Skriflesing: Amos 7:1-17 Teks wat tref: v3 en 6
Amos vertel dat die Here God hom gesigte laat sien het. Dit het by hom tegelyk angs en vrede laat ontstaan. Tot aan die einde van hoofstuk 6 lees ons van vernietiging en verdelging. God verafsku die hooghartigheid en Hy het ʼn weersin in hulle mooi huise. (Amos 6:8,9) Daar sal ʼn nasie teen die volk optrek en hardvogtig oor hulle heers. Daarna gebruik die Here gesigte om sy wil bekend te maak. ʼn Gesig is soos ʼn teken wat gebruik is om ʼn boodskap oor te dra.
In die vorige hoofstukke het Amos telkens God se wil aangekondig. Dit was ʼn profeet se taak. Vanaf hoofstuk 7 vind daar ʼn tweegesprek tussen God en Amos plaas. Na die oordeel wat God aankondig, pleit Amos om vergiffenis. (v2) Hy smeek God om op te hou. (v5) Met die derde gesig hoor hy dat God met die swaard teen die volk sal optree. As boer was Amos vertroud met die eerste drie gesigte. Dit het betrekking en verwysing tot gebeure op landboukundige gebied.
As skaapboer uit Tekoa verstaan hy die vernietigende skade wat sprinkane sal aanrig as al die groenigheid van die land afgevreet is. Dit sou hul sonder weiding laat. As daar iets sou oorbly het die verterende vuur dit verder verwoes. Geen weiding en geen water. Onbenydenswaardig. Dit beteken gewis dood en geen uitsig op enige hoop nie. Die finale nekslag word met die aankondiging van die derde gesig toegedien.
‘n Skietlood is deur ʼn bouer gebruik as instrument om seker te maak dat ‘n gebou se mure haaks is. Daarmee is bepaal of ‘n muur oor gebou moes word en of dit esteties inpas. Daar was nie plek vir die geringste fout nie. Met hierdie gesig verkondig die Here dat Hy geen uitsondering sal maak wanneer die volk veroordeel word nie. Hy gaan hulle nie meer spaar nie.
Uiteraard het hierdie profesie nie oral ewe byval gevind nie. Amos word daarvan beskuldig dat hy ‘n komplot teen die koning smee. Dit is alleen sy vertroue op God wat hom staande hou. Met die aanhoor van God se planne pleit hy elke keer tot die Here. Hy doen ‘n beroep op God se genade. Twee keer (v3,5) lees ons dat die Here van sy voorneme afgesien het.
Beteken dit dat die mens God van plan kan laat verander? Beslis nie. Amos beroep hom egter op die besondere band tussen God en die volk. God het hierdie volk uitgekies en Hom aan hulle verbind. Hy is besorg oor hul lot. Hy ontferm Hom oor sy kinders. Maar soms is daar drastiese maatreëls nodig om ons daaraan te herinner.
Hoe lyk jou lewe as God die skietlood in sy hand hou? In hoofstuk 8 gaan ons more verder lees oor God se optrede om die mens nader om hom te bring.
Dors vir meer:
Rm 6:1-14
Gebed
Here, leer my om ag te slaan op U waarskuwings wanneer ek van U wegdwaal. Dankie dat ek deur Christus gespaar is toe die skietlood teen my aangelê is en al my sonde aangetoon is. Dankie vir U genade. Amen
Ds Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235
Leave a Reply