1 Petrus 1:3-8.

Teks wat tref: 1 Petrus 1:5.

Petrus herinner ons aan die hoop wat daar vir ons is omdat Christus uit die dood opgestaan het.  Alle eer aan God vir die nuwe lewe en die wonderlike vooruitsig wat Hy aan ons gee!

Nie net het God ons uitverkies en die proses van wedergeboorte in ons gewerk nie, Hy hou ook ons erfporsie veilig by Hom. ʼn Erfenis wat baie meer werd is as enige aardse skat, baie meer waardevol as goud.  Anders as ons aardse skatte sal die hemelse skat nooit kan vergaan nie. 

Met Covid-19 besef ons opnuut hoe maklik kan die aardse dinge vergaan, maar hierdie skat, die verlossing wat daar reeds nou vir ons is, sal met die wederkoms vir ons ten volle bekendgemaak word. 

Deur die krag van God word ons nou veilig bewaar sodat ons met die wederkoms kan deel in hierdie hemelse skat.  Die Heilige Gees bewaar en lei ons op ons lewenspad.  Net omdat ons glo kan elkeen van ons nou verseker wees van hierdie erfenis.

Hoekom het ons dan nou beproewinge?  Hoekom gaan ons nou deur so ʼn moeilike tyd?  Hierdie pandemie en inperking is tog nie ons skuld nie?

Deur die geloof kan ons nou sien dat ons bly kan wees as allerhande beproewings oor ons pad kom.

Die rede vir die beproewing is om ons geloof te versterk en te suiwer.  Die beeld van goud wat eers gesuiwer moet word deur dit in die smeltoond skoon te brand word hier gebruik.  As die goud nie gesuiwer word, is dit nog steeds waardevol, maar dis soveel meer waardevol as dit gesuiwer is deur die vuur. So word ons geloof dan ook gesuiwer sodat die heerlikheid van ons geloofsinbegrepenheid in die nuwe lewe skitterend en sonder vlek kan gloei in die liggloed van Christus se wederkoms. 

Maar selfs die mees bedroewende omstandighede kan nie ons diepe lewensvreugde oor die vervulling van waarheen ons lewe oppad is, uitdoof nie. Beproewinge druk ons nie dood nie. Dit het juis die doel om ons geloof al hoe suiwerder op God, die Bron van ons lewe in Christus, te rig.

Onthou, ons geloof is baie meer kosbaarder vir die Here as goud, of enige aardse middele en omstandighede, ervaar nou hierdie blydskap want ons is reeds besig om die finale verlossing te verkry- God bewaar ons hiertoe!

Dors vir meer:

1 Johannes 5:13-21 en Hebreërs 12:1-13

Gebed

Here, ons wil U elke dag loof en prys vir die heerlikheid van ons nuwe lewe en sekerheid van ons toekomstige heil ten spyte van ons beproewings. Amen

Ds Danie Potgieter

072 272 9631

GK Rietvallei.