Met hierdie week se dagstukkies leer ons hoe ons Here na ons liggaam en siel omsien. Hy ontmoet ons telkens en raak ons lewens aan om daarna daadwerklik ‘n verskil te maak. Ons fokus eers op dit wat God doen.
Skrifgedeelte: Psalm 40:1-18 Teks wat tref: v 2
In vandag se gejaagde lewe, het niemand meer regtig tyd om na ander om te sien nie. Ons huidige omstandighede met inperking kan maklik tot gevolg hê dat ons kan vereensaam of talle vrae stel oor ons lot. Gevolglik is daar baie mense wat voel dat hulle in ’n diep donker put afgesak het.
Met treffende woorde beskryf Dawid hierdie gevoel in Psalm 40. Hy vergelyk sy omstandighede met die dood en met slymerige modder. Met hierdie beeld word dit duidelik dat hy gly en geen ankers of vastrapplek meer het nie.
Dit verander wanneer die Here na hom toe afbuig. Skielik is daar vastigheid en sekerheid. Teenoor die onvas modder, is daar nou ’n stewige rots om op te staan. Vanaf die rots is daar ook nuwe perspektief. Die noodkrete verander in ’n nuwe lied waarmee hy die Here kan loof. Hy is so bly dat hy uit volle bors wil sing sodat almal van die Here se trou kan hoor.
Hoe wonderlik is die Here se liefde dan nie ook nie. Hy versorg nie maar net so terloops en in die algemeen nie. Hy kom buig af na my. Dit beteken dat Hy my situasie ten volle ken en my nood in besonder kan aanspreek. Deurdat Hy afbuig is Hy deur sy Gees hier by my. Ja, so naby dat Hy letterlik teen my is.
Daardie nabyheid van die Here maak my hoopvol en vol vertroue, al is ek soms in ’n diep en donker put. Juis nou met Paastyd bevestig Jesus Christus God se liefde.
Dors vir meer:
Ps 27, Ps 68
Gebed
Ek Loof U dat U so naby is, en na my toe afbuig as ek in nood is. Dankie dat U my so getrou bewaar. Amen
Petrus van Blerk
0824560235
Leave a Reply