Skriflesing: Eksodus 2:11-22.
Teksvers: Eksodus 2:12

Moses pleeg moord. As volwasse man gaan Moses na sy eie mense toe en sien watter verdrukking hulle beleef. Hy sien hoe word ʼn Hebreër deur ʼn Egiptenaar geslaan. Moses kyk eers rond of hy nie iemand anders sien nie en maak die Egiptenaar dood. Doelbewus kyk hoe eers rond voor hy die sonde pleeg. Hy dink hy kan hiermee wegkom. Maar dan kom dit uit, slegs die volgende dag weet die mense al daarvan.
Wat is Moses se optrede? Hy probeer wegvlug van die gevolge van sy sonde. Vanaf die farao se paleis, na die woestyn.

Net soos Moses is ons nie sonder sonde nie. Jy het dalk nie al ʼn persoon doodgemaak nie, maar hoeveel keer het jy nie om jou gekyk, voor jy voortgegaan het met sonde nie? Dalk by die werk eers rondgekyk en iets vir jou geneem. Dalk eers rondgekyk en iets leliks van iemand gesê. Dalk rondgekyk wie kan sien wat jy op jou foon staar. Moenie rondkyk na mense nie, maar kyk op na die Here. Wil jy voortgaan om hierdie sonde nogtans in die teenwoordigheid van die Here te doen?
Wat in die donker gebeur, word aan die lig gebring (Lukas 12:2). Nie altyd dadelik soos wat met Moses gebeur het nie, maar jou sonde kan jy nie van die Here af wegsteek nie. Indien jy besig is om eers rond te kyk of ander jou sien, nou is die tyd om daarvan te bekeer.

Moenie die offer van Jesus Christus “goedkoop” maak deur te volhard in jou sonde nie. Nee, omdat ons besef hoe groot die offer is van Jesus Christus, wil ons bekeer daarvan. Meer nog, die Heilige Gees verander ons, sodat ons dit kan doen. Maak gebruik van die geloofsgemeenskap om jou te help om te bekeer en te groei in jou geloof.

Dors vir meer:
Lukas 12:1-3 en Romeine 6:1-14.

Gebed
Here ons Here. Hoe baie probeer ons nie dinge vir U wegsteek en van U wegvlug nie? Verlig die donkerte van my hart opnuut met U woord en die Heilige Gees sodat ek van my sonde kan bekeer. Lei my dat ek nie toegee aan my sondige begeertes nie, maar lewe as ʼn werktuig om te doen wat U wil. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.