Skriflesing: Romeine 6:1-14 Teks wat tref: v12
Daagliks raak keuses die verloop van ons lewe. In normale omstandighede sou ons keuses heel moontlik anders as nou lyk. Omstandighede kan maklik veroorsaak dat ons keuses deur gebeure rondom my geraak word. Die huidige inperking dwing ons om onvermydelik anders op te tree. Dit is juis nou dat ons ook na die wil van God sal vra.
Afhangende van dit waarop ons keuses berus, word ons lewens bepaal. Met hierdie waarheid in gedagte gaan Paulus voort om die grondslag van die eerste aantal hoofstukke van die Brief aan die Romeine verder te verduidelik. Hy gebruik lewe en dood om die kern van die boodskap oor te dra – “moenie die begeertes van julle sterflike aardse bestaan gehoorsaam nie!”
Hiervoor gee hy die volgende motivering – “deurdat Christus vir ons gesterf het, lewe ons vir God. Ten diepste gaan gehoorsaamheid oor my verhouding met die Here. Gehoorsaamheid is ‘n noodwendige gevolg vir elkeen wat in God glo. Dit is ‘n doelbewuste keuse om te buig voor God se wil. Dit vereis ‘n gesindheid om jou aan die Here te onderwerp. Noodwendig beteken dit dan dat ek sekere dinge prysgee. Dit is die begeertes van ons sterflike aardse bestaan.
Om aan God gehoorsaam te wees, behels dan veel meer as ‘n voorneme om Hom as Here te erken. Ons moet dit baie prakties verstaan:
- Ons moenie aanhou sonde doen nie (v 1)
- Ons is sekerlik een met Christus in sy opstanding (v 5)
- Ons is daarom vry van die sonde en leef saam met Christus (v 6-8)
Hierdie nuwe lewenswyse word deur Paulus benadruk om ons te vermaan om radikaal anders te wees. Dit is onmoontlik om aan die een kant aan die sonde te bly vasklou en aan die ander kant te probeer om God te dien. Die verskoning dat ek nou maar eenmaal sondige mens is en nie kan help om voort te ploeter word hier ook die nek ingeslaan.
Een maal vernuwe deur Christus, maak my ‘n nuwe mens. ‘n Gehoorsame mens!
Dors vir meer:
Ps 40
Gebed
Here, leer my om daagliks my keuses volgens U Woord te rig. Dankie dat U my lewe verander het. Dankie dat ek U genade en liefde beleef. Amen
Ds Petrus van Blerk
GK Rietvallei
0824560235
Leave a Reply