Category: Uncategorized (Page 20 of 33)

Dagstuk Donderdag 24 September 2020 “Die Here stry vir ons, stry jy vir die Here?”

Lees: Josua 10:1-27
Teksvers 10:13

As die Here vir jou stry, is daar geen saak wat vir jou te swaar kan wees nie.
Dan is daar letterlik niks wat jou kan bedreig nie, want God se krag is baie groter as selfs die grootste krag waaraan jy met jou menslike verstand kan dink. So het Josua en die Israeliete dit ook beleef.

Dinge gebeur nou vinnig met die inname van die beloofde land. Die konings van die stede sien dat die Israeliete al vir Jerigo en vir Ai ingeneem het en heeltemal verslaan het. Verder het die Gibeoniete met ʼn slinkse manier ʼn verdrag met die Israeliete gesluit dit hulle nie uitgeroei sal word nie.
Die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon trek nou eers op teen Gibeon om hulle te verslaan. Die planne van die konings kom by Josua uit en hy trek op saam met die dapper vegters, in opdrag van die Here. Deur die nag lê hul 20km af en oor val die vyf konings onverwags- hulle het nie ʼn aanval verwag het nie.

Die Here is saam met Josua en die manskappe. Die Here veg vir hul ook die stryd. Deur die groot haelstene is daar meer manskappe doodgemaak as deur die Israeliete. Maar Josua en die dapper vegters veg ook die stryd. Die Here is saam hulle en gee die oorwinning, maar hulle moet ook als in die stryd werp. Hulle hulle veg en werp alles in die stryd, maar besef dis nie genoeg nie. Die son is besig om te sak, die dag gaan verby. Josua roep om hulp tot die Here, en die Here luister. Die son en maan staan stil totdat die vyande verslaan is. Die Here het vir Israel die oorlog gevoer.

Die Here voer vir ons ook die stryd! Deur Jesus Christus is die oorwinning vir ons behaal. Hy stry saam met ons deurdat die Heilige Gees ons voorsê van die oorwinning. Hy waarsku ons teen sonde, en bemoedig ons voortdurend, sodat ons kan voortveg tot in die ewigheid.
Stry jy die stryd van die Here? Is dit vir ons te veel moeite om onder alle omstandighede ons
Christelike beginsels uit te leef? Stry soos ʼn dapper vegter die Here se saak, ook vandag!

Dors vir meer:
Psalm 46 en 1 Timoteus 6:11-21

Gebed
Dankie Here dat U Here my lig en my redding is. Dankie dat ek in alle omstandighede op U kan vertou. Versterk my en help my om die goeie stryd te stry, enduit. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Dinsdag 23 September 2020 “Luister saam na die Woord van die Here.”

Lees: Josua 8:30-35.
Teksvers 8:35.

Die inname van die beloofde land was nie ʼn vinnige taak nie. Akan wat ʼn deel van die buit van Jerigo weggesteek het, het ook veroorsaak dat hulle nie aanvanklik die mense van Ai kan inneem nie (hoofstuk 7).
Met baie fyn taktiek en met die seënende hand van die Here, kon die Israeliete Ai afbrand en die streek in neem.
Nou eers kom Josua so ver om Moses se opdrag na te kom om ‘n altaar te bou op Ebalberg en daar brandoffers en maaltydoffers te bring (Duet. 27). Die brandoffers is geoffer om versoening te bring vir hulle sondes, en die maaltydoffers om die gemeenskap met God en mekaar te versterk. Spesifiek word hier verwys na vreemdelinge wat ook by is- families soos die van Ragab wat hulle ook by die Israeliete geskaar het en nou deel is van Israel.
Josua is egter meer as net ʼn generaal. Wat sou dit baat dat die volk die land inneem, maar hulle ken nie die Here nie? Daarom word hier nie net offers gebring nie. Josua laat die twee groepe van Israel op die twee berghange van Ebal en Gerisim staan en lees vir hulle elke enkele woord voor wat Moses neergeskryf het.
En hoe reageer die volk? Almal is daar, mans en vrouens en die vreemdelinge, die hele gemeente van Israel.

Kom ons staan ook vandag weer stil en luister na die volle Woord van die Here. Nie net uit ʼn gewoonte of net die dele wat jy wil hoor nie. Luister ten volle na die verbond van die Here wat Hy met ons gesluit het. Die volle evangelie waaraan ons deel het deur Jesus Christus. Luister aandagtig, kom saam met die hele gemeente op ʼn Sondag. Hoor opnuut die onbegryplike wonder dat die Here die verbond met ons gesluit het. Die seëninge wat die Here ons laat deel deur die verbond, maar ook die straf vir die wat ontrou is aan die Here.

Dors vir meer:
Deuteronomium 27 en Deuteronomium 28.

Gebed
Here van die leërskare! Dankie dat ons U Woord kan hoor en luister na wat U sê. Lei ons om nie net aanhoorders te wees nie, maar ook daders van U Woord. Mag ons dankbaarheid vir dit wat U vir ons gedoen het en nog steeds doen, elke dag toeneem. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Dinsdag 22 September 2020 “Die Here stap die pad vooruit”

Lees: Josua 3.
Teksvers 3:11

Josua het twee verkenners uitgestuur om te gaan kyk hoe lyk die militêre opset van Jerigo. Die Here gee die land aan Josua en die volk, maar daar word nie blindelings opgetree nie. Daar word fyn beplan voordat daar opgetree word. Nadat die verkenners teruggekeer het, maak die volk gereed om deur die Jordaan rivier te trek.
Hoe gaan die volk deur die rivier kom? Die rivier loop so vol, dat dit self oor die oewers spoel. Hier sien ons weer dat Josua ook nie probeer om alles self te doen nie. Dit is die Here wat voor hulle uittrek en weereens ʼn wonder doen.

Die priesters moet vooruit loop met die verbondsark, die volk 900m agterna, en eers nadat almal hulle geheilig het mag hulle optrek. Josua roep die volk op om te sien dat dit die Here van die hele aarde is wat vir hulle vooruit gaan. Op hulle eie sou hulle gesukkel het om deur die Jordaanrivier gekom het, maar die Here maak vir hulle die pad oop. Die Here wys vir hulle weer duidelik, maar Hy hou sy verbondsbeloftes, Hy het alle mag, ook oor die natuur.

Wat leer hierdie gedeelte vir ons vandag? Die Here trek ook vir ons vooruit. Jesus Christus het vir ons vooruit geloop, die skeiding van die sonde vir ons weggeneem, sodat ons ook die “beloofde land” kan ingaan.
Net soos die volk, moet ons ook ons heilig wanneer ons die Here volg. Heilig van al die sondes wat ons najaag, die ou, vuil kleed neerlê en die skoon kleed van die nuwe lewe aantrek.
Ons moet ook leef met ons oë gerig op die Here, want Hy is die Here van die hele aarde en die hele hemel.
Ons deel in die vervulling van Sy beloftes en kry deel in Sy genade. Ons hoef nie 900 meter agterna te kom nie, die Here is self met ons deur die Heilige Gees.

Dors vir meer:
Hebreërs 9:1-15. en Jakobus 1:19-27.

Gebed
Here van die hele aarde. Dankie dat ons kan deel in U verbondsbeloftes, dat U ons uitgekies het om deel van U volk te wees. Daarom wil ons, ons ook bekeer van alle sonde en leef met die oog op U gerig. Dankie dat U vir ons die pad oopgemaak het sodat ons kan deel in U heerlikheid. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 21 September 2020 “Dienskneg van die Here, voer jou opdrag uit want Hy is by jou.”

Lees: Josua 1:1-9
Teksvers 5-6.

Op die ouderdom van 80 jaar word Josua die nuwe leier van die volk. Die Here gee nou vir hom ʼn groot taak om te doen. Hy is die een wat die Here gebruik om die beloofde land in besit te neem sodat die verbondsbeloftes vervul kan word. As verkenner 40 jaar gelede het Josua gesien hoe sterk is die bevolkingsgroepe wat hulle moet verslaan. Hulle moet hierdie volke nie net oorwin nie, maar heeltemal uitwis deur hulle met die banvloek te tref. Hulle moet die versterkte stede inneem en oor die Jordaan rivier trek om by hulle uit te kom.
Ons kan goed verstaan hoekom Josua dalk bang gevoel het.

Josua weet dat hulle dit nie uit eie krag kan doen nie. Hulle kan dit slegs doen omdat die Here die een is wat die land aan hulle gee. Hulle kan nou ook nie besluit dat hulle ʼn ander stuk land gaan inneem en verwag dat die Here nog steeds die oorwinning gaan gee nie. Die Here gaan vir Josua suksesvol maak indien hy die opdrag van die Here gaan uitvoer. Josua kan net suksesvol wees indien hy gehoorsaam doen wat die Here beveel het hy moet doen want dan is die Here by Hom volgens Sy belofte. Alhoewel hy ʼn goeie leier en bevelvoerder is, is dit nie die rede hoekom hy suksesvol is nie. God gee die sukses. Nou hoe is die Here by Josua? Deur sy Heilige Gees. Die Heilige Gees versterk hom om sy opdrag te kan uitvoer en help hom om nie te vrees nie.

In ons eie lewens het die Here reeds al ʼn pad met elkeen van ons gestap. Reeds met jou doop as kind het die Here aan jou betuig en verseël dat Hy ʼn ewige genade verbond oprig en jou tot sy kind en as erfgenaam aanneem.
Josua se naam beteken “hy sal red” en Jesus is die Griekse naam vir Josua. Josua moes die beloofde land inneem om vir die volk Israel rus te gee. Jesus Christus is egter die ware redder. Hy gee vir elke gelowige die ewige lewe deur Sy redding, nie net tydelike rus nie maar ewige rus.

Daarom, wees sterk, wees dapper, moenie bang wees nie! Oordink die Woord van die Here dag en nag. Die Here is saam met jou in die roeping en taak wat Hy vir jou gee.

Dors vir meer:
Matteus 28: 16-20 en Psalm 1.

Gebed
Here Almagtige. Dankie dat ek nie hoef te vrees of bang te wees vir dit wat voorlê vandag nie. U self gee my die versekering U is by my. Dankie dat ek kan deel aan die ewige redding wat U gee deur Jesus Christus. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Vrydag 18 September 2020 “Here, gaan saam met ons.”

Skriflesing: Eksodus 33:7-23.
Teksvers: Eksodus 33:16
“Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

Die Here het die volk uitgelei uit Egipte. Wat gebeur toe Moses opgaan na die berg om die Here te ontmoet en hy nie dadelik afkom nie? Die volk vra vir Aaron om vir hul ʼn beeld van God te maak, en hulle aanbid hierdie beeld.

Die Here is woedend vir die volk. Hulle wil self ʼn beeld skep om God te ken sien. Hierdie gedeelte maak dit weer duidelik, ons sal nooit ʼn beeld kan maak wat vir ons kan wys hoe God lyk nie.
Maak ons ook soos die volk? Ons wil maniere in plek stel sodat ons God “meer” kan sien, as wat Hy aan ons openbaar. Hoe vinnig wel ons nie “meer” by die evangelie voeg nie, want God se liefde is vir ons te groot om te begryp, ek moet tog ook iets doen.

Na die optrede van die volk praat die Here met harde woorde: Julle moet wegtrek, maar Ek gaan nie saam met julle trek nie. Die Here gaan nog steeds Sy beloftes vervul en Sy Engel vooruit stuur, maar self gaan Hy nie saamtrek nie, want Hy gaan hulle vernietig.

Moses tree as middelaar vir die volk in. Wat help dit, as die Here nie saam met hulle trek nie? Dan is dit beter dat hul eerder bly waar hul is. God het in sy genade vir ons die volmaakte Middelaar gegee toe Hy sy Seun na hierdie wêreld gestuur het. Moses tree op as middelaar, maar as sondige mens kon hy nie die Here aanskou nie. Christus alleen kan vir ons optree as Middelaar. Nie net kan Hy nader tot die aangesig van die Here nie, maar Hy alleen kan die toorn van die Here op Hom neem, die straf vir die sondes dra, en dit het Hy ook vir ons gedoen.

Deur Christus is die Here vir ons nou goedgesind. Die Here stap die pad saam met ons. Die Here gaan saam met ons, want Hy het ons deur sy Gees in Christus ingelyf.
Nou kan ons die Here sien, In Christus word ons vergun om God se “heerlikheid te aanskou – vol genade en waarheid” (Joh. 1:14.).

Uit genade wil die Here met jou die pad saamstap, en doen Hy dit.

Dors vir meer:
Openbaring 4 en 2 Petrus 1:1-15.

Gebed
Here Almagtige. Dankie dat U U genade vrylik aan ons betoon, sonder enige verdienste van ons af. Na regte moes ons ook verdelg word, ons is sondaars. Maar dankie dat U Seun vir ons as Middelaar optree en ons name geskryf het in die boek van die lewe. Dankie dat U die pad met ons stap. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Donderdag 17 September 2020 “Moses gaan nie alleen nie.”

Skriflesing: Eksodus 4:1-17
Teksvers: Eksodus 4:12
Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

Die Here maak duidelik Homself aan Moses bekend. Herinner vir Moses wie Hy is en waartoe hy in staat is. Wat is Moses se reaksie hierop? Jy verwag amper die antwoord van “Ja Here, hier is ek, stuur my.” Maar dit is nie die antwoord wat die Moses vir die Here gee nie. Moses het dink net aan al die verskonings en probleme wat hy dalk mag ondervind, nog voor hy vertrek het vanaf die berg Horeb.
“Sê nou die mense wil my nie glo nie? Hoe moet ek hul oortuig dit is die Here wat my gestuur het?
Here, ek kan nou nie eintlik goed praat nie, U weet dit is al van lankal af so.”
Moses sê vir die Here, asseblief nie ek nie, gebruik iemand anders.
Lewe ons ook nie so baie kere met hierdie selfde gedagtes en gevoelens nie. Asseblief Here, stuur asseblief iemand anders, net nie ek nie. Laat iemand anders die persone in my wyk ondersteun wat deur ʼn moeilike tyd gaan. Laat iemand anders asseblief die Evangelie verkondig aan hierdie persone wat U oor my pad gebring het. Laat iemand anders asseblief hierdie paadjie stap waarop U my geplaas het.

Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens ‘n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.” Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.”
Toe word die Here kwaad vir Moses. Die Here het alreeds vir Aaron gereed gemaak om Moses te help. Moses moes nooit dit alleen aanpak nie. Dit is al reeds genoeg dat die Here saam met Moses is, maar hy stuur vir Aaron ook. Hy stuur later sy skoonpa Jetro om vir Moses te help en wysheid te gee.

Dit is genoeg dat die Here vandag saam met jou is, Hy persoonlik deur die Heilige Gees. Jesus Christus het reeds die pad vir jou gestap. Verder nog, Hy stuur vir jou ʼn hele geloofsfamilie om die pad saam met jou te stap. Antwoord gehoorsaam aan die oproep van die Here, jy is nie alleen nie!

Dors vir meer:
Psalm 23 en Efesiërs 4:1-16

Gebed
Here Almagtige. Dankie dat U die Here is wat vir my ʼn mond gegee het, mag ek met vrymoedigheid praat en U naam grootmaak. Dankie dat U my gevul het met U Heilige Gees. Mag ek vandag in geloofsgehoorsaamheid uitgaan op die pad wat U my lei. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Woensdag 16 September 2020 “Ek is wat Ek is.”

Skriflesing: Eksodus 3:1-20
Teksvers: Eksodus 3:14
Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

Moses alleen in die woestyn met sy skape.
Nee, nie alleen nie, selfs nie in die woestyn nie.
Die Here is altyd orals teenwoordig. Hy is alomteenwoordig. Hy is persoonlik teenwoordig.
In besonder maak die Here Hom aan Moses bekend deur die brandende bos.
Die Here is soos die vuur in die doringbos. Die vuur brand, maar brand nie uit nie.
Dit hou aan brand. So gaan die teenwoordigheid van die Here nie weg of verby nie. Hy bly, Hy is altyd teenwoordig – die heilige, almagtige en genadige God.
In sy heiligheid is Hy soos vuur tot wie ’n mens nie kan nader nie. In sy almag beheer Hy die natuur (vuur in die doringbos), die lewens van enkelinge (Moses, Aaron en die farao) en van volkere (vs 8).

In Sy genade nader Hy tot die mens en openbaar Homself as die God wat teenwoordig is, wat die nood van sy volk sien en hulle hulproep hoor. Sy almagtige, heilige en genadige teenwoordigheid beteken uitkoms en redding vir sy volk. Nie net Moses en die volk nie, maar ook vandag vir ons.

“En as hulle vra: “Wat is sy Naam?”
“Ek is wat Ek is”, antwoord God.
“Sê: “Ek is” het jou gestuur.”

Ek is….jou God, sê Hy vir ons deur sy Seun.
In Jesus Christus het die teenwoordigheid van die heilige, almagtige en genadige God vir ons verlossing gebring. Verlossing uit genade – van sonde en van die dood.
Verlossing om in die teenwoordigheid van God te lewe.
Die Here, die Heilige Gees is nou en ewig by ons (Joh. 14:16).
“EK is wat Ek is” het Homself aan ons geopenbaar sodat sy lewende teenwoordigheid elke oomblik vir ons ’n werklikheid sal wees. In die verlede, hede en toekoms.
“Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge, tot in ewigheid.” – Rom. 11:36.

Dors vir meer:
Johannes 14:15-31 en Openbaring 1:7-8.

Gebed
Liefdevolle Hemelse Vader. Baie dankie dat ons weet dat U vandag, gister en tot in ewigheid dieselfde is. Ons weet presies waar ons staan met U in alle tye, deur alle omstandighede, maak nie saak wat gebeur nie. Help ons om ons oë op U gerig te hou, maak nie saak hoe onstabiel die wêreld rondom ons is nie. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Dinsdag 15 September 2020 “Moses pleeg moord.”

Skriflesing: Eksodus 2:11-22.
Teksvers: Eksodus 2:12

Moses pleeg moord. As volwasse man gaan Moses na sy eie mense toe en sien watter verdrukking hulle beleef. Hy sien hoe word ʼn Hebreër deur ʼn Egiptenaar geslaan. Moses kyk eers rond of hy nie iemand anders sien nie en maak die Egiptenaar dood. Doelbewus kyk hoe eers rond voor hy die sonde pleeg. Hy dink hy kan hiermee wegkom. Maar dan kom dit uit, slegs die volgende dag weet die mense al daarvan.
Wat is Moses se optrede? Hy probeer wegvlug van die gevolge van sy sonde. Vanaf die farao se paleis, na die woestyn.

