Skriflesing: Amos 8:1-14 Teks wat tref: v7,11
Na die drie gesigte (visioene) wat Amos gesien het, is daar gou reaksie en koning Jerobeam verbied hom om die Here se boodskap verder te verkondig. Nadat hy sy roeping beklemtoon dat hy net kan en mag verkondig wat die Here vir hom sê, laat die Here hom ʼn vierde gesig sien.
Weer gebruik die Here ʼn beeld uit die landbou wat Amos beslis goed sal verstaan. ʼn Mandjie ryp vrugte. Die woordespel met hierdie beeld is treffend. Ryp vrugte beteken hier dat die tyd ryp is. Ons sou dit ook kon vertaal met die woorde – dit het nou tyd geword. Iets onafwendbaar sal nou gebeur. En die uitkoms daarvan is onveranderlik. ‘n Ryp vrug moet gepluk en geëet word.
Amos skets ʼn somber toneel. Die prag van die paleis verdwyn, die vreugdegesange word met treurliedere vervang en die lyke lê oral neergegooi. Sonde en ongeregtigheid is vir die Here so geweldig dat dit met die dood gestraf word. Die volk word vernietig. Alles gebeur soos Amos dit verkondig het. Die effek hiervan word oral ervaar. Ekonomiese bedrywighede word met meer onreg en korrupsie voortgesit. Die skyn van godsdienstige bedrywighede word deur die Here uitgewys en dit lei daartoe dat dit vir hulle ʼn bitter dag sal wees. Die sonsverduistering en aardbewing dui op God se oordeel.
Dit is die lewe sonder God waarteen ons gewaarsku word. Dit is wanneer daar ʼn honger en dors ontstaan om die woorde van God wat lewe gee, te hoor. In hoofstuk 9 word die laaste oordeel van God voltrek wanneer hy sy volk by die altaar ontmoet. As Amos God daar sien, weet hy dit is finaal verby.
Net so beleef ons soms die grootste ellende en donkerste dieptes. En ons kan inderdaad nooit self daarvan ontsnap nie. Net so vas as wat die Here met ʼn eed besluit het om die volk vir hulle oortredinge te straf (hfst 8:7) kondig Hy in Amos 9: 11 aan dat Hy hulle lot sal verander. Alles word weer herstel en die Here se volk is die oorwinnaar.
Mag ons ook ons dae so gebruik om behoorlik ondersoek te doen en daarna te streef om met elke woord uit die mond van ons Here gevoed te word. Ons mag hoopvol bly, want Jesus Christus het verseker dat ons nooit weer uitgeruk sal word nie.
Mt 4:1-11
Gebed
Here, laat my honger en dors na U woorde sodat ek my lewe op koers kan bring. Dankie dat u die ongeregtighede uitwys en uitwis. Dankie dat ek hoopvol na die toekoms kan uitsien. Amen
Ds Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235
Leave a Reply