Skriflesing: Amos 5:1-17 Teks wat tref: v4 en 7
Die opdrag om na die wil van die Here te vra word twee maal gegee. En dit word elke keer met ‘n belofte opgevolg – dan sal julle lewe!
Aanvanklik kon die volk dit nie verstaan nie. Koning Jerobeam is uiters suksesvol met elke aanslag. Oral word grondgebied ingepalm. Die ekonomie beleef ongekende hoogtes. Die sosiale kalender is oorvol. Uitspattighede en vergrype kom wyd voor. Morele verval tree in as elkeen maak soos hy wil. Net so brand ons leefwêreld met vergrype, korrupsie en oneerlike winsbejag.
Daarom moet ons ook oordeel of daar regtig na die wil van God gevra word. In my beoordeling is dit maklik om vinger na ander te wys. Wat is die implikasie as ek na God se wil vra? Nog dringender, hoe ernstig vra ek na die wil van die Here?
Ons wil graag verandering bewerkstellig. Daarvoor moet ons God eers reg leer ken. Alles sonder God is leeg en betekenisloos – Dit loop op die dood uit. Hervorming beteken net om te doen soos wat God se wil dit voorskryf. Dit is nie ‘n sedelessie en ‘n paar kosmetiese veranderinge nie.
Dit vra ‘n verandering van my hart se ingesteldheid. Ek kan nie langer ongehinderd aangaan nie. Raak PRAKTIES. ONDERSOEK elke aspek van jou lewe. Israel het gemeen dat hulle die Here kon kul. – Ons “speel” ook baie keer met die Here.
Kom luister eers weer Wie God is! (Lees vers 8,9) Amos beskryf God se eienskappe en werke. HY is die HERE. HY beskik oor alles. God beheer die geskiedenis. Dit laat my opnuut besef dat God steeds in BEHEER is. Te midde van die vernietigende gevolge van Covid 19 kan ek bly vertrou.
Om na God se wil te vra beteken dat ons alles gaan TOETS. My maatstaf is God se WOORD. Om na God se wil te vra beteken dat ek probeer om goed te doen, te haat wat verkeerd is, lief te hê wat goed is en op te kom vir die reg in die howe (v14,15). Amos stel die uiterstes teenoormekaar om juis te beklemtoon dat ek keuses moet uitoefen as ek na God se wil vra. Ek kan nie passief agteroor sit en alles gade slaan nie. Ek moet aktief en doelgerig optree. Om na God se wil te vra, beteken dat ek sal doen. Dit is ʼn leefwyse. Dit vra ʼn bepaalde ingesteldheid. Ek word al minder en God al meer.
Wie nie na God se wil vra nie, kan die ergste straf verwag. Amos gebruik dieselfde woord hiervoor wat ook in Eks 12:23 voorkom wat daarop dui dat God met die dood vernietig. Christus het vir ons geleer wat dit beteken om aan God se wil gehoorsaam te wees. In sy sterwens oomblikke pleit Hy dat sy Vader se wil sal geskied. Deur HOM kan ons lewe!
“Vra na my wil, dan sal julle lewe.”
Dors vir meer:
Jh 15:1-17
Gebed
Here, lei my om met my woorde, gebare, gedagtes en optrede U Naam te verheerlik. Bewaar ons om in hierdie bose tyd ons oë op U te rig. Dankie dat U my help om op te staan as ek geval het. Amen
Ds Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235
Leave a Reply