Skriflesing: Romeine 6:15-23 Teks wat tref: v16
Die Brief aan die Romeine word nog meer betekenisvol wanneer ek sien hoedat die Heilige Gees vir Paulus lei om argumente te stel. Hy skryf hierdie brief aan die Romeine waar die regstelsel gesetel was. Hy gebruik heelwat regsterme. Hier stel hy telkens twee sake teenoor mekaar en lei die eerste hoorders en lesers daarna om keuses te maak. Met hierdie tegniek waar hy vergelykings en teenoorgesteldes gebruik word ons ook gekonfronteer om standpunt in te neem.
In die eerste gedeelte van Romeine 6 word ons opgeroep om nie die begeertes van ons sterflike aardse bestaan te gehoorsaam nie. Daarteenoor volg daar vanaf vers 15 ‘n beloning vir elkeen wat aan God gehoorsaam is: vryspraak en lewe. Paulus se woordkeuse beklemtoon die skerp verskil. Aan die een kant is jy slaaf en dood en aan die anderkant vrygespreek en lewend.
In hierdie nuwe verhouding waarin Christus jou geplaas het, verwag Hy van jou gehoorsaamheid aan sy wil. As dienskneg (slaaf) van die Here stel jy nou alles in diens van God. Ons is slawe van God wat sy wil doen. Van ‘n slaaf word absolute gehoorsaamheid en toewyding aan die eienaar verwag. Dit is meer as net ‘n voorneme maar verg konkrete dade. Elke deel van jou liggaam word ingespan om heilig te lewe.
Die digter van Psalm 123 gee ‘n treffende beskrywing van gehoorsaamheid: “ Soos die oë van ‘n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, so is ons oë gerig op die Here ons God.”
Met hierdie beeld word ons vermaan en opgeroep om noukeurig op ons optrede te let. Waar jou oë, hande en voete op die pad van onreinheid en wetteloosheid gefokus was, stel jy nou alles in diens van God. Dit is ʼn radikale en doelbewuste verandering. As ek my gedagtes vir ʼn oomblik na ʼn volgepakte hofsaal verskuif kan ek in my geestesoog sien hoedat Paulus op ‘n lewe vir of ʼn lewe teen God pleit.
Vroeër het ons optrede tot niks gelei nie. Ons is eerder skaam oor ‘n leefwyse wat niks opgelewer het nie. Maar vir elke gehoorsame kind van die Here is daar vrug: ‘n heilige lewe en die ewige lewe. Gehoorsaamheid is die intiemste belewenis van my geloof. As gehoorsame kind is ek onmiddellik in die ruimte waar die Here sy liefde en genade betoon.
As ek myself vandag in die hofsaal bevind waar die Regter ʼn uitspraak lewer, het Christus dit moontlik gemaak dat ek kan pleit …….. “net om U wil te doen Here”.
Dors vir meer:
Ps 25
Gebed
Here, maak my aan U gehoorsaam. Dankie dat U my vrygespreek het. Dankie dat ek U genade kan beleef. Amen
Ds Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235
Leave a Reply