Lees: Josua 1:1-9
Teksvers 5-6.
Op die ouderdom van 80 jaar word Josua die nuwe leier van die volk. Die Here gee nou vir hom ʼn groot taak om te doen. Hy is die een wat die Here gebruik om die beloofde land in besit te neem sodat die verbondsbeloftes vervul kan word. As verkenner 40 jaar gelede het Josua gesien hoe sterk is die bevolkingsgroepe wat hulle moet verslaan. Hulle moet hierdie volke nie net oorwin nie, maar heeltemal uitwis deur hulle met die banvloek te tref. Hulle moet die versterkte stede inneem en oor die Jordaan rivier trek om by hulle uit te kom.
Ons kan goed verstaan hoekom Josua dalk bang gevoel het.
Josua weet dat hulle dit nie uit eie krag kan doen nie. Hulle kan dit slegs doen omdat die Here die een is wat die land aan hulle gee. Hulle kan nou ook nie besluit dat hulle ʼn ander stuk land gaan inneem en verwag dat die Here nog steeds die oorwinning gaan gee nie. Die Here gaan vir Josua suksesvol maak indien hy die opdrag van die Here gaan uitvoer. Josua kan net suksesvol wees indien hy gehoorsaam doen wat die Here beveel het hy moet doen want dan is die Here by Hom volgens Sy belofte. Alhoewel hy ʼn goeie leier en bevelvoerder is, is dit nie die rede hoekom hy suksesvol is nie. God gee die sukses. Nou hoe is die Here by Josua? Deur sy Heilige Gees. Die Heilige Gees versterk hom om sy opdrag te kan uitvoer en help hom om nie te vrees nie.
In ons eie lewens het die Here reeds al ʼn pad met elkeen van ons gestap. Reeds met jou doop as kind het die Here aan jou betuig en verseël dat Hy ʼn ewige genade verbond oprig en jou tot sy kind en as erfgenaam aanneem.
Josua se naam beteken “hy sal red” en Jesus is die Griekse naam vir Josua. Josua moes die beloofde land inneem om vir die volk Israel rus te gee. Jesus Christus is egter die ware redder. Hy gee vir elke gelowige die ewige lewe deur Sy redding, nie net tydelike rus nie maar ewige rus.
Daarom, wees sterk, wees dapper, moenie bang wees nie! Oordink die Woord van die Here dag en nag. Die Here is saam met jou in die roeping en taak wat Hy vir jou gee.
Dors vir meer:
Matteus 28: 16-20 en Psalm 1.
Gebed
Here Almagtige. Dankie dat ek nie hoef te vrees of bang te wees vir dit wat voorlê vandag nie. U self gee my die versekering U is by my. Dankie dat ek kan deel aan die ewige redding wat U gee deur Jesus Christus. Amen
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply