Skriflesing: Eksodus 3:1-20
Teksvers: Eksodus 3:14
Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

Moses alleen in die woestyn met sy skape.
Nee, nie alleen nie, selfs nie in die woestyn nie.
Die Here is altyd orals teenwoordig. Hy is alomteenwoordig. Hy is persoonlik teenwoordig.
In besonder maak die Here Hom aan Moses bekend deur die brandende bos.
Die Here is soos die vuur in die doringbos. Die vuur brand, maar brand nie uit nie.
Dit hou aan brand. So gaan die teenwoordigheid van die Here nie weg of verby nie. Hy bly, Hy is altyd teenwoordig – die heilige, almagtige en genadige God.
In sy heiligheid is Hy soos vuur tot wie ’n mens nie kan nader nie. In sy almag beheer Hy die natuur (vuur in die doringbos), die lewens van enkelinge (Moses, Aaron en die farao) en van volkere (vs 8).

In Sy genade nader Hy tot die mens en openbaar Homself as die God wat teenwoordig is, wat die nood van sy volk sien en hulle hulproep hoor. Sy almagtige, heilige en genadige teenwoordigheid beteken uitkoms en redding vir sy volk. Nie net Moses en die volk nie, maar ook vandag vir ons.

“En as hulle vra: “Wat is sy Naam?”
“Ek is wat Ek is”, antwoord God.
“Sê: “Ek is” het jou gestuur.”

Ek is….jou God, sê Hy vir ons deur sy Seun.
In Jesus Christus het die teenwoordigheid van die heilige, almagtige en genadige God vir ons verlossing gebring. Verlossing uit genade – van sonde en van die dood.
Verlossing om in die teenwoordigheid van God te lewe.
Die Here, die Heilige Gees is nou en ewig by ons (Joh. 14:16).
“EK is wat Ek is” het Homself aan ons geopenbaar sodat sy lewende teenwoordigheid elke oomblik vir ons ’n werklikheid sal wees. In die verlede, hede en toekoms.
“Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge, tot in ewigheid.” – Rom. 11:36.

Dors vir meer:
Johannes 14:15-31 en Openbaring 1:7-8.

Gebed
Liefdevolle Hemelse Vader. Baie dankie dat ons weet dat U vandag, gister en tot in ewigheid dieselfde is. Ons weet presies waar ons staan met U in alle tye, deur alle omstandighede, maak nie saak wat gebeur nie. Help ons om ons oë op U gerig te hou, maak nie saak hoe onstabiel die wêreld rondom ons is nie. Amen

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.