Lees: Josua 8:30-35.
Teksvers 8:35.
Die inname van die beloofde land was nie ʼn vinnige taak nie. Akan wat ʼn deel van die buit van Jerigo weggesteek het, het ook veroorsaak dat hulle nie aanvanklik die mense van Ai kan inneem nie (hoofstuk 7).
Met baie fyn taktiek en met die seënende hand van die Here, kon die Israeliete Ai afbrand en die streek in neem.
Nou eers kom Josua so ver om Moses se opdrag na te kom om ‘n altaar te bou op Ebalberg en daar brandoffers en maaltydoffers te bring (Duet. 27). Die brandoffers is geoffer om versoening te bring vir hulle sondes, en die maaltydoffers om die gemeenskap met God en mekaar te versterk. Spesifiek word hier verwys na vreemdelinge wat ook by is- families soos die van Ragab wat hulle ook by die Israeliete geskaar het en nou deel is van Israel.
Josua is egter meer as net ʼn generaal. Wat sou dit baat dat die volk die land inneem, maar hulle ken nie die Here nie? Daarom word hier nie net offers gebring nie. Josua laat die twee groepe van Israel op die twee berghange van Ebal en Gerisim staan en lees vir hulle elke enkele woord voor wat Moses neergeskryf het.
En hoe reageer die volk? Almal is daar, mans en vrouens en die vreemdelinge, die hele gemeente van Israel.
Kom ons staan ook vandag weer stil en luister na die volle Woord van die Here. Nie net uit ʼn gewoonte of net die dele wat jy wil hoor nie. Luister ten volle na die verbond van die Here wat Hy met ons gesluit het. Die volle evangelie waaraan ons deel het deur Jesus Christus. Luister aandagtig, kom saam met die hele gemeente op ʼn Sondag. Hoor opnuut die onbegryplike wonder dat die Here die verbond met ons gesluit het. Die seëninge wat die Here ons laat deel deur die verbond, maar ook die straf vir die wat ontrou is aan die Here.
Dors vir meer:
Deuteronomium 27 en Deuteronomium 28.
Gebed
Here van die leërskare! Dankie dat ons U Woord kan hoor en luister na wat U sê. Lei ons om nie net aanhoorders te wees nie, maar ook daders van U Woord. Mag ons dankbaarheid vir dit wat U vir ons gedoen het en nog steeds doen, elke dag toeneem. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen
Ds Danie Potgieter
072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply