Author: Karen de Lange (Page 32 of 33)

Dagstukkie 9 April 2020 – Doelgerigte oë

Met hierdie week se dagstukkies het ons tot nou gesien hoedat die Here na ons omsien.  Hy ontmoet ons telkens en raak ons lewens aan om daarna daadwerklik ‘n verskil te maak. Ons fokus nou verder daarop om ons hele liggaam en siel diensbaar te maak.
 
Skrifgedeelte: Psalm 123                                  Teks wat tref: v 2
 
Godsdiens is al op baie maniere beskryf: Dit is iets wat ek glo.  Dit is iets wat die kerk bedryf. Dit gee inhoud en rigting aan my lewe.  Dit is my kragbron vir elke dag
                                 
In Psalm 123 word ‘n effens ander siening gegee.  Die volk hierdie lied gesing terwyl hulle op pad na en terug van die geestelike feeste in Jerusalem was.  Godsdiens beteken dat my oë op God gerig is.
 
Met sy oë op die Here gerig is daar vir elke gelowige troos en bemoediging. Na die besef van die Here se Almag in die eerste verse, besef die digter dat sy oë op God gerig moet wees.  Om hierdie beeld te verstaan moet ons die volgende in ag neem:
·         die ou oosterse volke het min woorde gebruik
·         met gebare (kop knik, hand beweging, blik van die oë) is opdragte gegee.
 
Hiermee is ‘n bepaalde gesindheid openbaar. Die eienaar het gewys wat waar en wanneer gedoen moet word.  Die eienaar het beskerm en voedsel voorsien.
 
Daarom was die slawe se oë op hul eienaars gerig.
 
Oë wat op God gerig is dui op ‘n besondere verhouding.  Oë wat op gerig is dui ‘n gebedshouding aan.
       
Dit het ‘n bepaalde implikasie:
·         Wees in ‘n posisie om God se hand altyd raak te sien!
·         Wees naby genoeg aan God om Hom en sy opdragte en beloftes raak te sien!
·         Wees bereid dat Hy my kan stuur en gebruik!
 
Dors vir meer:
2 Kor 4:7-18,
Gebed
Here, rig my oë op U en gee die insig dat ek my lewe volgens u opdragte sal leef.  Amen
 
Petrus van Blerk
0824560235
 
Die tyd van inperking kan maklik lei tot vereensaming en daar is meer uitdagings en veranderde omstandighede wat ons lewens beïnvloed.  As predikante nooi ek en Ds Danie (072 272 9631) elkeen wat pastorale begeleiding verlang om ons te kontak.

Dagstukkie 8 April 2020 – Die Here buig na my toe af

Met hierdie week se dagstukkies leer ons hoe ons Here na ons liggaam en siel omsien.  Hy ontmoet ons telkens en raak ons lewens aan om daarna daadwerklik ‘n verskil te maak. Ons fokus eers op dit wat God doen.
 
Skrifgedeelte: Psalm 40:1-18                               Teks wat tref: v 2
 
In vandag se gejaagde lewe, het niemand meer regtig tyd om na ander om te sien nie.  Ons huidige omstandighede met inperking kan maklik tot gevolg hê dat ons kan vereensaam of talle vrae stel oor ons lot.  Gevolglik is daar baie mense wat voel dat hulle in ’n diep donker put afgesak het.
 
Met treffende woorde beskryf Dawid hierdie gevoel in Psalm 40.  Hy vergelyk sy omstandighede met die dood en met slymerige modder.  Met hierdie beeld word dit duidelik dat hy gly en geen ankers of vastrapplek meer het nie. 
 
Dit verander wanneer die Here na hom toe afbuig. Skielik is daar vastigheid en sekerheid.  Teenoor die onvas modder, is daar nou ’n stewige rots om op te staan.  Vanaf die rots is daar ook nuwe perspektief.  Die noodkrete verander in ’n nuwe lied waarmee hy die Here kan loof. Hy is so bly dat hy uit volle bors wil sing sodat almal van die Here se trou kan hoor. 
 
Hoe wonderlik is die Here se liefde dan nie ook nie.  Hy versorg nie maar net so terloops en in die algemeen nie.  Hy kom buig af na my.  Dit beteken dat Hy my situasie ten volle ken en my nood in besonder kan aanspreek.  Deurdat Hy afbuig is Hy deur sy Gees hier by my.  Ja, so naby dat Hy letterlik teen my is.
 
Daardie nabyheid van die Here maak my hoopvol en vol vertroue, al is ek soms in ’n diep en donker put.  Juis nou met Paastyd bevestig Jesus Christus God se liefde.
    
Dors vir meer:
Ps 27, Ps 68
Gebed
Ek Loof U dat U so naby is, en na my toe afbuig as ek in nood is.  Dankie dat U my so getrou bewaar. Amen
 
Petrus van Blerk
0824560235

Dagstukkie 7 April 2020 – Die Here kom ontmoet my in my nood

Met hierdie week se dagstukkies leer ons hoe ons Here na ons liggaam en siel omsien.  Hy ontmoet ons telkens en raak ons lewens aan om daarna daadwerklik ‘n verskil te maak. Ons fokus eers op dit wat God doen.
 
Skrifgedeelte: Lk 18:35-43                               Teks wat tref: v41
 
Tussen groot skares kan ’n mens gou verlore en vergete raak.  En wanneer jy boonop nog blind ook is,  word die kanse dat jy iemand in jou nood sal ontmoet,  nog skraler. Met die huidige pandemie van Covid 19 maak die groot getalle sterftes ons benoud. Almal word deur gebeure meegesleur. Alles word deel van die statistiek wat aangeteken word. 
 
Maar Jesus bring ’n malende skare tot stilstand om na die belange van een man om te sien.  Destyds was blindes en kreupeles se lot meestal om maar verlief te neem met hul situasie.  Niemand wou na hulle omsien nie. 
 
Netso ervaar ek vandag dat mense wegskram wanneer ek in die nood is.  In die groot massas en gejaagde wêreld kan dit gebeur dat ek verdwyn. Die blinde man het onophoudelik en al hoe harder uitgeroep dat Jesus sy lot moet verander.  Sy noodroep was nogal veelseggend. Hy erken dat Jesus die Seun van Dawid is.  Daarmee gee die man te kenne dat Jesus van koninklike afkoms is.
 
In Jesus se verdere optrede word die man se sig herstel.  Op wonderbaarlike wyse bemoei Jesus Hom met hierdie man.  Met sy optrede gee Hy aan God al die eer.  Onmiddellik daarna word die man ’n volgeling van Jesus. 
 
Eers was hy maar net ‘n “slagoffer” langs die pad, maar nadat Jesus hom in sy nood kom ontmoet, word hy “volgeling.” Die Here het hom raakgesien.
 
Met sy dood aan die kruis en opstanding het Jesus die mens in sy nood kom ontmoet sodat ons nie maar net kan sien nie, maar ewig kan lewe. 
 
As volgeling van Jesus bly ek hoopvol en vol vertroue!
 
Dors vir meer:
Lk 17:11-19,Lk 7:1-10
Gebed
Here, dankie dat U luister wanneer ek in nood is.  Dankie dat U vir my weer lig laat sien.  Amen

Dagstukkie 6 April 2020 – Die Here is hartstogtelik oor jou begaan

Met hierdie week se dagstukkies leer ons hoe ons Here na ons liggaam en siel omsien.  Hy ontmoet ons telkens en raak ons lewens aan om daarna daadwerklik ‘n verskil te maak. Ons fokus eers op dit wat God doen.
 
Skrifgedeelte: Sag 8:1-23                             Teks wat tref: v 2
 
Ons hoor baie keer hoe goed dit in die ou dae gegaan het.  Inperking en Grendeltyd met die Covid 19 Pandemie laat ons onmiddellik terug dink aan meer rooskleurige dae.  Tye dat daar nie daar nie soveel ontwrigting, hartseer en wanorde was,  soos wat nou deur ons beleef word nie.  Ons verlang daarna dat omstandighede so kan verander, dat ons na hierdie rustigheid kan terugkeer. 
 
Dit kan net gebeur as die Here se ingryp.   Dit is Sagaria se taak om hierdie vreugdeboodskap aan ’n verslae volk te bring.  Omdat die Here hartstogtelik oor sy volk begaan is, verander Hy hulle omstandighede deur:
·         ’n stad te gee waar sy Naam erken word (veiligheid)
·         Stadspleine vir die bejaardes en kinders (rustigheid)
·         ’n God van nabyheid vir die volk te wees (liefdesverhouding)
·         Wingerde , oeste en groot opbrengste (voorspoed)
·         Onderdane aan hulle te onderwerp (vrede)
 
In dankbaarheid vir sy liefde leer die Here ons ook hoe om elke dag te lewe in vers 16:

Praat die waarheid

Wees regverdig

Moenie bose planne bedink nie. 

 
Aan die kruis is hierdie liefde van God in Christus by uitnemendheid bewys. 
 
Omdat God so oor sy volk begaan was, het al die ander nasies begeer om met hulle saam te gaan, “want ons het gehoor God is by julle.”  
 
Leef daarom so dat ander kan sien hoe hoopvol en vol vertroue God jou maak!
 
Dors vir meer:
Jes 40:1-11, Rm 8:31-39
Gebed
U verander alles.  U is hartstogtelik oor my begaan.  U gee my weer nuwe hoop.  Amen
 
Ds Petrus van Blerk
0824560235
 

Dagstuk 3 April 2020 Bo alles moet julle mekaar liefhê!

Skrifgedeelte: Kolossense 3:1-17
Vers wat tref: vers 12-14

Hoe beïnvloed die Inperking ons verhoudings met mekaar?
Is hierdie ʼn positiewe tyd waar ons meer tyd het vir ons familie, gesin en eggenoot?
Begin die Inperking vir ons na agt dae te lank te raak en daar is konflik in jou verhouding met ander?

Maak nie saak hoe ons verhoudings is nie, Kolossense 3 gee vir ons ʼn praktiese strategie in ons verhoudings met ander.

Vers een begin met die oproep om ons gedagtes na bo te rig waar Christus is – nie bekommerd te wees oor die dinge hier om ons nie.
Vanuit die herinnering dat ons in Christus opgewek is, volg die opdrag om die ou mens al hoe meer dood te maak- breek met die sonde!
Leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van Sy skepper. (vers 10).

Hierdie is makliker gesê as om te doen. Dit verg inspanning, volharding, oefening geduld en dan moet ons dit weer van vooraf doen.

Om as nuwe mense te lewe is om ‘n hartlike vreugde in God te hê! Die nuwe mens beteken dat Christus wat die sonde oorwin en ons daarvan verlos het, in ons lewe (Gal. 2:20; Fil. 1:21); dat Hy al hoe meer gestalte in ons kry (Rom. 8:29); dat dieselfde gesindheid wat in Hom was ook in ons moet wees (Fil. 2:5). Hierdie nuwe lewe moet steeds meer in ons ontplooi en ontwikkel.

Prakties moet dit in ons onderlinge verhoudings na vore kom. Ons verhouding met God word veral sigbaar in ons verhouding met die mense om ons.
Wees vandag veral

  • Meelewend (om saam swaar te kry en saam bly te wees)
  • goedgesind (dan alles met die goeie bedoeling van jou naaste in gedagte)
  • nederig (myself minder as ander te ag)
  • sagmoedig (respek en begrip vir ander)
  • verdraagsaam (om toe te gee as daar nie ‘n beginsel op die spel is nie)
  • geduldig (Dink voor ons reageer)
  • en die bereidheid om mekaar te vergewe soos wat die Here ons vergewe het.

Bo-aan die lysie van die gewoontes van die nuwe mens, staan die liefde: “Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind (v.14).”

Die vrede wat Christus gee, moet in jou lewe die deurslag gee!
Veral in jou verhoudings met die mense om ons.
Kom ons gebruik hierdie tyd van Inperking om ons verhouding met die Here opnuut te versterk, asook met ons naaste!

Dors vir meer:
Filippense 2:1-11. en Galasiërs 5:13-26.

Gebed
Here dankie vir die nuwe lewe in Jesus Christus. Lei ons om die vrug van die Gees uit te leef in ons verhoudings met mekaar. Amen.

Ds Danie 072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk 2 April 2020 Die Here is HERE oor die verlede, hede en toekoms

Skrifgedeelte: Daniël 2

Vers wat tref: Daniël 2:20-23 en 28.

Hoe baie dink jy aan die toekoms voor jy gaan slaap? 

Word jy daardeur wakker gehou en kan jy nie tot rus kom nie? 

Maak die toekoms jou onseker, veral as jy kyk na die omstandighede wat in die land aan die gang is?  So die koning van die magtigste ryk daardie oomblik in die wêreld, koning Nebukadneser  ook gedink oor die toekoms en wat gaan gebeur.

Die Here maak die toekoms aan hom bekend in ‘n droom. ‘n Droom wat hy nie verstaan nie maar die baie graag die ware betekenis wou uitvind.  Soveel so, dat hy bereid is om al die wyse manne en raadgewers om die lewe te bring, as wat hy ‘n valse uitleg kry. 

Hy stel die onmoontlike aan die dienaars:  Kom sê julle eers vir my wat is die droom wat ek gedroom het en gee dan die uitleg.  Die dienaars erken dis onmoontlik en beskuldig hom dat geen koning dit al ooit van iemand gevra het.

Wat is Daniël en sy vriende se reaksie toe hulle van die bevel verneem dat al die raadgewers doodgemaak moet word insluitend hulle? 

  • Hulle kom saam en bid saam.  Hoe wonderlik is dit nie dat ons die voorreg het om tot die Here te nader in gebed.  Hy aan wie die wysheid en die mag behoort mag ons nader vir wysheid en leiding. 
  • Hoe baie beoefen ons nog hierdie voorreg?  Volhard jy in gebed?

Die Here maak aan Daniël die droom en die uitleg bekend en verhoor ook so die gebed.  Wat is Daniël se reaksie?  Hy gee aan God al die eer!  Hy bely dat die Here die een is wat regeerders aanstel, wysheid en gawes aan mense gee, Hy alleen kan verborge dinge bekend maak en dat dit die Here is wat bekend gemaak het wat hulle gevra het. 

Toe hy voor die koning verskyn, neem hy nie die eer vir hom.

Hy getuig daar is ‘n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur.

Koning Nebukadneser se groot magtige ryk wat hy bymekaargemaak het gaan na hom nie meer voortgaan nie, ‘n ander ryk gaan aan bewind kom.  Net soos sy ryk gaan hierdie ryk ook nie lank bestaan nie en dié daarna ook nie. 

Maar die ryk wat gevestig word, nie deur mense hande nie, maar deur God self gaan vir ewig bly bestaan.  So het Christus met Sy koms en kruisiging en opstanding die koninkryk van God gebring wat nie oorwin of vernietig gaan word nie.

Wanneer jy dan bekommerd is oor die toekoms, oor die dinge wat om ons gebeur, besef dan Wié is in beheer. 

Die Here is HERE oor die hede en die toekoms, Hy bepaal watter konings regeer maar Sy koningskap duur tot in ewigheid!

Dors vir meer:

Matteus 2:13-23 en Openbaring 1:1-6.

Gebed

Ons Vader, dankie dat ons weet U is in beheer, vir nou en vir ewig.  Mag ons nie vrees nie, maar weet U is ook by ons deur U Heilige Gees.  Amen.

Ds Danie 072 272 9631

GK Rietvallei.

Dagstuk 1 April 2020 Beroep jou op God se koningskap, krag en heerlikheid in gebed.

Skriflesing: 1 Kronieke 29:10-19.

Vers wat tref: 1 Kronieke 29:10-11

“En Dawid het die HERE geloof voor die oë van die hele vergadering, en Dawid het gesê: U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid.

Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles.”

Gister het ons gekyk na God se majesteit en heerlikheid en koningskap. Vandag kyk ons wat dit vir ons prakties beteken in gebed.

In 1 Kronieke 29 word vir ons ‘n dankgebed in die vorm van ‘n lied gegee wat Dawid geskryf het aan die einde van sy koningskap.

Hierdie gebed begin dan amper op dieselfde wyse as waarmee die Onse Vader gebed afsluit: ‘n erkenning aan die Here, dat die grootheid, mag, heerlikheid, majesteit en koningskap Hom toe kom vir ewig.

Gebed vorm die belangrikste deel van my lewe, hoeveel te meer nie in hierdie tyd van Inperking.

Wat kan ons van die Here vra as ons bid:

• God is Koning oor alles?
Aan U behoort die koninkryk – Hierdeur vra ons vir die Here omdat Hy Koning is, meer magtig as enige ander koning, sterker as enige vyand, alle dinge in sy mag het, goed en regverdig is sodat Hy alleen seëninge kan gee aan ons as sy onderdane, saam met ons sal wees en ons al bewaar en beskerm as ons Koning. Dit is vir ons ‘n groot troos, dat God in sy koninklike beskikking alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet en Hy volgens sy besluit geroep het (Rom. 8:28). Ons lewens is nie oorgelewer aan ‘n blinde noodlot nie, maar word bepaal deur ons Koning, ons Vader.

• God besit alle mag en krag?
Hiermee beroep ons ons op die Here dat Hy aan ons moet skenk wat ons vra in gebed, op die krag van God. Hy alleen besit hierdie mag, Hy alleen is in staat om ons in genade aan te sien. Dit behoort aan geen ander nie, daarom kan ons dit ook van geen ander vra nie. Alles en almal wat enigsins krag het, het die krag van God ontvang. Ons kan so maklik als verloor of teleurgesteld word as ons op ons eie krag hoop en voortbou. Ons is egter tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee, in staat om ons roeping te kan uitleef en te bou in die koninkryk van God.

• Alle heerlikheid kom God alleen toe?
Die heerlikheid – die eer vir alles kom God alleen toe. Ons kan slegs die goeie dinge van God af vra omdat Hy dit gee. Wanneer God aan ons voorsien is dit tot ons voordeel, maar dis in die eerste plek tot die eer en verheerliking van God se Naam. Ons is daarom geroep en gered in die eerste plek nie tot ons redding nie, maar tot die eer en verheerliking van die Here ons God!

Dink daarom opnuut watter voorreg ons het om tot die Here kan bid. Ons doen dit om ons daaraan te herinner dat God aan ons wil gee wat ons vra in gebed. Hoekom? Hy is die enigste Koning en sal daarom aan ons gee wat ons nodig het, nodig het vir ons saligheid en vir die daaglikse versorging.

Hy is magtig en die geskenk van redding kan niemand anders gee nie, dit kom slegs van die Here af. Alle eer kom Hom toe en deur die goeie wat Hy in ons doen, word Hy verheerlik!

Dors vir meer:
Matteus 6:1-13 en Jakobus 5:13-20

Gebed
Onse Vader wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word,
laat u koninkryk kom,
laat u wil geskied,
soos in die hemel
net so ook op die aarde
Gee ons vandag
ons daaglikse brood,
en vergeef ons ons skulde,
soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
en lei ons nie in die versoeking
nie, maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot
in ewigheid. Amen.

Ds Danie 072 272 9631
GK Rietvallei.

Dagstuk 31 Maart 2020: Die hele aarde is vol van Sy magtige teenwoordigheid!

Skrifgedeelte: Jesaja 6.

Teks wat tref: Jesaja 6:3 “Die serafs het mekaar telkens toegeroep:

“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!

Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

Vanoggend se gedeelte wil ons gedagtes terugbring dat ons opnuut weer besef wié God is!

Ons gedagtes hardloop baie maklik rond en ons vra: “Wat as?”. Wat as die Inperking verleng word? Wat as ek moet winkel toe gaan en die kos is op?

Kom ons bring ons gedagtes weg van hierdie “Wat as” vrae en vra opnuut die belangrikste vraag: “Wie is God wat ons aanbid en vertrou?”.

Wat leer die visioen in Jesaja 6 van wié God is?

  • Heel eerste sien jy die Here as KONING op sy troon!  Dit is Hy wat regeer.
  • Die serafs is om SY troon en roep uit:  Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Hoekom drie-maal heilige Here?  God self is 3 persone in een wese, drie is ‘n volheidsgetal, want die Here is perfek volledig.
  • Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid! Sy heerlikheid vul die hele aarde! Om die Here se heerlikheid te beskryf is baie moeilik, net so is hierdie woord in Hebreeus baie moeilik om te vertaal.  Dit het die betekenis dat die “gewigtigheid” van die Here oor die hele aarde is. Iets wat ons nie altyd moet beskryf nie, maar moet uitroep en bely en self beleef.

Ons reaksie op die drie-maal heilige Here!

Wat is Jesaja se reaksie in hierdie visioen?  Help my, ek is verlore want ek het die Koning die Almagtige aanskou.  Jesaja besef sy onreinheid en sy nietigheid en buig laag voor die Here.

  • Wanneer ons die Here se heerlikheid en heiligheid besef, kan ons nie anders as om in aanbidding voor Hom neer te val, te buig nie.
  • Ons besef ons sondig en is verlore. Hoe groter is ons besef dan, deur Christus is ons sonde vergewe, ons sonde versoen!

Lewe in aanbidding voor die drie-maal heilige Here- in aanbidding voor die Drie-Enige God. Gebruik hierdie tyd van Inperking, om ons geloof en kennis van God in-te-skerp!

Beleef ook vandag weer die Here se magtige teenwoordigheid oor die hele aarde!

Dors vir meer:

Psalm 46 en Jeremia 10:1-16.

Gebed

Vader, mag ons opnuut ook in hierdie omstandighede u mag en krag en heerlikheid besef en beleef. Heilig, Heilig is die Here ons God. Amen

Ds Petrus  082 456 0235 en

Ds Danie 072 272 9631

Dagstuk 30 Maart 2020: Die geloof van vriende!


Skrifgedeelte: Matteus 9:1-8 en Markus 2:1-12
Teks wat tref: v20
“Daar het hulle ʼn verlamde man wat bedlêend was, na Hom gebring. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, wees gerus, jou sonde word vergewe”

In Matteus 9 lees van ‘n verlamde wat nêrens heen kon gaan nie. Sy omstandighede (gesondheid) beperk hom. Hy is afhanklik van sy vriende om te kan beweeg en iewers heen te kom. So ook om by Christus uit te kom.
Sy vriende beleef ook uitdagings om hierdie man by Christus uit te kry. Die huis is so vol dat niemand naby Jesus kan kom nie.

Maar hulle laat nie die omstandighede in hulle pad staan nie.
Hulle maak ‘n NUWE PLAN wat niemand anders gedoen het nie. Hulle klim tot op die dak en laat sak die man af tot by die voete van Jesus.
So mag ons ook die INPERKING beleef. Fisies is ons ingeperk en kan ons nie beweeg nie. Ons kan nie ons vriende en geloofsgenote help soos wat ons gedink het ons gaan nie.

Maar wat is ons GESINDHEID in hierdie inperking?
Ons kan hartseer wees en vaskyk teen die negatiewe en alles wat ons nie soos voorheen kan doen nie, of ons kan NUUT kyk na die uitdagings en ander planne maak om nog steeds mekaar te help – die dak oop te breek om tot by die “voete van Jesus” te kom.

