Skriflesing: Rm 11:33 -12:8    Teks wat tref: Rm 12:1

Die eerste 11 hoofstukke van Romeine beskryf  ʼn verhoor wat afspeel waarin Paulus ons leer dat almal vandag soortgelyke omstandighede beleef.  Die mens se sondeskuld word beskrywe. Deur Christus kom daar verlossing. Aan die einde van Hoofstuk 11 kyk hy terug en oorweldig God se goedheid en onnaspeurlike weë hom. Dit beteken dat alles wat ek het van God af kom.  Daar is geen grense vir God se liefde en genade nie. God is die rede vir ons bestaan. Hy eindig met ʼn lofprysing.

Daarna doen hy ʼn beroep op ons. In die lig van God se groot ontferming volg die opdrag om ons as lewende en heilige offers aan God te gee.  Dit beteken dat my hele lewe ʼn bewys daarvan is dat Christus die fondament van alles is.  Omdat Christus my so liefhet dat Hy sy lewe vir my afgelê het, wil Hy dat ek gehoorsaam aan God sal lewe. God gee opdragte en beginsels vir ons lewenspraktyk as kinders van God.

Hiervoor is daar ʼn verandering nodig. Dit is ʼn verandering wat net God teweeg kan bring. Dit is ʼn  totale gedaanteverwisseling. Nie net ons denke word verander nie maar ook ons gesindheid. Ons dink hier aan die larwe wat in ʼn skoenlapper verander.

Om jouself vir Hom te offer is wat God van jou vra. Ek moet aktief my lewe en optrede so inrig en verander dat ek alles vir die Here opsy sit.  Heilig beteken dat ek myself aan die Here alleen verbind.  Ek doen afstand van alles wat vir my belangrik was, en gee my hele lewe aan die Here. Dink aan die dinge en plekke waar jy jou tyd bestee. Dit is so maklik om op te offer vir my stokperdjie, of vir die klub waaraan ek behoort, of tyd saam met mense wat soos ek dink en voel. Nou moet alles diensbaar aan God gestel word.

Dit beteken nie dat ek nou skielik ʼn klooster bestaan moet voer nie. Inteendeel, dit beteken dat ek vir God lewe. Met die beeld van die liggaam word dit so treffend beskryf. ʼn Liggaam kan net lewe as daar harmonie en samewerking van al die ledemate is. In Christus is ons een liggaam maar almal ook afsonderlik lede van mekaar. Dit is God se bedoeling dat ons aan mekaar diensbaar sal wees. Dit is die betekenis van offer. Dan is ek besig om net God se wil te doen.

Dit alles begin met my denke waarna my liggaam uitvoering gee om my lewenswyse en gedrag te bepaal. Nie net ons denke word verander nie maar ook ons gesindheid. Ek leef blymoedig en toegewyd.

Met Christus se offer aan die kruis, het my lewe radikaal verander. Gee jouself aan God as lewende en heilige offer.

Dors vir meer:

1 Kor 12 en Jes 6:1-8

Gebed

Here, dankie vir U groot ontferming wat vir my redding bring.  Dankie dat U my verander het.  Maak my diensbaar. Amen

Ds Petrus van Blerk

GK Rietvallei

0824560235