1 Petrus 2:1-10.
Teks wat tref: 1 Petrus 2:2 en 9.
Hierdie eerste brief van Petrus leer ons baie van groei! Hoe om in jou geloof te groei maar ook hoe ons saam as gelowiges moet groei. Dit alles kry ons omdat Jesus die hoeksteen is en jy is ’n lewende steen saam met ander.
Hoe kan ons verseker wees dat ons een van hierdie lewende stene is? Ons weet dit omdat ons Jesus Christus, die lewende steen, as ons Verlosser aanroep. Hy is die lewende steen wat die wêreld verwerp het, en wat vir hulle ’n steen geword het waaroor hulle struikel.
Maar ons word deur hierdie steen tot lewende stene opgebou.
Daarom bly ons weg van die wêreldse dinge, bly weg van wat sleg is soos – kwaad, bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery. Nie net moet ons wegbly nie, ons moet smag, dors na die geestelike dinge. Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry (vers 2).
Hierdie groei vind nie net ter wille van ons en ons saligheid plaas nie. Nee, ons groei is gevestig op die hoeksteen van Jesus Christus, die belangrikste klip, deur ander afgekeur maar vir ons die rots waarop ons bou.
Daarom bid ons dat God sy Gees sal gebruik om huis te bou met ons- lewende klippe. ʼn Huis word nie net gebou met een of twee klippe nie, maar baie klippe wat op die regte plek sorgvuldig gepak word.
So word ons opgebou om gewyde priesters te wees om offers vir God te bring. Deur Jesus Christus kan ons offers bring wat vir God welgevallig is.
Voorheen was ons nie ʼn volk nie, maar nou is ons God se volk, God wat goed is vir ons. Hy wat ons vanuit die donker geroep het, gekies het om sy volk te wees. Laat ons vir almal vertel van die groot dinge wat God gedoen het!
Dors vir meer:
Psalm 118 en Psalm 34
Gebed
Dankie Here dat U ons gekies om vir u ʼn volk te wees. Lei ons om te groei in alle aspekte van ons geloof. Dankie dat U dit doen ter wille van Jesus Christus en U Heilige Gees. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply