Author: Karen de Lange (Page 24 of 33)

Dagstuk 30 Julie 2020 – Opgewonde vir God met jou werk en woorde!! (Deel 2)

Skrifgedeelte: Spreuke 10:1-32                         Teks wat tref: v11

Die gemiddelde mens gebruik skynbaar 7000 woorde per dag.  Volgens hierdie berekening bestaan ‘n 5 minute gesprek uit 650 woorde.  Met soveel woorde is dit moontlik om iemand maklik te beïnvloed.  Die skrywer van Spreuke 10 merk in vers 11 en 13  op: “ Die woorde van die regverdige bring lewe en geluk en daar is wysheid in die woorde van een wat insig het.”  My woordkeuse kan kragtig wees om die wêreld en mense se denke te verander.  Ten goede of ten kwade.

Ons ken almal die kwetsende woorde van ʼn kollega wat my dalk verneder of die skeltaal as twee partye in ʼn moeilike verhouding mekaar aanval.  Daarteenoor is die strelende woorde van ʼn lied waarna ek luister effektief om my gemoed te kalmeer. Op  treffende wyse word die woorde van die regverdige met die waarde van fyn silwer vergelyk.(v20) Uit die regverdige se mond kom daar wysheid (v31) en weet die regverdige om die gepaste ding te sê. (v32)

Daar kom egter min hiervan in baie van ons eie gesprekke tereg.  Ons het die opregste bedoelings maar helaas glip daar iets uit in ʼn gesprek waaroor ek later verleë is.  Sonder om doekies om te draai noem Spreuke sulke mense huigelaars en dwase en is hulle ondergang naby. (v 14,18)

Die laaste aantal maande het talle huishoudings ingeperk gelaat met weinig geleentheid vir sosiale kontak.  Dit is in stryd met die mens se wese.  God het ons geskape om binne verhoudings te funksioneer. Ons het die opdrag ontvang om uit te gaan en sy Woord te verkondig. In stede  daarvan om hiervan weg te skram kan ek daarmee in my eie huis begin. WAAROOR praat ons wanneer ons saam aan tafel sit? HOE praat ons met mekaar en oor ander mense?  WAT leer my kinders uit gesprekke? 

Om opgewonde met jou woorde te wees beteken dat jy brûe bou.  Waak daarteen dat jou woorde geweldadig is (v6) Soms is dit beter om stil te bly. (v19) Vra jouself of  dit wat jy wil sê meer lig op ʼn saak sal werp of dalk bydra dat iemand beswadder word? Gebruik kosbare woorde (v20) en beplan jou woorde sorgvuldig.  Jy sal nie maklik enige iets skriftelik neerpen nie. Waarom sal jy dan leë en hol woorde gebruik?

Elkeen wat met sy/haar werk en woorde opgewonde is begin ʼn stroom van positiewe energie wat vreugde bring. Maar dit raak meer as jou lewe op aarde. ʼn Opregte en eerlike lewe voldoen aan God se GEREGTIGHEID – om te sê en te doen wat God se WIL is. My werk en my woorde het alles met God te make. God gee deur Christus aan ons die krag om opgewonde te werk en te praat.  In die Nuwe Testament word die woord WYSHEID ook vir Christus gebruik.

Lees weer vers 1  ——  ʼn Wyse kind maak sy Vader bly!

Wees opgewonde vir God met jou werk en jou woorde!!!

Dors vir meer:

Ps 45

Gebed

Here, leer my om my woorde te gebruik om U te verheerlik. Laat my woorde die roem van U Naam oral bekend maak.  Sien my in genade aan en vergeef my oortredinge. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk 29 Julie 2020 – Opgewonde vir God met jou werk en woorde!! (Deel 1)

Skrifgedeelte: Spreuke 10:1-32                         Teks wat tref: v1,2

Sommer met die eerste vers word ons gedwing om twee leefstyle op te weeg – Wyse optrede maak bly en dwase optrede maak hartseer. Dan tref nog ʼn vergelyking ons. “Goed wat deur onreg bekom is, bring geen voordeel nie; om te lewe volgens die wil van God red ʼn mens van die dood.”  Die wysheid wat in Spreuke 10 geleer word wil egter veel meer as dit aanspreek.  Ons leer hier meer oor dinge wat my hele dag in beslag neem en let op die woorde wat ek gebruik. 

