1 Petrus 1:1-3.
Teks wat tref: 1 Petrus 1:1.
Hierdie week staan ons stil by die eerste brief van die Apostel Petrus. Petrus skryf hierdie brief in ongeveer 65 n.C. aan die vreemdelinge wat verstrooid leef in die provinsies van Romeinse Ryk. Hy noem hulle vreemdelinge, nie omdat hy nie die lesers ken nie (daar is vir ons geen getuienis dat Petrus hierdie streke bedien het nie). Hy noem hulle vreemdelinge omdat hulle as gevolg van die Christelike vervolging moes gevlug het vanuit Jerusalem en hulle in vreemde dele gaan vestig het. Hier is hulle vreemdelinge want hulle is nie deel van hierdie kultuur nie, praat ʼn ander taal en is nie burgers van hierdie streke nie.
Dit is baie soos wat ons vandag in Suid-Afrika beleef met die uitlanders vanuit Afrika wat hul kom vestig in Suid-Afrika, opsoek na ʼn beter lewe.
Petrus noem hul vreemdelinge, of uitlanders, nie net oor die politieke situasie nie, maar om ook hulle geestelike vreemdelingskap aan te dui. Hulle is nie net burgers van hierdie wêreld nie, maar is burgers van die hemelse koninkryk.
So mag ons dalk ook voel vanoggend- ons is vreemdelinge waarop mense neersien. Die Inperking laat ons nog meer soos vreemdelinge voel. Die mense wat ons ken en liefhet, kan ons nie nou besoek nie. Ons voel soos vreemdelinge omdat ons nie soos altyd op ʼn Sondag kan bymekaar kom nie.
Maar dan besef ons opnuut, ja ons is vreemdelinge, maar ons is ook die uitverkorenes van God. God die Vader het ons al lank gelede uitverkies en deur die Heilige Gees aan Hom toegewy en geheilig.
In die oë van ander mense (en soms ook in ons eie oë) mag ons dalk niks wees. Maar voor God is ons so kosbaar dat Hy sy Seun Jesus Christus vir ons laat sterf het. Deur die bloed van Jesus Christus is ons skoongewas.
Om te weet dat jy ʼn uitverkore kind van die God is, beteken dat ons weet ons verlossing (en ons sekerheid van die ewige lewe) lê nie by ons nie, maar by God self. Hierdie week kyk ons dan verder hoe geen beproewing, geen verontregting, geen omstandighede die ewige lewe en verlossing wat God ons skenk van ons kan wegneem nie.
Mag God se onverdiende liefde en goedheid en vrede steeds meer en meer in ons leef!
Dors vir meer:
Filippense 3:12-20 en Johannes 17:6-26
Gebed
Here ons God ons bid tot U want ons behoort aan U. Dankie dat U ons lank tevore uitverkies het en alles bepaal en gegee het sodat ons gered kan word. Dankie dat ons verlossing vas en seker is en ons vanuit hierdie sekerheid in ʼn onsen ons vanuit hierdie sekerheid in ʼn onsekere wêreld kan leef. Amen.
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply