1 Petrus 1:13-21.
Teks wat tref: 1 Petrus 1:15-16.

Die Here roep ons vanoggend op om verstandelik paraat te wees (letterlik in die Grieks, omgord die heupe van jul verstand), wees helder van gees (nugter) en hoop volkome op God se genade.
Duidelik word ons opgeroep om nie te lewe soos voorheen nie (moenie laat ons gedrag deur ons begeertes gevorm word nie), maar wees heilig soos wat God heilig is.
Jou hele lewe moet getuig van God se heiligheid wat God is heilig. Dit het die Here reeds aan sy volk in Levitikus 11:44-45 geleer.
Weereens word ons deur hierdie gedeelte herinner dat ons nie met verganklike dinge soos goud en silwer losgekoop is nie, maar met die kosbare bloed van Jesus Christus.
In die latere hoofstukke gaan daar vir ons baie meer uitgelig word hoe ons hierdie heiligheid moet uitlewe in al die fasette van ons lewens.
Vanoggend moet ons raaksien dat ons moet leef soos God- heilig want God is heilig. Ons kan dit doen deur die voorbeeld van Christus na te volg. Jesus is vir ons die voorbeeld (en inhoud) van ons geloof. Dit is Christus se offer wat ons in die regte verhouding met God bring- Hy wat soos ʼn lam, vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek is.

Moet ons dan wegskram van hierdie opdrag om heilig te lewe? Kan ek dit ooit bereik? Ons hoef glad nie hiervan weg te skram nie, want die Here vra nie van ons om dit in eie krag te doen nie. God gee nie ooit vir ons ʼn opdrag wat in die lug hang nie, ons moet heilig lewe want die Here het ons reeds verander en sy kinders gemaak. Al is ons “uitlanders” moet ons lewe elke dag ingerig word volgens die hoop wat daar in ons lewens is.
Die feit dat Christus uit die dood opgewek is en dit aan ons bekendgemaak is, maak dat ons ons geloof en hoop om God kan rig! Ons gaan deel in sy heerlikheid met die terugkeer van Jesus Christus.

Dors vir meer:
Matteus 5:43-48 en Levitikus 20.

Gebed
Here dié Here!. Dankie dat U ons U kinders maak deur Jesus Christus. Lei ons daarom deur U Gees dat ons ook heilig kan wees soos wat U heilig is. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.