Jou werk en woorde beslaan die grootste deel van jou dag. Gemiddeld werk jy dalk ʼn agtuur skof. Voor Covid 19 het jy moontlik twee ure werk toe en terug in die motor spandeer. Nou is jy van vroegoggend tot laataand voor die rekenaar met vergaderings besig en intussen doen jy skoolwerk of help met die versorging van ʼn geliefde. Jou dag het net te min ure.

Boonop is die woorde wat ons dan nog gebruik bitsig en vol frustrasie oor die swak regering, korrupsie en sinnelose geweld wat daagliks toeneem. Dit is dan geen wonder dat daar meer as een hoofstuk hieroor in die Bybel geskryf word nie.  Dit is maklik om mooi edel verse oor werksetiek voor te hou: – die luiaard sal honger gaan slaap. Die een wat nie sy hande uit sy moue steek nie word arm (v2) en as jy nie die oes insamel nie verdien dit veragting (v5).  Met ʼn paar sedelessies oor jou woorde en woordkeuse kan ons maklik volstaan: – Agter mooi woorde steek daar geweld (v11) en skinderstories en huigelary bring haat (v18).

Jou werk en woorde kan so erg wees dat dit kan doodmaak.  Werk en woorde kan ons vreugde steel.  Dit maak ons moeg, sat en teleurgesteld. God wil ons in Spreuke 10 leer dat ek wel opgewonde in my werk en met my woorde kan wees.  Dit is nie iets wat ek kan doen nie. Anders sou dit maklik gewees het om almal in ʼn gelukkige werk aan te stel en om almal te leer om ʼn wag voor hul mond te plaas.

En dit is waarom Spreuke so waardevol en kosbaar is.

Oor God wat jou geskape het  – jy is SPESIAAL
Oor Christus wat vir jou gesterf het – Jy is KOSBAAR
Oor die Heilige Gees wat jou OPPAS – Jy is Jesus se broer en suster.

Kom ons begin weer by vers 1.  Daar is twee moontlike paaie of leefwyses.  Op watter pad is jy? Lewe jy volgens God se wil? (v2) Luister saam na al God se beloftes:
V3 –  Leef opgewonde want die Here sal jou nie honger laat ly nie
V6 –  Leef opgewonde want die Here sal jou seën. Letterlik –  God sal dit wat jy nodig het op jou kop sit.
V11 – Leef opgewonde want jou woorde bring lewe 
V27 –  Leef opgewonde want God verleng jou dae. Ek kan hiervan seker wees want Christus het die dood oorwin.

Ons lees more verder wat dit in praktyk beteken om met jou woorde en in jou werk opgewonde te wees. 

Dors vir meer:
Jak 3

Gebed
Here, laat die oordenkinge van my hart en die woorde van my mond U welbehaaglik wees.  Plaas ʼn wag voor my mond sodat ek eers sal dink en dan sal praat. Dankie dat Jesus Christus my woorde suiwer wanneer ek tot U in gebed nader. Amen

Ds Petrus van Blerk
0824560235

Dagstuk 28 Julie 2020 – Wat om te doen as jy nie meer weet wat om te doen nie?

Skrifgedeelte: Spreuke 3:1-10                         Teks wat tref: v5,6

In ʼn suksesgedrewe wêreld is die kompetisie baie straf en word daar ook op geestelike gebied meegeding om die beste.  Onder druk lewer mense baie keer hul persoonlike beste.  Prominente leiers deel hul geheime en gee raad oor hoe om suksesvol te wees.

