Skriflesing: Rm 8:18-38 Teks wat tref: v 37
Nadat Paulus in die eerste ses hoofstukke van die Brief aan die Romeine uitgewys het dat die mens deur Christus van die sonde verlos is, word al die aandag nou verder aan die mens se herstelde posisie gegee. Ons lewe deur die Heilige Gees. Hierdie nuwe verhouding laat my die wil van God doen, want niks kan my van die liefde vir God skei nie.
Ek kan geloofsekerheid ervaar al leef ek in ʼn wêreld wat daagliks verander. Juis omdat ek seker is van ʼn aantal dinge in my lewe ervaar ek vreugde en blydskap. Dit sluit my gesondheid, ondersteuning van medegelowiges en materiële besittings in. Hierby word die belofte van ʼn ewige lewe beklemtoon. Die verloop van die wêreldgeskiedenis en my daaglikse welstand is in God se hand. Niks kan ooit God se Plan omverwerp of verander nie.
God se onmeetbare liefde en sy reddende genade in Christus is die basis vir my geloofsekerheid. Niks is deur my toedoen nie. My geloofsekerheid is nie van my afhanklik nie, want God gee dit aan ons. Hy het ons as sy kinders aangeneem en in hierdie verhouding is ons van verganklikheid bevry. Alles op die aarde is kortstondig en kom tot ʼn einde. Alles op die aarde kan binne ʼn oogwink radikaal verander. Niemand sou kon dink dat Covid ons ganse bestaan sal oorheers en verander nie.
Die gronde van my geloofsekerheid is my kindskap. Alles begin en eindig by God. Die Here se liefde vir my is ʼn rots in stormwaters, dit is sterker as die dood, dit kan nie beperk word nie en geen mates kan dit begrens nie. Daarom kom Paulus in vers 31 tot die gevolgtrekking dat niks en niemand teen ons kan wees as God vir ons is nie. By alles wat Christus ons skenk het Hy ook die dood oorwin.
Dit mag baie dae voel dat ons soos slagskape behandel word. Al die eise en gevolge van Covid 19 kan ons maklik moed laat verloor. By die swaarkry en werksverlies is daar die sosiale en maatskaplike gevolge van die inperking wat hoë eise stel. Vereensaming, gesinsgeweld, die begeerte om vrylik te kan beweeg en om met my medemens te sosialiseer is net so intens as die siekte wat die virus bring.
Tog kan ons geloofsekerheid hê om staande te kan bly. Ons deel in die sekerheid van vers 37: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet.” Niks kan ons van daardie liefde skei nie!
Dors vir meer:
Ps 139
Gebed
Here, dankie dat ek U kind mag wees en weet dat U my oneindig liefhet. Dankie dat ons te midde van talle struikelblokke meer as oorwinnaars is. Leer my deur U Gees om net U wil te doen. Lei my om in vreugde te leef. Amen
Ds Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235
Leave a Reply