat namens Israel, maar namens ons ook, optree en oor wie die Heilige Gees is.  Christus het gekom en self alles beleef en deurgemaak wat ons deurmaak.  Hy ken ons swakheid.  Hy het selfs nog meer deurgemaak as wat ons ooit kan deurmaak- Hy het die volle toorn van God gedra vir ons sondes.

In Christus se optrede het hy nooit die swakkes of die minderes weggewys nie, maar hulle nader geroep na Hom en die dissipels bestraf as hul wou wegwys.

Hoe wonderlik het die Here nie Sy verlossing deur Christus kom bekend maak – Christus wat die lig vir die wêreld gebring het, maar self die Lig is!

Christus wat swak voorgekom het, die verspotting verdra het, nie hard uitgeroep en geskree het om aandag te kry.  Hy is soos ʼn lam ter slagting gelei om die grootheid en die oorwinning van God bekend te maak.

Hoe wonderlik is dit nie dat die magtige Here, die Skepper wat lewe aan alles gee vir ons weer bevestig maar Hy hou ons vas, Hy beskerm ons!  Die Here bevestig opnuut weer sy trouverbond met ons omdat Hy altyd getrou is!  Kom opnuut na die Here toe, Hy laat ons weer sien, bring vir ons bevryding en lig vir almal wat swak is en in die donkerte verkeer!

Dors vir meer:

Matteus 12:9-21 en Psalm 103.

Gebed

Here ons Almagtige God!  Dankie dat U ons swakheid ken en ons nader na U roep.  Dankie dat U ons versterk en krag gee deur U Heilige Gees Amen.

Ds Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.

Dagstuk 05 Junie 2020 – Die Here betoon sy genade en oordeel (2)

Skriflesing: Amos 8:1-14                       Teks wat tref: v7,11

Na die drie gesigte (visioene) wat Amos gesien het, is daar gou reaksie en koning Jerobeam verbied hom om die Here se boodskap verder te verkondig.  Nadat hy sy roeping beklemtoon dat hy net kan en mag verkondig wat die Here vir hom sê, laat die Here hom ʼn vierde gesig sien. 

Weer gebruik die Here ʼn beeld uit die landbou wat Amos beslis goed sal verstaan.  ʼn Mandjie ryp vrugte. Die woordespel met hierdie beeld is treffend. Ryp vrugte beteken hier dat die tyd ryp is. Ons sou dit ook kon vertaal met die woorde – dit het nou tyd geword.  Iets onafwendbaar sal nou gebeur.  En die uitkoms daarvan is onveranderlik.  ‘n Ryp vrug moet gepluk en geëet word. 

Amos skets ʼn somber toneel. Die prag van die paleis verdwyn, die vreugdegesange word met treurliedere vervang en die lyke lê oral neergegooi. Sonde en ongeregtigheid is vir die Here so geweldig dat dit met die dood  gestraf word. Die volk word vernietig. Alles gebeur soos Amos dit verkondig het.  Die effek hiervan word oral ervaar.  Ekonomiese bedrywighede word met meer onreg en korrupsie voortgesit. Die skyn van godsdienstige bedrywighede word deur die Here uitgewys en dit lei daartoe dat dit vir hulle ʼn bitter dag sal wees.  Die sonsverduistering en aardbewing dui op God se oordeel.

Dit is die lewe sonder God waarteen ons gewaarsku word.  Dit is wanneer daar ʼn honger en dors ontstaan om die  woorde van God wat lewe gee, te hoor. In hoofstuk 9 word die laaste oordeel van God voltrek wanneer hy sy volk by die altaar ontmoet.  As Amos God daar sien, weet hy dit is finaal verby. 

Net so beleef ons soms die grootste ellende en donkerste dieptes. En ons kan inderdaad nooit self daarvan ontsnap nie.  Net so vas as wat die Here met ʼn eed besluit het om die volk vir hulle oortredinge te straf (hfst 8:7) kondig Hy in Amos 9: 11 aan dat Hy hulle lot sal verander.  Alles word weer herstel en die Here se volk is die oorwinnaar. 

Mag ons ook ons dae so gebruik om behoorlik ondersoek te doen en daarna te streef om met elke woord uit die mond van ons Here gevoed te word.  Ons mag hoopvol bly, want Jesus Christus het verseker dat ons nooit weer uitgeruk sal word nie. 

Dors vir meer:

Mt 4:1-11

Gebed

Here, laat my honger en dors na U woorde sodat ek my lewe op koers kan bring.  Dankie dat u die ongeregtighede uitwys en uitwis.   Dankie dat ek hoopvol na die toekoms kan uitsien. Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235

« Older posts Newer posts »