Lees: Josua 3.
Teksvers 3:11

Josua het twee verkenners uitgestuur om te gaan kyk hoe lyk die militêre opset van Jerigo. Die Here gee die land aan Josua en die volk, maar daar word nie blindelings opgetree nie. Daar word fyn beplan voordat daar opgetree word. Nadat die verkenners teruggekeer het, maak die volk gereed om deur die Jordaan rivier te trek.
Hoe gaan die volk deur die rivier kom? Die rivier loop so vol, dat dit self oor die oewers spoel. Hier sien ons weer dat Josua ook nie probeer om alles self te doen nie. Dit is die Here wat voor hulle uittrek en weereens ʼn wonder doen.

Die priesters moet vooruit loop met die verbondsark, die volk 900m agterna, en eers nadat almal hulle geheilig het mag hulle optrek. Josua roep die volk op om te sien dat dit die Here van die hele aarde is wat vir hulle vooruit gaan. Op hulle eie sou hulle gesukkel het om deur die Jordaanrivier gekom het, maar die Here maak vir hulle die pad oop. Die Here wys vir hulle weer duidelik, maar Hy hou sy verbondsbeloftes, Hy het alle mag, ook oor die natuur.

Wat leer hierdie gedeelte vir ons vandag? Die Here trek ook vir ons vooruit. Jesus Christus het vir ons vooruit geloop, die skeiding van die sonde vir ons weggeneem, sodat ons ook die “beloofde land” kan ingaan.
Net soos die volk, moet ons ook ons heilig wanneer ons die Here volg. Heilig van al die sondes wat ons najaag, die ou, vuil kleed neerlê en die skoon kleed van die nuwe lewe aantrek.
Ons moet ook leef met ons oë gerig op die Here, want Hy is die Here van die hele aarde en die hele hemel.
Ons deel in die vervulling van Sy beloftes en kry deel in Sy genade. Ons hoef nie 900 meter agterna te kom nie, die Here is self met ons deur die Heilige Gees.

Dors vir meer:
Hebreërs 9:1-15. en Jakobus 1:19-27.

Gebed
Here van die hele aarde. Dankie dat ons kan deel in U verbondsbeloftes, dat U ons uitgekies het om deel van U volk te wees. Daarom wil ons, ons ook bekeer van alle sonde en leef met die oog op U gerig. Dankie dat U vir ons die pad oopgemaak het sodat ons kan deel in U heerlikheid. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.