Jesaja 43:1-13
Teks wat tref: Jesaja 43:1.
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne

Luister! Hoekom moet ek luister? Dit is nie net enige iemand wat hier praat nie. Dit is die Here self. Die Here praat nie net in die algemeen nie. Hy begin met die oproep vir volk in ballingskap en gebruik die besitsnaam Jakob. Die Here is die een wat geskep het. Die Here het alles en elkeen gemaak. Wat staan vir ons uit van Jakob se geskiedenis? Hy is Jakob genoem, maar die Here het sy naam verander na Israel. Die Here het met hom ʼn pad gestap en Jakob gevorm om hom Israel te noem (Genesis 32:28). So is die oproep vir die volk om te luister, die Here maak nie net en laat staan nie, Hy loop saam met hulle en vorm hulle. Daarom die oproep: Moenie bang wees nie, Ek jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Wat beteken dit vir dat die Here ons op die naam roep? Die Here roep nie net sommer so in die algemeen nie. Hy roep persoonlik. Hy ken jou persoonlik en is persoonlik betrokke in jou lewe. Nie net ken die Here jou naam nie, maar nou jou Syne. Hy plaas sy Naam op jou. So dra ons die naam Christen ook oor ons. Wat beteken dit dat die Here ons Syne noem? Ons is God se eiendom en God kyk na sy kinders. Daarom is ons verseker van God se versorging en beskerming. Niemand sal ons uit die hand van God kan ruk nie. Net soos wat niemand uit die mag van God gered kan word nie (vers 13). Om na God se naam genoem te word (vers 7) gee vir ons die versekering van ons kindskap. Ons dra die naam van die Here en word ingesluit by Sy huishouding. Ons word as erfgename gereken.
Riviere en water en vuur en vlamme kan oor jou pad kom. Uitdagings en beproewings kan voor ons deur kom lê, maar die Here gebruik dit om ons te vorm. Soos Jakob by die Jabbokrivier met die Here gestoei het maar toe tot inkeer gekom het, so ook moet deur die omstandighede gaan om hierdeur ook verander te word.
Hoe het die Inperking jou verander? Is als nog net dieselfde en gaan ons nog steeds net voort soos altyd? As dit so was, dan het jy die grootste geleentheid gemis wat die Here dalk tot dusver nog oor jou pad gebring het.
Moenie bang wees nie! Wanneer die riviere oor ons pad kom, gaan ons nie wegspoel nie, die vlamme sal ons nie verbrand nie. Jy is vir die Here kosbaar! Soveel dat Hy sy Seun in jou plek gegee het. Die Here het jou lief en is by jou!

Dors vir meer:
Psalm 139 en 1 Johannes 5:1-12.

Gebed
Dankie Here dat U my naam ken. Dankie vir U vaderlike sorg en dat U altyd by my is. Mag ek altyd naby U lewe! Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.