Ons sluit hierdie week se dagstukkies oor geloofsgroei af met Jesus se gebed in Johannes 17.
Skrifgedeelte: Joh 17:1-26 Teks wat tref: v11,24
Na al die teleurstellings en ontberings van die vorige hoofstukke war Jesus sonde rede gehaat is, en die wêreld die dissipels van blydskap beroof het eindig Johannes 16 op ʼn hoë noot. Al sou ons dit in die wêreld moeilik hê, kan ons moed hou want Jesus het die wêreld klaar oorwin. Dit beteken dat daar niks is wat ons van stryk sal bring nie.
Daar sal wel nog aanslae wees, maar ek hoef nie te vrees nie. Christus het van sy Vader die volmag ontvang om aan almal wat sy Vader Hom gegee het, die ewige lewe te gee. Sy werk op aarde is volbring en die tyd het aangebreek dat Hy verheerlik sal word. Christus het seker gemaak dat ons sy Vader ken en dat ons sy woorde hoor. Daarna leer Jesus ons dat ek deur gebed geestelik groei.
Vanaf vers 9-26 bid Jesus met die teerste woorde tot sy Vader vir elkeen wat aan Hom behoort. Christus se verbintenis aan ons is so belangrik dat Hy dit opnuut beklemtoon. Elkeen wat deel het aan Hom, sal nog in die wêreld bly. Luister na ons Here Jesus se woorde in vers 11: “Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het sodat hulle net soos Ons een kan wees.” Christus se gebed getuig van eerbied en vertroue. Wanneer ons bid, kan ons hierdie voorbeeld van ons Meester ter harte neem. Dit vertel weer van God se liefde. Sy oneindige liefde wat ons beskerm en nie verlore laat gaan nie.
Opvallend genoeg bid Jesus tot sy Vader terwyl Hy nog op aarde is. Dit bring blydskap en geborgenheid. Daarna wys Christus sy deernis vir ons. Terwyl ons nog op aarde is om te groei en vrug te dra, word ons taak opnuut beklemtoon. Dit is ons verantwoordelikheid om om ons Here se boodskap uit te dra. Jesus weet dat daar aanslae sal kom. Hy vra sy Vader daarom om ons van die Bose te bewaar. Terwyl ons in onseker tye leef en aanslae en aanvalle moet trotseer, is ons nooit alleen nie. Christus dink aan alles. Aan die kruis betaal Hy die hoogste offer om ons aan God te wy. Daardeur word ons almal een met Hom en sy Vader.
Christus bid ook dat ons by Hom kan wees. Die opregte en tere woorde in vers 24 val ons op: “Vader, Ek wil graag hê dat waar ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees.” Dit laat ons na die wederkoms van ons Here uitsien. Christus verkondig hiermee dat my ewige bestemming as kind van die Here nou reeds seker is. Terwyl Hy aan die regterhand van sy Vader sit, maak Hy dit verder bekend.
Die bekende filosoof Kierkegaard het eenmaal opgemerk dat my gebed God in sy Almag nooit kan verander nie. Dit verander my! Mag Christus se gebed, op die stadium dat Hy al geweet het dat Hy binnekort aan die kruis sou sterf, as voorbeeld dien in my geestelike groeiproses.
Wanneer die wêreld jou ʼn paar dwarsklappe gee, wanneer die onreg toeneem en ons teen die bors stuit, wanneer ek wil moed opgee, kan ek weet dat Jesus vir my bid!
Dors vir meer:
Lukas 11:1-13 en Markus 14:22-32
Gebed
Here, dankie dat U die wêreld klaar oorwin het. Dankie dat ek mag weet dat U vir ons gaan plek voorberei het. Ek weet dat ek nooit alleen is nie. Leer ons om ook in gebed te volhard. Amen
Ds Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply