Skriflesing: Eksodus 4:1-17
Teksvers: Eksodus 4:12
Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

Die Here maak duidelik Homself aan Moses bekend. Herinner vir Moses wie Hy is en waartoe hy in staat is. Wat is Moses se reaksie hierop? Jy verwag amper die antwoord van “Ja Here, hier is ek, stuur my.” Maar dit is nie die antwoord wat die Moses vir die Here gee nie. Moses het dink net aan al die verskonings en probleme wat hy dalk mag ondervind, nog voor hy vertrek het vanaf die berg Horeb.
“Sê nou die mense wil my nie glo nie? Hoe moet ek hul oortuig dit is die Here wat my gestuur het?
Here, ek kan nou nie eintlik goed praat nie, U weet dit is al van lankal af so.”
Moses sê vir die Here, asseblief nie ek nie, gebruik iemand anders.
Lewe ons ook nie so baie kere met hierdie selfde gedagtes en gevoelens nie. Asseblief Here, stuur asseblief iemand anders, net nie ek nie. Laat iemand anders die persone in my wyk ondersteun wat deur ʼn moeilike tyd gaan. Laat iemand anders asseblief die Evangelie verkondig aan hierdie persone wat U oor my pad gebring het. Laat iemand anders asseblief hierdie paadjie stap waarop U my geplaas het.

Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens ‘n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.” Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.”
Toe word die Here kwaad vir Moses. Die Here het alreeds vir Aaron gereed gemaak om Moses te help. Moses moes nooit dit alleen aanpak nie. Dit is al reeds genoeg dat die Here saam met Moses is, maar hy stuur vir Aaron ook. Hy stuur later sy skoonpa Jetro om vir Moses te help en wysheid te gee.

Dit is genoeg dat die Here vandag saam met jou is, Hy persoonlik deur die Heilige Gees. Jesus Christus het reeds die pad vir jou gestap. Verder nog, Hy stuur vir jou ʼn hele geloofsfamilie om die pad saam met jou te stap. Antwoord gehoorsaam aan die oproep van die Here, jy is nie alleen nie!

Dors vir meer:
Psalm 23 en Efesiërs 4:1-16

Gebed
Here Almagtige. Dankie dat U die Here is wat vir my ʼn mond gegee het, mag ek met vrymoedigheid praat en U naam grootmaak. Dankie dat U my gevul het met U Heilige Gees. Mag ek vandag in geloofsgehoorsaamheid uitgaan op die pad wat U my lei. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.