  • In besonderse maniere “Breek ons die dakke oop” om voort te gaan met ons eredienste, Bybelstudie en meelewing.
  • Ons dink NUUT en laat omstandighede ons nie keer nie.
  • Voel jy dak verlam vanoggend? Ryk uit na jou geloofsvriende sodat hul jou kan optel en dra in hierdie tyd.
  • Of wees self daardie geloofsvriend wat nuut dink en die gesindheid het om mekaar nog steeds lief te hê en te help in hierdie omstandighede.

Christus sien die vriende se geloof raak. Baie ander wonders lees ons van die geloof wat die persoon gehad het, maar hier lees ons van die geloof van die vriende.
Laat ons geloof in die Here ook daar wees vir ons vriende!
Die verlamde man het gekom met die verwagting dat Christus hom gaan genees.
Christus gee egter veel meer: Hy gee die genesing van die grootse nood wat daar is, naamlik vergewing van sondes. Dit is veel beter as enige genesing van enige siekte.
Vol dankbaarheid leef ons ook hierdie besef uit! Christus is by magte om ons sonde te vergewe, Hy het self daarvoor betaal!
Ons kan in hierdie inperking leef met die wete ek is genees van my sondeskuld, daarom kan ek die Here loof en prys, verwonderd wees oor wat Hy gedoen het!

Ek kan NUUT dink oor hoe kan ons Christus se liefde ook aan ander uitleef in hierdie tyd.

Dors vir meer:
1 Petrus 4:7-11. Jesaja 53.

Gebed
Vader, mag ons opnuut ook in hierdie omstandighede daar wees vir mekaar en ook ander na u toe bring. Dankie vir volkome sondevergifnis. Amen

Ds Petrus 082 456 0235 en
Ds Danie 072 272 9631

Dagstuk – 28 Maart 2020 – Die Here buig na my toe af

Skrifgedeelte: Psalm 40:1-18 Teks wat tref: v 2
In vandag se gejaagde lewe, het niemand meer regtig tyd om na ander om te sien nie. Gevolglik is daar baie mense wat voel dat hulle in ’n diep donker put afgesak het.
Met treffende woorde beskryf Dawid hierdie gevoel in Psalm 40. Hy vergelyk sy omstandighede met die dood en met slymerige modder. Met hierdie beeld word dit duidelik dat hy gly en geen ankers of vastrapplek meer het nie.
Dit verander wanneer die Here na hom toe afbuig. Skielik is daar vastigheid en sekerheid. Teenoor die onvas modder, is daar nou ’n stewige rots om op te staan. Vanaf die rots is daar ook nuwe perspektief. Die noodkrete verander in ’n nuwe lied waarmee hy die Here kan loof. Hy is so bly dat hy uit volle bors wil sing sodat almal van die Here se trou kan hoor.
Hoe wonderlik is die Here se liefde dan nie ook nie. Hy versorg nie maar net so terloops en in die algemeen nie. Hy kom buig af na my. Dit beteken dat Hy my situasie ten volle ken en my nood in besonder kan aanspreek. Deurdat Hy afbuig is Hy deur sy Gees hier by my. Ja, so naby dat Hy letterlik teen my is.
Daardie nabyheid van die Here maak my hoopvol en vol vertroue, al is ek soms in ’n diep en donker put.
Dors vir meer:
Ps 27, Ps 68
Gebed
Ek loof U dat U so naby is, en na my toe afbuig as ek in nood is. Dankie dat U my so getrou bewaar. Amen

Enkele reëlings:

GK Rietvallei se eredienste word So 29 Maart 2020 om 09:00 en 18:30 uitgesaai.

Gebruik die internet oordeelkundig. Die INPERKING het tot gevolg dat daar baie meer verkeer is wat die stelsels onder druk plaas. Daarom sal die Taakgroep van GK Rietvallei net inligting stuur wat noodsaaklik is.

Vir navrae en begeleiding skakel ons predikante:

Petrus 0824560235 Danie 0722729631

« Older posts Newer posts »