Skriflesing: Romeine 10:5-15                     Teks wat tref: 11 en 15  

Paulus kan steeds nie ophou om oor ons vryspraak in Christus te praat nie.  Die feit dat Christus my gered het en van die dood bevry het moet so lewend in my optrede wees dat dit al is waaroor ek eintlik kan en wil praat.  Dit is meer as ʼn teologiese gesprek oor waar ek vir Christus sal vind. CHRISTUS het my GEVIND en beheers nou my hele lewe. “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” (v8)

Dit is wonderlik om te weet dat God elke dag besig is om my te ontmoet. In elke ding wat met my gebeur, bewys God dat Hy my liefhet en Hom met my bemoei. Hierdie bemoeienis word pragtig in Rm 10 verwoord.  Hy bewerkstellig ‘n intieme liefdesverhouding met ons. Hy bevestig en bestendig sy verbond. Hy is altyd vir ons beskikbaar.  Hy is elke oomblik op ons pad. Ek is nêrens sonder God nie.  In die hemel en op aarde is Hy by my. Die grootste bewys daarvan het Christus aan die kruis bewys deur vir my te sterwe.

“Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie en elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”

Daarom onderneem ons om God elke dag saam op ons pad te neem. Op grond hiervan word ek opgeroep om net God se wil te doen. My hele lewe en bestaan is in God se diens. Maar omdat ons geneig is om so maklik ons eie koers in te slaan en te besig is vir oomblikke om stil te word voor God, stuur Hy verkondigers van sy Boodskap. 

Deur sy  Woord en Gees verskyn God elke dag op ons pad. Dit is ‘n pad wat  waarvan die eindbestemming seker is. Dit lei na die ewige lewe. Nou gee die Here ‘n opdrag – Laat julle voetstappe God se goeie boodskap bring!   Maak erns daarmee om die Here gereeld te ontmoet.

Gaan soek geleenthede waar jou voetstappe kan klink. Ons huidige omstandighede bied talle geleenthede: voorbidding, geestelike en morele ondersteuning wat soms net ʼn oproep of Whatsapp ver is, voorbeeld vir my gesin wees, ondersteuning aan hulpverleningsinstansies en nog talle meer.

God se hande is deur Christus om ons.  In antwoord daarop verwag Hy ons voetstappe op sy pad!

Dors vir meer:

Ps 91

Gebed

Here, rig my voetstappe en laat my in pas kom om net U wil te doen. Dankie vir ander wie se voetstappe U heerlike boodskap laat weerklink sodat ek op koers kan bly. Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235