In Spreuke 3 word God se plan vir sukses in die leerskool van die lewe gegee.  Dit is meer as ʼn plan.  Dit is ʼn leefwyse! Dit is baie maklik om net ʼn paar mooi versies uit die Bybel aan te haal om ons te motiveer om aan te gaan as ek nie meer weet wat om te doen nie. Maar daar is nog ʼn werklikheid. Nie alles wat met my gebeur is sorgvry nie.  Die lewe laat leemtes.  En sit dan hierby nog die Westerse siening  dat ek suksesvol moet wees: Sorg dat jy die beste doen, werk elke dag net harder en spandeer meer tyd.  

Gou besef jy dat sukses nie goedkoop en maklik is nie.  Geen wonder dat die Spreuke skrywer  vers 1  met twee werkwoorde begin. – Moenie vergeet nie en maak liefde deel van jou lewe.  Dit vra dat jy  die prioriteite en waardes in jou lewe bepaal. In werklikheid gaan dit om die plek wat God in jou lewe inneem.

Meteens lei die Heilige Gees ons om ʼn nuwe lewenswyse te volg. Die lewenspad wat elke gelowige moet stap is onbekend. Jy kan nie ’n enkele sekonde of uur in die toekoms insien nie. Hoeveel probleme en krisisse jy op jou lewenspad sal hê is nie aan jou bekend nie. Daarom is dit belangrik dat jy elke situasie op jou pad hanteer deur die Here in alles wat jy doen te ken. (v6) Dit moet die bloudruk vir jou lewe wees.  Ek ken nie die toekoms nie, maar God ken dit wel.

Die skrywer sê dat jy God in ALLES moet ken. Ken God in jou verhouding tot jou ouers en jou maats, ken God in tye van ontspanning en sport, ken God in die besluit van ’n beroep wat jy moet kies, ken God in die saak as jy verlief is op iemand, ken God in die oomblikke van jou woede of jou hartseer, ken God as jy partytjie hou, ken God as jy ’n moeilike taak moet verrig, ken God as jy hartseer is of baie pyn het, ken God as jy teleurgesteld of mismoedig is. Ken God in alles …

Dit is die fondament.  Dit leer my om by God te begin. Dit herinner my aan God se VERBOND waarin Hy beloof om vir my ʼn God te wees.  Ons leer iemand eers behoorlik ken as ons daardie persoon kan sien en met daardie persoon tyd spandeer en gesprek voer.  In Christus laat God ons Hom ken. God gebruik die Nuwe Testament om vir ons van Christus te leer.  Nadat Jesus die eerste dissipels geroep het, spandeer Hy tyd saam met hulle en leer Hy hulle om Hom te ken sodat hulle daarna met krag en oortuiging optree. Dit beteken dat ek terug staan en dat God op die voorgrond tree. Die leefwyse word in vers 7,8 verder beskryf. Jy moet sekere dinge doen en ander vermy.  Dit is die geneesmiddel en verkwikking wat jou lewe verander. 

God gee nie net ʼn kitsoplossing nie.  Hy voorsien ons van ʼn werkbare oplossing. In die res van hoofstuk 3 volg ʼn detail beskrywing van die leefwyse wat die Here van my verwag. Hierdie leefwyse word beloon met oorvol skure en parskuipe wat oorloop. 

As jy nie meer weet wat om te doen nie begin by Hom wat alles ken en weet!

Dors vir meer:

Heb 12:1-3

Gebed

Here, ek is so gewoond daaraan om my eie planne te maak as dinge moeilik raak.  Ek word baie keer plat geslaan en weet dan nie wat om te doen nie. Dankie dat U my ken en deur die Heilige Gees leer om op U te vertrou. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

Dagstukkies 27-31 Julie 2020

In Spreuke kry ons kry wyse raad vir ons huwelik, werksituasie, opvoeding, humeur, skinder, eerlikheid en ander.  Dit is verbasend hoe reguit eerlik die Skrif oor elke aspek van ons lewe praat. Ons word DV deur die Gees gelei om die Skrifwaarhede konkreet in elke situasie te beleef en uit te leef. 

Dagstuk 27 Julie 2020 – Spyt kom te laat

Skrifgedeelte: Spreuke 1: 1-7                           Teks wat tref: v7

Dink vir ʼn oomblik aan die domste ding wat jy al aangevang het – Iets waaroor jy skaam is, verleë is, uitgevang is of dalk nie kon reg kry nie.  Daarby beleef ons ook nog lewensaanslae, daaglikse dilemmas, vraagstukke wat al ons aandag vra en dan nog my eie probleme.  Naas die mediese gevaar van Covid 19 is die belewenis van gevolglike spanning en angs nog meer kommerwekkend. 

Ons kan die hedendaagse mens met een woord beskryf: SOEKEND. Ons wil verstaan waarom die wêreld so omgekeer is.  As jy nie soekend is nie weet ek nie in watter wêreld jy leef nie.  Hoekom word daar in minder as ʼn week van drie plaasaanvalle gelees? Hoekom wil pornografie my nie los nie? Hoekom is my kinders rebelle?  Hoekom is my ouers so belaglik? Hoekom help niks medisyne en behandeling nie? Hoekom word kerke deur rowers geteiken vir gewapende rooftogte?

Ons het nou genoeg gesê dat ons agterkom dat mense ʼn HONGER na WYSHEID (ANTWOORDE) het. Die wêreld gee ʼn paar oplossings: Positive thinking, kry ʼn shrink, kry ʼn goeie rolmodel, of lees die baie gedagtes op Faceboek en whattsapp.  Maar daar is ʼn baie beter plan.  ʼn OPLOSSING vol INSPIRASIE wat LEWENSVERANDEREND IS.

Spreuke sal jou leer om te kan onderskei wat reg en verkeerd is.  Spreuke sal jou help om die raaisels en dubbelsinnighede van die lewe op te los. Dit is  belangrik dat jy Spreuke leer en vir jouself en jou kinders lees. Om wysheid te hê moet jy eers die Here dien  en by Hom jou wysheid kry (1:7, 2:6, 3:5-6). 

Kry jou instruksies van die Here af.  Dit beteken dat ek GOD ernstig opneem. Dit beteken dat “GOD my beïndruk” Dit vra ʼn lewende verhouding met GOD. Ek leer dat my bestaan met GOD te make het. Ek moet keuses maak. In die volgende paar dagstukkies gaan ons hieraan aandag gee.

Net soos die ploegwerk van die boer, die regte keuse ten opsigte van die beste saad, en die noukeurigheid waarmee gesaai word, die gehalte van die oes bepaal, so bepaal die keuses wat ons maak, hoe klein of hoe groot ons ook al is, die kwaliteit van ons lewensgeluk.

Dors vir meer:

2 Kron 1:11-13

Gebed

Here, daar is so baie dinge wat ek nie verstaan nie. Lei my deur U Heilige Gees om U te dien sodat ek kennis en insig kan verkry.  Dankie vir U oneindige liefde en U Woord om ons te lei om die regte keuses te maak. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

Dagstuk Vrydag 24 Julie 2020 – GROEI!

1 Petrus 2:1-10.
Teks wat tref: 1 Petrus 2:2 en 9.

Hierdie eerste brief van Petrus leer ons baie van groei! Hoe om in jou geloof te groei maar ook hoe ons saam as gelowiges moet groei. Dit alles kry ons omdat Jesus die hoeksteen is en jy is ’n lewende steen saam met ander.

Hoe kan ons verseker wees dat ons een van hierdie lewende stene is? Ons weet dit omdat ons Jesus Christus, die lewende steen, as ons Verlosser aanroep. Hy is die lewende steen wat die wêreld verwerp het, en wat vir hulle ’n steen geword het waaroor hulle struikel.
Maar ons word deur hierdie steen tot lewende stene opgebou.

Daarom bly ons weg van die wêreldse dinge, bly weg van wat sleg is soos – kwaad, bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery. Nie net moet ons wegbly nie, ons moet smag, dors na die geestelike dinge. Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry (vers 2).