Net soos Moses is ons nie sonder sonde nie. Jy het dalk nie al ʼn persoon doodgemaak nie, maar hoeveel keer het jy nie om jou gekyk, voor jy voortgegaan het met sonde nie? Dalk by die werk eers rondgekyk en iets vir jou geneem. Dalk eers rondgekyk en iets leliks van iemand gesê. Dalk rondgekyk wie kan sien wat jy op jou foon staar. Moenie rondkyk na mense nie, maar kyk op na die Here. Wil jy voortgaan om hierdie sonde nogtans in die teenwoordigheid van die Here te doen?
Wat in die donker gebeur, word aan die lig gebring (Lukas 12:2). Nie altyd dadelik soos wat met Moses gebeur het nie, maar jou sonde kan jy nie van die Here af wegsteek nie. Indien jy besig is om eers rond te kyk of ander jou sien, nou is die tyd om daarvan te bekeer.

Moenie die offer van Jesus Christus “goedkoop” maak deur te volhard in jou sonde nie. Nee, omdat ons besef hoe groot die offer is van Jesus Christus, wil ons bekeer daarvan. Meer nog, die Heilige Gees verander ons, sodat ons dit kan doen. Maak gebruik van die geloofsgemeenskap om jou te help om te bekeer en te groei in jou geloof.

Dors vir meer:
Lukas 12:1-3 en Romeine 6:1-14.

Gebed
Here ons Here. Hoe baie probeer ons nie dinge vir U wegsteek en van U wegvlug nie? Verlig die donkerte van my hart opnuut met U woord en die Heilige Gees sodat ek van my sonde kan bekeer. Lei my dat ek nie toegee aan my sondige begeertes nie, maar lewe as ʼn werktuig om te doen wat U wil. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Maandag 14 September 2020 “Moses in die mandjie.”

Skriflesing: Eksodus 2:1-10
Teksvers: Eksodus 2:10

Wat weet jy van die lewe van Moses? Hierdie week kyk ons wie Moses was. Hy word gebore in ʼn moeilike tydperk en omstandighede. Na Josef sy familie na Egipte laat kom het, het die Here hulle so geseën dat hulle vrugbaar en voorspoedig geword het. Soveel so dat die farao hulle is ʼn gevaar en bedreiging beskou het. Die farao maak toe ʼn plan om te keer dat hulle te veel word, hy onderdruk die mans deur harde hande arbeid, beveel die vroedvroue om die seuntjies wat gebore word, dood te maak en toe dit nie werk nie, dat alle seuntjies om die lewe gebring moet word.
Ten spyte van hierdie moordplanne, trou twee Leviete en daar vir hul ʼn seuntjie gebore. Die moeder besluit om hom weg te steek in ʼn mandjie van biesies.

Interessant in hierdie gedeelte word die persone se name nie vir ons genoem nie. Daar word nie gesê wie die twee Leviete is nie. Nie wie hulle dogter is nie. Ook nie wie die farao se dogter en haar diensmeisies is nie. Eers op die einde word hierdie babaseuntjie aan ons bekendgestel as Moses. Hy is die belangrike rolspeler in hierdie verhaal. So gebruik die Here al hierdie naamlose persone om te verseker dat hierdie hulpelose babaseuntjie gered word. Dat ʼn Israeliet binne in die voorhof van die farao se paleis kan grootword.

So vind ons regdeur die Bybel geloofshelde wie se name nooit vir ons genoem word nie. Persone wat optree as getuienis van God se teenwoordigheid. Hierdie gedeelte wys ons weer op God wat die uiteinde bepaal. Wou sou ooit dink in hierdie omstandighede waarin Moses gebore is, kan uitloop op die redding van die hele volk?

Wat laat hierdie gedeelte aan jou eie lewe dink? Moet ons altyd die persone wees wie se naam voorop staan om ʼn verskil in wêreld, in die gemeenskap of in die gemeente te maak?
Die naam wat vir ons uitstaan in ons lewens, is die naam van die Here wat aan ons gegee is. Ons roem nie op wie ons is nie, maar wie die Here ons maak en hoe Hy ons gebruik.

