Jesaja 49
Teks wat tref: Jesaja 49:15-16.
Hoofstuk 49 begin met die “dienaar” van die Here wat aan die woord is. Hy vertel alles wat die Here belowe het en deur hom gaan verrig. Wat veral hier uitstaan is dat die Here jou roep nog voor jou geboorte, nog voordat jy gevorm is in die moederskoot.
Hierdie uitspraak oor die dienaar van die Here gaan nie net oor Juda wat die Here gaan gebruik om ʼn lig vir die nasies te wees nie- dit wys direk na die Messias- Jesus Christus. Die woorde het regstreeks op Hom betrekking en vind in Hom vervulling. Hy wat vir ons die perfekte voorbeeld is van die Dienaar/Kneg van die Here. Jesus Christus se roeping en taak is bevestig toe Hy nog in die moederskoot van Maria was, nog voor sy geboorte is dit aangekondig.
Vanaf vers 2 kry ons dan die roeping en taak wat Christus kom vervul het- “Hy het my mond soos ‘n skerp swaard gemaak… Hy het vir my gesê: Jy is my dienaar, jy is Israel, deur jou maak Ek my mag bekend.” So het God deur Christus sy mag bekend gemaak, almal opgeroep om Hom te verheerlik. Daarom gaan konings en leiers voor Hom buig. Reeds nou vind dit al plaas, maar met Christus se wederkoms gaan almal voor God buig.
Israel het hierdie opdrag gehad om as lig vir die nasies te lewe! Hulle moes heilig lewe en getuig van God se groot mag, maar baie kere het hul dit nie gedoen nie. Jesus Christus is dan nou Israel- die lig vir al die nasies.
Hierin vind ons dan die besonderse troos in Jesaja 49. Christus het aan die kruis uitgeroep
“Die Here het my verlaat” sodat ons nooit verlaat sal word nie.
Die fokus verse gee vir ons drie keer hierdie versekering: “Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet,
haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie?
Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor my.”
Selfs al sal ʼn moeder haar kind vergeet- die Here is getrou en sal jou nooit vergeet nie.
Die Here het ons in sy handpalms gegraveer! In alles wat Hy doen, dink Hy aan ons!
Dors vir meer:
Haggai 2 en Psalm 48.
Gebed
Here, dankie dat U, U Seun Jesus Christus gestuur het as U dienskneg sodat ons nooit deur ʼn verlaat word nie. Dankie dat ons hierdie week kan ingaan met hierdie troos en U kan verheerlik en U naam groot maak. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply