Jesaja 42: 1-9
Teks wat tref: Jesaja 4:3
Ons beleef in baie situasies magteloosheid, ʼn gevoel dat ons swak is. Verwyt die Here ons vir ons swakheid? Stuur Hy ons weg van Hom? Nee, dit is in omstandighede soos hierdie wat die Here ons tot Hom roep. “ ʼn Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ʼn lamppit wat dof brand sal hy nie uitdoof nie” (vers 3). Ondanks jou gebrek aan geloof en vertroue is God vol deernis. “Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.” Psalm 103:13,14.
Daarom het Hy Jesus Christus vir ons gestuur- die dienaar wat namens Israel, maar namens ons ook, optree en oor wie die Heilige Gees is. Christus het gekom en self alles beleef en deurgemaak wat ons deurmaak. Hy ken ons swakheid. Hy het selfs nog meer deurgemaak as wat ons ooit kan deurmaak- Hy het die volle toorn van God gedra vir ons sondes.
In Christus se optrede het hy nooit die swakkes of die minderes weggewys nie, maar hulle nader geroep na Hom en die dissipels bestraf as hul wou wegwys.
Hoe wonderlik het die Here nie Sy verlossing deur Christus kom bekend maak – Christus wat die lig vir die wêreld gebring het, maar self die Lig is!
Christus wat swak voorgekom het, die verspotting verdra het, nie hard uitgeroep en geskree het om aandag te kry. Hy is soos ʼn lam ter slagting gelei om die grootheid en die oorwinning van God bekend te maak.
Hoe wonderlik is dit nie dat die magtige Here, die Skepper wat lewe aan alles gee vir ons weer bevestig maar Hy hou ons vas, Hy beskerm ons! Die Here bevestig opnuut weer sy trouverbond met ons omdat Hy altyd getrou is! Kom opnuut na die Here toe, Hy laat ons weer sien, bring vir ons bevryding en lig vir almal wat swak is en in die donkerte verkeer!
Dors vir meer:
Matteus 12:9-21 en Psalm 103.
Gebed
Here ons Almagtige God! Dankie dat U ons swakheid ken en ons nader na U roep. Dankie dat U ons versterk en krag gee deur U Heilige Gees Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply