Jesaja 42:10-17
Teks wat tref: Jesaja 42:10

Sing vir die Here ʼn nuwe lied! Hoe dikwels sing ons nie as ons bly is nie. Wanneer ons goeie nuus hoor beleef ons ʼn lied in ons hart. Hoeveel te meer kan ons nie die vreugde beleef en uitleef wat die Here se blye evangelie boodskap vir ons bring nie?
Daarom is dit nie vreemd nie dat Jesaja as deel van die profesie ʼn nuwe loflied, ʼn psalm, vir die Here bring. Hoekom ʼn nuwe lied? ʼn Lied wat tot nou toe nog nie gesing is nie. ʼn Lied wat aansluit by hierdie wonderlike boodskap van redding vir Israel. Die grootheid en die mag van die Here moet verkondig word. Sy liefde en genade moet gedeel word met ander en Hy alleen moet grootgemaak word! Die Here se eer en lof moet verkondig word oor die hele aarde! Hierdie gedeelte in Jesaja fokus veral op die “Westerse” wêreld (die see en eilande) wat ook die lof van die Here verkondig en nie net Israel nie. Die hele wêreld moet God verheerlik en eer vir Wié die Here is, maar nou kan hul ook omdat die Here oor die hele wêreld ook die boodskap van verlossing bring. Vir almal is daar verlossing wat in die Here glo! Hy gee aan ons die Lig in die duisternis.

Gister het ons gelees hoe Jesus Christus gekom het as iemand wat nie harde woorde gebruik nie, maar nou gaan die Here nie stilbly nie. Hy gaan ʼn oorlogskreet uitroep en Sy vyande oorwin. Met die wederkoms van Christus kom Hy nie stilletjies nie, maar blaas die basuin sodat die hele wêreld gaan hoor. Hy kom as die Koning, as die Krygsman wat sy vyande oorwin en elke knieg sal voor Hom buig.

Sing opnuut vir die Here ʼn nuwe lied vandag! Hoe wonderlik deel ons nie in sy goedheid nie en wil ons sy Naam loof en eer! Sing ʼn nuwe lied tot ons saam met al die gelowiges ʼn nuwe lied voor die troon van die Here gaan sing! (Openbaring 5:9-10).

Dors vir meer:
Psalm 40, 98 en Openbaring 5

Gebed
Dankie Here dat ons ‘n nuwe lied tot U kan sing. Dankie dat ons U oorwinning kan beleef en dat U reddingsdade ook aan ons bekend gemaak is. Dankie vir U trou tot in ewigheid. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.