Jesaja 43:14-28
Teks wat tref: Jesaja 43:25.
Die goeie ou dae! Hoe baie het jy dit nie al gehoor nie. As dinge maar net was soos in die goeie ou dae. Die probleem as jy aan die verlede vashou kan jy nie die goeie sien wat nou gebeur nie, kan jy nie hoopvol die toekoms ingaan nie. Verder vergeet jy ook die verkeerdhede van die ou dae. Dit is wat die volk in ballingskap ook aan vasgehou het. Waar is die goeie ou dae? Hoekom laat die Here ons in hierdie situasie beland? Hou die Here dan nie sy beloftes nie? Hoe kan die Here dit met sy volk doen, ons het mos offers gebring by die tempel?
Weereens antwoord die Here en daag die volk uit om hul onskuld te bewys. Hulle is so skuldig soos kan kom. Hulle gryp na paar goed wat hul wil voorsit wat hul reg gedoen het, maar hulle doen geen moeite om die Here te dien nie.
Is jou verhouding met die Here net ʼn passiewe verbygaan van elke dag of doen jy moeite om die Here te dien? Ons kla so maklik oor wat die Here nie doen nie, maar wat doen ons? Kan ʼn man in die hof staan vir aanranding op sy vrou maar getuig dit is nie so erg nie, want ek deel my salaris met haar? Dit is hoe belaglik ons baie kere wil redeneer oor die “bydrae” wat ons lewer vir die Here.
En tog is dit die Here wat jou opstandigheid vergewe, want Hy is getrou aan Homself! Ek dink nie meer aan jou sondes nie sê die Here (vers 25). Is dit nie wonderlik nie! Die Here bly getrou, dis Hy alleen wat die vergewing van sondes bewerk. Hierdie nuwe begin is meer radikaal as die eksodus. Hierdie nuwe begin berus heeltemal in God se trou teenoor die agtergrond van Israel se ontrou.
God se selfopofferende liefde maak hulle vry van die vroeëre dinge, die Here bewerk die vergiffenis sonde. Met ander woorde, die negatiewe effek van die sonde in die verlede het geen effek meer op die toekoms nie. Die is voorwaar volkome sonde vergiffenis. Daarom kan hulle God vertrou vir die toekoms.
God regverdig die goddeloses. Grawe daarom nie terug in die verlede om jouself te regverdig nie. Ons kyk na die verlede en neem afskeid daarvan, soos die Here daarvan afskeid neem en dit nie meer in berekening bring nie (2 Kor 5:17-19). Hy gee immers ’n nuwe begin deur Christus wat alle ander nuwe beginne oortref. Hy is ook vandag nog besig om oor en oor te begin met sy kinders.
Die Here het alles self betaal. Hy het die vloek van die sonde gedra wat ons moes dra. Sal ons oë dan nie oopgaan vir die goedheid van God nie! Sal ons lewensrigting dan nie oopgaan na God se toekoms met ons nie? Ons is geroep om God te eer, maar kan dit net doen as ons die grootheid van sy wonderdade verstaan.
Dit het ons opnuut weer gesien by ons Vroegoggendvolgelinge Bybelstudie vanuit die Hebreërbrief. Christene is nie mense is wat “die goeie ou dae” kan verheerlik nie. Deur die koms van Christus het iets beters (nuuts!) aangebreek. Ons het ’n beter hoop, beter vaderland, beter verbond waaraan ons deel het. Juis daarom is die Christelike lewe ’n lewe wat op pad is. ʼn Lewe waar ons met hoop die toekoms instap omdat die Here saam met ons is!
Dors vir meer:
Hebreërs 6:13-20 en Filippense 3.
Gebed
Here ons Here, dankie dat U getrou is. Ons groot troos lê nie in ons optrede en getrouheid nie, maar in wie U is. Lei ons deur U Gees dat ons lewenswandel in ooreenstemming is met die evangelie van Jesus Christus. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply