Skriflesing: Eksodus 2:1-10
Teksvers: Eksodus 2:10

Wat weet jy van die lewe van Moses? Hierdie week kyk ons wie Moses was. Hy word gebore in ʼn moeilike tydperk en omstandighede. Na Josef sy familie na Egipte laat kom het, het die Here hulle so geseën dat hulle vrugbaar en voorspoedig geword het. Soveel so dat die farao hulle is ʼn gevaar en bedreiging beskou het. Die farao maak toe ʼn plan om te keer dat hulle te veel word, hy onderdruk die mans deur harde hande arbeid, beveel die vroedvroue om die seuntjies wat gebore word, dood te maak en toe dit nie werk nie, dat alle seuntjies om die lewe gebring moet word.
Ten spyte van hierdie moordplanne, trou twee Leviete en daar vir hul ʼn seuntjie gebore. Die moeder besluit om hom weg te steek in ʼn mandjie van biesies.

Interessant in hierdie gedeelte word die persone se name nie vir ons genoem nie. Daar word nie gesê wie die twee Leviete is nie. Nie wie hulle dogter is nie. Ook nie wie die farao se dogter en haar diensmeisies is nie. Eers op die einde word hierdie babaseuntjie aan ons bekendgestel as Moses. Hy is die belangrike rolspeler in hierdie verhaal. So gebruik die Here al hierdie naamlose persone om te verseker dat hierdie hulpelose babaseuntjie gered word. Dat ʼn Israeliet binne in die voorhof van die farao se paleis kan grootword.

So vind ons regdeur die Bybel geloofshelde wie se name nooit vir ons genoem word nie. Persone wat optree as getuienis van God se teenwoordigheid. Hierdie gedeelte wys ons weer op God wat die uiteinde bepaal. Wou sou ooit dink in hierdie omstandighede waarin Moses gebore is, kan uitloop op die redding van die hele volk?

Wat laat hierdie gedeelte aan jou eie lewe dink? Moet ons altyd die persone wees wie se naam voorop staan om ʼn verskil in wêreld, in die gemeenskap of in die gemeente te maak?
Die naam wat vir ons uitstaan in ons lewens, is die naam van die Here wat aan ons gegee is. Ons roem nie op wie ons is nie, maar wie die Here ons maak en hoe Hy ons gebruik.

Kyk weer met nuwe oë na jou lewensverhaal. Is jou lewensverhaal ook vol van mense wat nie die geskiedenis boeke gaan haal nie? Maar tog is dit besonders dat die Here jou uitverkies en red. Verlos van die gevaar van ewige dood, waar daar menslik geen uitkoms was nie. Maak nie saak hoe gering jou lewe lyk nie, dit is die Here wat nogtans jou uitverkies, met jou bemoeienis maak. Jou laat deel in die redding van Sy seun.

Hoe lees jy jou lewensverhaal?

Dors vir meer:
Deuteronomium 32:1-14 en 1 Timoteus 1:12-17

Gebed
Dankie Here dat U in beheer is van my lewe. Dankie dat ek nie op myself hoef te roem of oor wie my ouers is of wat my naam is nie, maar net kan roem in U naam en wie U is. Amen.

Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.