Hierdie groei vind nie net ter wille van ons en ons saligheid plaas nie. Nee, ons groei is gevestig op die hoeksteen van Jesus Christus, die belangrikste klip, deur ander afgekeur maar vir ons die rots waarop ons bou.
Daarom bid ons dat God sy Gees sal gebruik om huis te bou met ons- lewende klippe. ʼn Huis word nie net gebou met een of twee klippe nie, maar baie klippe wat op die regte plek sorgvuldig gepak word.
So word ons opgebou om gewyde priesters te wees om offers vir God te bring. Deur Jesus Christus kan ons offers bring wat vir God welgevallig is.
Voorheen was ons nie ʼn volk nie, maar nou is ons God se volk, God wat goed is vir ons. Hy wat ons vanuit die donker geroep het, gekies het om sy volk te wees. Laat ons vir almal vertel van die groot dinge wat God gedoen het!

Dors vir meer:
Psalm 118 en Psalm 34

Gebed
Dankie Here dat U ons gekies om vir u ʼn volk te wees. Lei ons om te groei in alle aspekte van ons geloof. Dankie dat U dit doen ter wille van Jesus Christus en U Heilige Gees. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Donderdag 23 Julie 2020 – Wees van harte lief vir mekaar!

1 Petrus 1:22-25.
Teks wat tref: 1 Petrus 1:22.

Gister se oproep om heilig te lewe is nie net teenoor die Here gerig nie. Ons geloof leef ons ook uit teenoor mekaar. Daarom hierdie belangrike oproep, wees van harte lief vir mekaar vanuit ʼn rein hart. Dit is immers wat by persone pas wat die onvoorwaardelik en nimmereindigend God se liefde ervaar. Om mekaar van harte lief te hê kan ook beteken dat ons mekaar nooit sal ophou liefhê nie.
Het ons werklik mekaar in die gemeente van harte lief? Hoe is jou houding en ingesteldheid teenoor mekaar, in julle wyk? Hierdie Inperking gee vir ons die geleentheid om hierdie liefde uit te leef. Wanneer ons mekaar liefhê, dan vervaag ons eie uitdagings en omstandighede deurdat ons ten volle meeleef met ander se omstandighede en ook omdat ons seker is van die ondersteuning van mekaar.

Meer nog, ons is verseker van hoe ons deur die Here wedergebore is- nie vanuit die verganklike nie, maar deur die lewende woord van God wat altyd bly! Die mens is maar soos ʼn blom wat verdroog en afval, maar die Here se woord bly tot in ewigheid- die goeie nuus wat aan ons verkondig is.

Uit hierdie eerste hoofstuk van 1 Petrus het ons die aansporing ontvang om in alles, sonder vrees, heiligheid na te jaag en dit as geskenk van God te ontvang.
Daarom het ons onophoudelik en van harte lief! Dit alles deur die werking van God drie-enig: Die Vader het ons vooraf uitverkies (vers 1,2 en 20), gereinig deur Christus se bloed en ʼn nuwe lewe ontvang (vers 2 en 19) en deur Heilige Gees se heiligmakende krag begelei tot gehoorsaamheid aan God (vers 2,5 en 12).
Kom ons wees opnuut hartlik lief vir die Here en ook vir mekaar!

Dors vir meer:
Romeine 13:8-14 en 1 Johannes 2:7-17.

Gebed
Efesiërs 3:14 Daarom kniel ek voor die Vader. 15 Hy is die Vader van elke gemeenskap in die hemel en op die aarde. 16 Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word. 17 Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. 18 Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. 19 Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word. 20 Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra. 21 Die kerk wat aan Christus Jesus verbind is, moet Hom prys deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid! Amen. (NLV).

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Woensdag 22 Julie 2020 – Wees Heilig want God is heilig!

1 Petrus 1:13-21.
Teks wat tref: 1 Petrus 1:15-16.

Die Here roep ons vanoggend op om verstandelik paraat te wees (letterlik in die Grieks, omgord die heupe van jul verstand), wees helder van gees (nugter) en hoop volkome op God se genade.
Duidelik word ons opgeroep om nie te lewe soos voorheen nie (moenie laat ons gedrag deur ons begeertes gevorm word nie), maar wees heilig soos wat God heilig is.
Jou hele lewe moet getuig van God se heiligheid wat God is heilig. Dit het die Here reeds aan sy volk in Levitikus 11:44-45 geleer.
Weereens word ons deur hierdie gedeelte herinner dat ons nie met verganklike dinge soos goud en silwer losgekoop is nie, maar met die kosbare bloed van Jesus Christus.
In die latere hoofstukke gaan daar vir ons baie meer uitgelig word hoe ons hierdie heiligheid moet uitlewe in al die fasette van ons lewens.
Vanoggend moet ons raaksien dat ons moet leef soos God- heilig want God is heilig. Ons kan dit doen deur die voorbeeld van Christus na te volg. Jesus is vir ons die voorbeeld (en inhoud) van ons geloof. Dit is Christus se offer wat ons in die regte verhouding met God bring- Hy wat soos ʼn lam, vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek is.

Moet ons dan wegskram van hierdie opdrag om heilig te lewe? Kan ek dit ooit bereik? Ons hoef glad nie hiervan weg te skram nie, want die Here vra nie van ons om dit in eie krag te doen nie. God gee nie ooit vir ons ʼn opdrag wat in die lug hang nie, ons moet heilig lewe want die Here het ons reeds verander en sy kinders gemaak. Al is ons “uitlanders” moet ons lewe elke dag ingerig word volgens die hoop wat daar in ons lewens is.
Die feit dat Christus uit die dood opgewek is en dit aan ons bekendgemaak is, maak dat ons ons geloof en hoop om God kan rig! Ons gaan deel in sy heerlikheid met die terugkeer van Jesus Christus.

Dors vir meer:
Matteus 5:43-48 en Levitikus 20.

Gebed
Here dié Here!. Dankie dat U ons U kinders maak deur Jesus Christus. Lei ons daarom deur U Gees dat ons ook heilig kan wees soos wat U heilig is. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Dinsdag 21 Julie 2020 – Die Here gee vir ons die geloofsekerheid!

1 Petrus 1:3-8.

Teks wat tref: 1 Petrus 1:5.

Petrus herinner ons aan die hoop wat daar vir ons is omdat Christus uit die dood opgestaan het.  Alle eer aan God vir die nuwe lewe en die wonderlike vooruitsig wat Hy aan ons gee!

Nie net het God ons uitverkies en die proses van wedergeboorte in ons gewerk nie, Hy hou ook ons erfporsie veilig by Hom. ʼn Erfenis wat baie meer werd is as enige aardse skat, baie meer waardevol as goud.  Anders as ons aardse skatte sal die hemelse skat nooit kan vergaan nie. 

Met Covid-19 besef ons opnuut hoe maklik kan die aardse dinge vergaan, maar hierdie skat, die verlossing wat daar reeds nou vir ons is, sal met die wederkoms vir ons ten volle bekendgemaak word. 

Deur die krag van God word ons nou veilig bewaar sodat ons met die wederkoms kan deel in hierdie hemelse skat.  Die Heilige Gees bewaar en lei ons op ons lewenspad.  Net omdat ons glo kan elkeen van ons nou verseker wees van hierdie erfenis.

Hoekom het ons dan nou beproewinge?  Hoekom gaan ons nou deur so ʼn moeilike tyd?  Hierdie pandemie en inperking is tog nie ons skuld nie?

Deur die geloof kan ons nou sien dat ons bly kan wees as allerhande beproewings oor ons pad kom.

Die rede vir die beproewing is om ons geloof te versterk en te suiwer.  Die beeld van goud wat eers gesuiwer moet word deur dit in die smeltoond skoon te brand word hier gebruik.  As die goud nie gesuiwer word, is dit nog steeds waardevol, maar dis soveel meer waardevol as dit gesuiwer is deur die vuur. So word ons geloof dan ook gesuiwer sodat die heerlikheid van ons geloofsinbegrepenheid in die nuwe lewe skitterend en sonder vlek kan gloei in die liggloed van Christus se wederkoms. 

Maar selfs die mees bedroewende omstandighede kan nie ons diepe lewensvreugde oor die vervulling van waarheen ons lewe oppad is, uitdoof nie. Beproewinge druk ons nie dood nie. Dit het juis die doel om ons geloof al hoe suiwerder op God, die Bron van ons lewe in Christus, te rig.

Onthou, ons geloof is baie meer kosbaarder vir die Here as goud, of enige aardse middele en omstandighede, ervaar nou hierdie blydskap want ons is reeds besig om die finale verlossing te verkry- God bewaar ons hiertoe!

Dors vir meer:

1 Johannes 5:13-21 en Hebreërs 12:1-13

Gebed

Here, ons wil U elke dag loof en prys vir die heerlikheid van ons nuwe lewe en sekerheid van ons toekomstige heil ten spyte van ons beproewings. Amen

Ds Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 20 Julie 2020 – Vreemdelinge maar tog uitverkorenes van God.

1 Petrus 1:1-3.

Teks wat tref: 1 Petrus 1:1.

Hierdie week staan ons stil by die eerste brief van die Apostel Petrus.  Petrus skryf hierdie brief in ongeveer 65 n.C. aan die vreemdelinge wat verstrooid leef in die provinsies van Romeinse Ryk.  Hy noem hulle vreemdelinge, nie omdat hy nie die lesers ken nie (daar is vir ons geen getuienis dat Petrus hierdie streke bedien het nie).  Hy noem hulle vreemdelinge omdat hulle as gevolg van die Christelike vervolging moes gevlug het vanuit Jerusalem en hulle in vreemde dele gaan vestig het.  Hier is hulle vreemdelinge want hulle is nie deel van hierdie kultuur nie, praat ʼn ander taal en is nie burgers van hierdie streke nie. 

Dit is baie soos wat ons vandag in Suid-Afrika beleef met die uitlanders vanuit Afrika wat hul kom vestig in  Suid-Afrika, opsoek na ʼn beter lewe.

Petrus noem hul vreemdelinge, of uitlanders, nie net oor die politieke situasie nie, maar om ook hulle geestelike vreemdelingskap aan te dui.  Hulle is nie net burgers van hierdie wêreld nie, maar is burgers van die hemelse koninkryk.

So mag ons dalk ook voel vanoggend- ons is vreemdelinge waarop mense neersien.  Die Inperking laat ons nog meer soos vreemdelinge voel.  Die mense wat ons ken en liefhet, kan ons nie nou besoek nie.  Ons voel soos vreemdelinge omdat ons nie soos altyd op ʼn Sondag kan bymekaar kom nie.

Maar dan besef ons opnuut, ja ons is vreemdelinge, maar ons is ook die uitverkorenes van God.  God die Vader het ons al lank gelede uitverkies en deur die Heilige Gees aan Hom toegewy en geheilig.

In die oë van ander mense (en soms ook in ons eie oë) mag ons dalk niks wees.  Maar voor God is ons so kosbaar dat Hy sy Seun Jesus Christus vir ons laat sterf het.  Deur die bloed van Jesus Christus is ons skoongewas.

Om te weet dat jy ʼn uitverkore kind van die God is, beteken dat ons weet ons verlossing (en ons sekerheid van die ewige lewe) lê nie by ons nie, maar by God self. Hierdie week kyk ons dan verder hoe geen beproewing, geen verontregting, geen omstandighede die ewige lewe en verlossing wat God ons skenk van ons kan wegneem nie.

Mag God se onverdiende liefde en goedheid en vrede steeds meer en meer in ons leef!

Dors vir meer:

Filippense 3:12-20 en Johannes 17:6-26

Gebed

Here ons God ons bid tot U want ons behoort aan U.  Dankie dat U ons lank tevore uitverkies het en alles bepaal en gegee het sodat ons gered kan word.  Dankie dat ons verlossing vas en seker is en ons vanuit hierdie sekerheid in ʼn onsen ons vanuit hierdie sekerheid in ʼn onsekere wêreld kan leef. Amen.

Ds Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.

Dagstuk 17 Julie 2020 – Met of sonder gebed

Ons sluit hierdie week se dagstukkies oor geloofsgroei af met Jesus se gebed in Johannes 17.  

Skrifgedeelte: Joh 17:1-26                           Teks wat tref: v11,24

Na al die teleurstellings en ontberings van die vorige hoofstukke war Jesus sonde rede gehaat is, en die wêreld die dissipels van blydskap beroof het eindig Johannes 16 op ʼn hoë noot. Al sou ons dit in die wêreld moeilik hê, kan ons moed hou want Jesus het die wêreld klaar oorwin. Dit beteken dat daar niks is wat ons van stryk sal bring nie.

Daar sal wel nog aanslae wees, maar ek hoef nie te vrees nie. Christus het van sy Vader die volmag ontvang om aan almal wat sy Vader Hom gegee het, die ewige lewe te gee.  Sy werk op aarde is volbring en die tyd het aangebreek dat Hy verheerlik sal word.  Christus het seker gemaak dat ons sy Vader ken en dat ons sy woorde hoor.  Daarna leer Jesus  ons dat ek deur gebed geestelik groei.

Vanaf vers 9-26 bid Jesus met die teerste woorde tot sy Vader vir elkeen wat aan Hom behoort.  Christus se verbintenis aan ons is so belangrik dat Hy dit opnuut beklemtoon.  Elkeen wat deel het aan Hom, sal nog in die wêreld bly. Luister na ons Here Jesus se woorde in vers 11: “Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het sodat hulle net soos Ons een kan wees.” Christus se gebed getuig van eerbied en vertroue. Wanneer ons bid, kan ons hierdie voorbeeld van ons Meester ter harte neem.  Dit vertel weer van God se liefde. Sy oneindige liefde wat ons beskerm en nie verlore laat gaan nie. 

Opvallend genoeg bid Jesus tot sy Vader terwyl Hy nog op aarde is.  Dit bring blydskap en geborgenheid.  Daarna wys Christus sy deernis vir ons. Terwyl ons nog op aarde is om te groei en vrug te dra, word ons taak opnuut beklemtoon. Dit is ons verantwoordelikheid om om ons Here se boodskap uit te  dra.  Jesus weet dat daar aanslae sal kom.  Hy vra sy Vader daarom om ons van die Bose te bewaar.  Terwyl ons in onseker tye leef en aanslae en aanvalle moet trotseer, is ons nooit alleen nie.  Christus dink aan alles. Aan die kruis betaal Hy die hoogste offer om ons aan God te wy.  Daardeur word ons almal een met Hom en sy Vader. 

Christus bid ook dat ons by Hom kan wees. Die opregte en tere woorde in vers 24 val ons op: “Vader, Ek wil graag hê dat waar ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees.” Dit laat ons na die wederkoms van ons Here uitsien. Christus verkondig hiermee dat my ewige bestemming as kind van die Here nou reeds seker is.  Terwyl Hy aan die regterhand van sy Vader sit, maak Hy dit verder bekend. 

Die bekende filosoof Kierkegaard het eenmaal opgemerk dat my gebed God in sy Almag nooit kan verander nie.  Dit verander my!   Mag Christus se gebed, op die stadium dat Hy al geweet het dat Hy binnekort aan die kruis sou sterf, as voorbeeld dien in my geestelike groeiproses. 

Wanneer die wêreld jou ʼn paar dwarsklappe gee, wanneer die onreg toeneem en ons teen die bors stuit, wanneer ek wil moed opgee, kan ek weet dat Jesus vir my bid!

Dors vir meer:

Lukas 11:1-13 en Markus 14:22-32

Gebed

Here, dankie dat U die wêreld klaar oorwin het. Dankie dat ek mag weet dat U vir ons gaan plek voorberei het.  Ek weet dat ek nooit alleen is nie.  Leer ons om ook in gebed te volhard. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235

« Older posts Newer posts »