Kyk weer met nuwe oë na jou lewensverhaal. Is jou lewensverhaal ook vol van mense wat nie die geskiedenis boeke gaan haal nie? Maar tog is dit besonders dat die Here jou uitverkies en red. Verlos van die gevaar van ewige dood, waar daar menslik geen uitkoms was nie. Maak nie saak hoe gering jou lewe lyk nie, dit is die Here wat nogtans jou uitverkies, met jou bemoeienis maak. Jou laat deel in die redding van Sy seun.

Hoe lees jy jou lewensverhaal?

Dors vir meer:
Deuteronomium 32:1-14 en 1 Timoteus 1:12-17

Gebed
Dankie Here dat U in beheer is van my lewe. Dankie dat ek nie op myself hoef te roem of oor wie my ouers is of wat my naam is nie, maar net kan roem in U naam en wie U is. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk Vrydag 11 September 2020 “Van vergete tot vrugbaar.”

Skriflesing: Genesis 41
Teksvers: Genesis 40:14 en 16.

Net so drasties wat Josef in die tronk gegooi is, so drasties is hy daar uitgehaal. Twee jaar later het die farao ʼn drome gekry wat hom bekommerd gemaak het. Hy wil baie graag ʼn antwoord op sy drome kry. Niemand van die waarsêers of wyse manne kon vir hom ʼn uitleg gee nie. Hoeveel keer kan ons nie ʼn antwoord nie by die wêreld kry nie?
Skielik vergeet die hoof van die skinkers nie meer nie. Hy onthou van Josef in die tronk en saam met dit onthou hy die onreg wat hy ook teenoor Josef gepleeg het. Vergeet ons nie ook baie keer van persone wat ons wou help nie? Ek wil graag iets vir die kinderhuis gee of doen, maar ek het vergeet daarvan. Ek wil graag meer betrokke wees, maar ek vergeet wanneer die aksies is. Ek wil graag vir iemand ʼn kospakkie vat, maar het vergeet. ʼn Goeie daad wat jy wil doen, maar ook nie doen nie, help nie vir jou of die persoon wat jy wil help nie. Moenie laat jou goeie dade aan die Here bestaan uit goeie intensies wat jy nooit doen nie.

Met eenslag verander Josef se lewe. Hy word byna net so vinnig uit die gevangenis geruk, as wat hy daar ingegooi is. Blitsig maak hul hom gereed om voor die farao te verskyn. Hoe reageer Josef op hierdie geleentheid? Dit gaan weer nie oor wie hy is nie, maar oor wie God is. Dit is nie ekself wat die drome kan uitlê nie, maar dit is God wat die verklaring. Kan ons hierdie belydenis in ons lewe doen? Roem jy op jouself, of op die Here?

Nie net gee die Here aan Josef die uitleg van die droom nie, maar die Here maak die toekoms en Sy raadsplan bekend. Verder nog gee die Here vir Josef ook die wysheid om die regte optrede voor te stel om hierdie situasie te hanteer. Meer nog, Josef is die persoon wat die Here gebruik om dit uit te voer, want die farao sien raak dat die Gees van God oor Josef is (Sien 1953 vertaling). Hoe lewe jy jou gawes uit? Kan ander raaksien dat die Gees van God in jou is? Dalk in die manier wat jy jou besonderse gawes van die Heilige Gees uitleef, maar veral hoe jy die vrug van die Gees uitleef.

Laat ons in besonder in die gemeente van ons Here Jesus Christus het hierdie gawes wat die Heilige Gees vir ons skenk uitleef, ander gaan dit moeilik met die liggaam van Christus gaan, veral ook in die maer jare, as ons dit nie met wysheid aanwend en uitleef nie.

Dors vir meer:
1 Korintiërs 12 en Romeine 12:1-8.

Gebed
Here ons hemelse Vader. Dankie dat u ons versterk met U Heilige Gees. Dankie vir die besonderse gawes wat U vir ons gee. Mag ons dit ook uitleef, sigbaar in die wêreld, sodat ons aan ander die evangelie boodskap van Jesus Christus mag bring.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.

« Older posts Newer posts »