Met hierdie week se dagstukkies leer ons hoe ons Here na ons liggaam en siel omsien.  Hy ontmoet ons telkens en raak ons lewens aan om daarna daadwerklik ‘n verskil te maak. Ons fokus eers op dit wat God doen.
 
Skrifgedeelte: Lk 18:35-43                               Teks wat tref: v41
 
Tussen groot skares kan ’n mens gou verlore en vergete raak.  En wanneer jy boonop nog blind ook is,  word die kanse dat jy iemand in jou nood sal ontmoet,  nog skraler. Met die huidige pandemie van Covid 19 maak die groot getalle sterftes ons benoud. Almal word deur gebeure meegesleur. Alles word deel van die statistiek wat aangeteken word. 
 
Maar Jesus bring ’n malende skare tot stilstand om na die belange van een man om te sien.  Destyds was blindes en kreupeles se lot meestal om maar verlief te neem met hul situasie.  Niemand wou na hulle omsien nie. 
 
Netso ervaar ek vandag dat mense wegskram wanneer ek in die nood is.  In die groot massas en gejaagde wêreld kan dit gebeur dat ek verdwyn. Die blinde man het onophoudelik en al hoe harder uitgeroep dat Jesus sy lot moet verander.  Sy noodroep was nogal veelseggend. Hy erken dat Jesus die Seun van Dawid is.  Daarmee gee die man te kenne dat Jesus van koninklike afkoms is.
 
In Jesus se verdere optrede word die man se sig herstel.  Op wonderbaarlike wyse bemoei Jesus Hom met hierdie man.  Met sy optrede gee Hy aan God al die eer.  Onmiddellik daarna word die man ’n volgeling van Jesus. 
 
Eers was hy maar net ‘n “slagoffer” langs die pad, maar nadat Jesus hom in sy nood kom ontmoet, word hy “volgeling.” Die Here het hom raakgesien.
 
Met sy dood aan die kruis en opstanding het Jesus die mens in sy nood kom ontmoet sodat ons nie maar net kan sien nie, maar ewig kan lewe. 
 
As volgeling van Jesus bly ek hoopvol en vol vertroue!
 
Dors vir meer:
Lk 17:11-19,Lk 7:1-10
Gebed
Here, dankie dat U luister wanneer ek in nood is.  Dankie dat U vir my weer lig laat sien.  Amen