Skrifgedeelte: Spreuke 3:1-10                         Teks wat tref: v5,6

In ʼn suksesgedrewe wêreld is die kompetisie baie straf en word daar ook op geestelike gebied meegeding om die beste.  Onder druk lewer mense baie keer hul persoonlike beste.  Prominente leiers deel hul geheime en gee raad oor hoe om suksesvol te wees.

In Spreuke 3 word God se plan vir sukses in die leerskool van die lewe gegee.  Dit is meer as ʼn plan.  Dit is ʼn leefwyse! Dit is baie maklik om net ʼn paar mooi versies uit die Bybel aan te haal om ons te motiveer om aan te gaan as ek nie meer weet wat om te doen nie. Maar daar is nog ʼn werklikheid. Nie alles wat met my gebeur is sorgvry nie.  Die lewe laat leemtes.  En sit dan hierby nog die Westerse siening  dat ek suksesvol moet wees: Sorg dat jy die beste doen, werk elke dag net harder en spandeer meer tyd.  

Gou besef jy dat sukses nie goedkoop en maklik is nie.  Geen wonder dat die Spreuke skrywer  vers 1  met twee werkwoorde begin. – Moenie vergeet nie en maak liefde deel van jou lewe.  Dit vra dat jy  die prioriteite en waardes in jou lewe bepaal. In werklikheid gaan dit om die plek wat God in jou lewe inneem.

Meteens lei die Heilige Gees ons om ʼn nuwe lewenswyse te volg. Die lewenspad wat elke gelowige moet stap is onbekend. Jy kan nie ’n enkele sekonde of uur in die toekoms insien nie. Hoeveel probleme en krisisse jy op jou lewenspad sal hê is nie aan jou bekend nie. Daarom is dit belangrik dat jy elke situasie op jou pad hanteer deur die Here in alles wat jy doen te ken. (v6) Dit moet die bloudruk vir jou lewe wees.  Ek ken nie die toekoms nie, maar God ken dit wel.

Die skrywer sê dat jy God in ALLES moet ken. Ken God in jou verhouding tot jou ouers en jou maats, ken God in tye van ontspanning en sport, ken God in die besluit van ’n beroep wat jy moet kies, ken God in die saak as jy verlief is op iemand, ken God in die oomblikke van jou woede of jou hartseer, ken God as jy partytjie hou, ken God as jy ’n moeilike taak moet verrig, ken God as jy hartseer is of baie pyn het, ken God as jy teleurgesteld of mismoedig is. Ken God in alles …

Dit is die fondament.  Dit leer my om by God te begin. Dit herinner my aan God se VERBOND waarin Hy beloof om vir my ʼn God te wees.  Ons leer iemand eers behoorlik ken as ons daardie persoon kan sien en met daardie persoon tyd spandeer en gesprek voer.  In Christus laat God ons Hom ken. God gebruik die Nuwe Testament om vir ons van Christus te leer.  Nadat Jesus die eerste dissipels geroep het, spandeer Hy tyd saam met hulle en leer Hy hulle om Hom te ken sodat hulle daarna met krag en oortuiging optree. Dit beteken dat ek terug staan en dat God op die voorgrond tree. Die leefwyse word in vers 7,8 verder beskryf. Jy moet sekere dinge doen en ander vermy.  Dit is die geneesmiddel en verkwikking wat jou lewe verander. 

God gee nie net ʼn kitsoplossing nie.  Hy voorsien ons van ʼn werkbare oplossing. In die res van hoofstuk 3 volg ʼn detail beskrywing van die leefwyse wat die Here van my verwag. Hierdie leefwyse word beloon met oorvol skure en parskuipe wat oorloop. 

As jy nie meer weet wat om te doen nie begin by Hom wat alles ken en weet!

Dors vir meer:

Heb 12:1-3

Gebed

Here, ek is so gewoond daaraan om my eie planne te maak as dinge moeilik raak.  Ek word baie keer plat geslaan en weet dan nie wat om te doen nie. Dankie dat U my ken en deur die Heilige Gees leer om op U te vertrou. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235