Skriflesing: Eksodus 33:7-23.
Teksvers: Eksodus 33:16
“Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

Die Here het die volk uitgelei uit Egipte. Wat gebeur toe Moses opgaan na die berg om die Here te ontmoet en hy nie dadelik afkom nie? Die volk vra vir Aaron om vir hul ʼn beeld van God te maak, en hulle aanbid hierdie beeld.

Die Here is woedend vir die volk. Hulle wil self ʼn beeld skep om God te ken sien. Hierdie gedeelte maak dit weer duidelik, ons sal nooit ʼn beeld kan maak wat vir ons kan wys hoe God lyk nie.
Maak ons ook soos die volk? Ons wil maniere in plek stel sodat ons God “meer” kan sien, as wat Hy aan ons openbaar. Hoe vinnig wel ons nie “meer” by die evangelie voeg nie, want God se liefde is vir ons te groot om te begryp, ek moet tog ook iets doen.

Na die optrede van die volk praat die Here met harde woorde: Julle moet wegtrek, maar Ek gaan nie saam met julle trek nie. Die Here gaan nog steeds Sy beloftes vervul en Sy Engel vooruit stuur, maar self gaan Hy nie saamtrek nie, want Hy gaan hulle vernietig.

Moses tree as middelaar vir die volk in. Wat help dit, as die Here nie saam met hulle trek nie? Dan is dit beter dat hul eerder bly waar hul is. God het in sy genade vir ons die volmaakte Middelaar gegee toe Hy sy Seun na hierdie wêreld gestuur het. Moses tree op as middelaar, maar as sondige mens kon hy nie die Here aanskou nie. Christus alleen kan vir ons optree as Middelaar. Nie net kan Hy nader tot die aangesig van die Here nie, maar Hy alleen kan die toorn van die Here op Hom neem, die straf vir die sondes dra, en dit het Hy ook vir ons gedoen.

Deur Christus is die Here vir ons nou goedgesind. Die Here stap die pad saam met ons. Die Here gaan saam met ons, want Hy het ons deur sy Gees in Christus ingelyf.
Nou kan ons die Here sien, In Christus word ons vergun om God se “heerlikheid te aanskou – vol genade en waarheid” (Joh. 1:14.).

Uit genade wil die Here met jou die pad saamstap, en doen Hy dit.

Dors vir meer:
Openbaring 4 en 2 Petrus 1:1-15.

Gebed
Here Almagtige. Dankie dat U U genade vrylik aan ons betoon, sonder enige verdienste van ons af. Na regte moes ons ook verdelg word, ons is sondaars. Maar dankie dat U Seun vir ons as Middelaar optree en ons name geskryf het in die boek van die lewe. Dankie dat U die pad met ons stap. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.