Skrifgedeelte: Spreuke 10:1-32 Teks wat tref: v1,2
Sommer met die eerste vers word ons gedwing om twee leefstyle op te weeg – Wyse optrede maak bly en dwase optrede maak hartseer. Dan tref nog ʼn vergelyking ons. “Goed wat deur onreg bekom is, bring geen voordeel nie; om te lewe volgens die wil van God red ʼn mens van die dood.” Die wysheid wat in Spreuke 10 geleer word wil egter veel meer as dit aanspreek. Ons leer hier meer oor dinge wat my hele dag in beslag neem en let op die woorde wat ek gebruik.
Jou werk en woorde beslaan die grootste deel van jou dag. Gemiddeld werk jy dalk ʼn agtuur skof. Voor Covid 19 het jy moontlik twee ure werk toe en terug in die motor spandeer. Nou is jy van vroegoggend tot laataand voor die rekenaar met vergaderings besig en intussen doen jy skoolwerk of help met die versorging van ʼn geliefde. Jou dag het net te min ure.
Boonop is die woorde wat ons dan nog gebruik bitsig en vol frustrasie oor die swak regering, korrupsie en sinnelose geweld wat daagliks toeneem. Dit is dan geen wonder dat daar meer as een hoofstuk hieroor in die Bybel geskryf word nie. Dit is maklik om mooi edel verse oor werksetiek voor te hou: – die luiaard sal honger gaan slaap. Die een wat nie sy hande uit sy moue steek nie word arm (v2) en as jy nie die oes insamel nie verdien dit veragting (v5). Met ʼn paar sedelessies oor jou woorde en woordkeuse kan ons maklik volstaan: – Agter mooi woorde steek daar geweld (v11) en skinderstories en huigelary bring haat (v18).
Jou werk en woorde kan so erg wees dat dit kan doodmaak. Werk en woorde kan ons vreugde steel. Dit maak ons moeg, sat en teleurgesteld. God wil ons in Spreuke 10 leer dat ek wel opgewonde in my werk en met my woorde kan wees. Dit is nie iets wat ek kan doen nie. Anders sou dit maklik gewees het om almal in ʼn gelukkige werk aan te stel en om almal te leer om ʼn wag voor hul mond te plaas.
En dit is waarom Spreuke so waardevol en kosbaar is.
Oor God wat jou geskape het – jy is SPESIAAL
Oor Christus wat vir jou gesterf het – Jy is KOSBAAR
Oor die Heilige Gees wat jou OPPAS – Jy is Jesus se broer en suster.
Kom ons begin weer by vers 1. Daar is twee moontlike paaie of leefwyses. Op watter pad is jy? Lewe jy volgens God se wil? (v2) Luister saam na al God se beloftes:
V3 – Leef opgewonde want die Here sal jou nie honger laat ly nie
V6 – Leef opgewonde want die Here sal jou seën. Letterlik – God sal dit wat jy nodig het op jou kop sit.
V11 – Leef opgewonde want jou woorde bring lewe
V27 – Leef opgewonde want God verleng jou dae. Ek kan hiervan seker wees want Christus het die dood oorwin.
Ons lees more verder wat dit in praktyk beteken om met jou woorde en in jou werk opgewonde te wees.
Dors vir meer:
Jak 3
Gebed
Here, laat die oordenkinge van my hart en die woorde van my mond U welbehaaglik wees. Plaas ʼn wag voor my mond sodat ek eers sal dink en dan sal praat. Dankie dat Jesus Christus my woorde suiwer wanneer ek tot U in gebed nader. Amen
Ds Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply