In Spreuke kry ons kry wyse raad vir ons huwelik, werksituasie, opvoeding, humeur, skinder, eerlikheid en ander.  Dit is verbasend hoe reguit eerlik die Skrif oor elke aspek van ons lewe praat. Ons word DV deur die Gees gelei om die Skrifwaarhede konkreet in elke situasie te beleef en uit te leef. 

Dagstuk 27 Julie 2020 – Spyt kom te laat

Skrifgedeelte: Spreuke 1: 1-7                           Teks wat tref: v7

Dink vir ʼn oomblik aan die domste ding wat jy al aangevang het – Iets waaroor jy skaam is, verleë is, uitgevang is of dalk nie kon reg kry nie.  Daarby beleef ons ook nog lewensaanslae, daaglikse dilemmas, vraagstukke wat al ons aandag vra en dan nog my eie probleme.  Naas die mediese gevaar van Covid 19 is die belewenis van gevolglike spanning en angs nog meer kommerwekkend. 

Ons kan die hedendaagse mens met een woord beskryf: SOEKEND. Ons wil verstaan waarom die wêreld so omgekeer is.  As jy nie soekend is nie weet ek nie in watter wêreld jy leef nie.  Hoekom word daar in minder as ʼn week van drie plaasaanvalle gelees? Hoekom wil pornografie my nie los nie? Hoekom is my kinders rebelle?  Hoekom is my ouers so belaglik? Hoekom help niks medisyne en behandeling nie? Hoekom word kerke deur rowers geteiken vir gewapende rooftogte?

Ons het nou genoeg gesê dat ons agterkom dat mense ʼn HONGER na WYSHEID (ANTWOORDE) het. Die wêreld gee ʼn paar oplossings: Positive thinking, kry ʼn shrink, kry ʼn goeie rolmodel, of lees die baie gedagtes op Faceboek en whattsapp.  Maar daar is ʼn baie beter plan.  ʼn OPLOSSING vol INSPIRASIE wat LEWENSVERANDEREND IS.

Spreuke sal jou leer om te kan onderskei wat reg en verkeerd is.  Spreuke sal jou help om die raaisels en dubbelsinnighede van die lewe op te los. Dit is  belangrik dat jy Spreuke leer en vir jouself en jou kinders lees. Om wysheid te hê moet jy eers die Here dien  en by Hom jou wysheid kry (1:7, 2:6, 3:5-6). 

Kry jou instruksies van die Here af.  Dit beteken dat ek GOD ernstig opneem. Dit beteken dat “GOD my beïndruk” Dit vra ʼn lewende verhouding met GOD. Ek leer dat my bestaan met GOD te make het. Ek moet keuses maak. In die volgende paar dagstukkies gaan ons hieraan aandag gee.

Net soos die ploegwerk van die boer, die regte keuse ten opsigte van die beste saad, en die noukeurigheid waarmee gesaai word, die gehalte van die oes bepaal, so bepaal die keuses wat ons maak, hoe klein of hoe groot ons ook al is, die kwaliteit van ons lewensgeluk.

Dors vir meer:

2 Kron 1:11-13

Gebed

Here, daar is so baie dinge wat ek nie verstaan nie. Lei my deur U Heilige Gees om U te dien sodat ek kennis en insig kan verkry.  Dankie vir U oneindige liefde en U Woord om ons te lei om die regte keuses te maak. Amen

Ds Petrus van Blerk

0824560235