1 Petrus 1:22-25.
Teks wat tref: 1 Petrus 1:22.

Gister se oproep om heilig te lewe is nie net teenoor die Here gerig nie. Ons geloof leef ons ook uit teenoor mekaar. Daarom hierdie belangrike oproep, wees van harte lief vir mekaar vanuit ʼn rein hart. Dit is immers wat by persone pas wat die onvoorwaardelik en nimmereindigend God se liefde ervaar. Om mekaar van harte lief te hê kan ook beteken dat ons mekaar nooit sal ophou liefhê nie.
Het ons werklik mekaar in die gemeente van harte lief? Hoe is jou houding en ingesteldheid teenoor mekaar, in julle wyk? Hierdie Inperking gee vir ons die geleentheid om hierdie liefde uit te leef. Wanneer ons mekaar liefhê, dan vervaag ons eie uitdagings en omstandighede deurdat ons ten volle meeleef met ander se omstandighede en ook omdat ons seker is van die ondersteuning van mekaar.

Meer nog, ons is verseker van hoe ons deur die Here wedergebore is- nie vanuit die verganklike nie, maar deur die lewende woord van God wat altyd bly! Die mens is maar soos ʼn blom wat verdroog en afval, maar die Here se woord bly tot in ewigheid- die goeie nuus wat aan ons verkondig is.

Uit hierdie eerste hoofstuk van 1 Petrus het ons die aansporing ontvang om in alles, sonder vrees, heiligheid na te jaag en dit as geskenk van God te ontvang.
Daarom het ons onophoudelik en van harte lief! Dit alles deur die werking van God drie-enig: Die Vader het ons vooraf uitverkies (vers 1,2 en 20), gereinig deur Christus se bloed en ʼn nuwe lewe ontvang (vers 2 en 19) en deur Heilige Gees se heiligmakende krag begelei tot gehoorsaamheid aan God (vers 2,5 en 12).
Kom ons wees opnuut hartlik lief vir die Here en ook vir mekaar!

Dors vir meer:
Romeine 13:8-14 en 1 Johannes 2:7-17.

Gebed
Efesiërs 3:14 Daarom kniel ek voor die Vader. 15 Hy is die Vader van elke gemeenskap in die hemel en op die aarde. 16 Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word. 17 Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. 18 Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. 19 Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word. 20 Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra. 21 Die kerk wat aan Christus Jesus verbind is, moet Hom prys deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid! Amen. (NLV).

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.