Skrifgedeelte: Jesaja 6.

Teks wat tref: Jesaja 6:3 “Die serafs het mekaar telkens toegeroep:

“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!

Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

Vanoggend se gedeelte wil ons gedagtes terugbring dat ons opnuut weer besef wié God is!

Ons gedagtes hardloop baie maklik rond en ons vra: “Wat as?”. Wat as die Inperking verleng word? Wat as ek moet winkel toe gaan en die kos is op?

Kom ons bring ons gedagtes weg van hierdie “Wat as” vrae en vra opnuut die belangrikste vraag: “Wie is God wat ons aanbid en vertrou?”.

Wat leer die visioen in Jesaja 6 van wié God is?

  • Heel eerste sien jy die Here as KONING op sy troon!  Dit is Hy wat regeer.
  • Die serafs is om SY troon en roep uit:  Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Hoekom drie-maal heilige Here?  God self is 3 persone in een wese, drie is ‘n volheidsgetal, want die Here is perfek volledig.
  • Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid! Sy heerlikheid vul die hele aarde! Om die Here se heerlikheid te beskryf is baie moeilik, net so is hierdie woord in Hebreeus baie moeilik om te vertaal.  Dit het die betekenis dat die “gewigtigheid” van die Here oor die hele aarde is. Iets wat ons nie altyd moet beskryf nie, maar moet uitroep en bely en self beleef.

Ons reaksie op die drie-maal heilige Here!

Wat is Jesaja se reaksie in hierdie visioen?  Help my, ek is verlore want ek het die Koning die Almagtige aanskou.  Jesaja besef sy onreinheid en sy nietigheid en buig laag voor die Here.

  • Wanneer ons die Here se heerlikheid en heiligheid besef, kan ons nie anders as om in aanbidding voor Hom neer te val, te buig nie.
  • Ons besef ons sondig en is verlore. Hoe groter is ons besef dan, deur Christus is ons sonde vergewe, ons sonde versoen!

Lewe in aanbidding voor die drie-maal heilige Here- in aanbidding voor die Drie-Enige God. Gebruik hierdie tyd van Inperking, om ons geloof en kennis van God in-te-skerp!

Beleef ook vandag weer die Here se magtige teenwoordigheid oor die hele aarde!

Dors vir meer:

Psalm 46 en Jeremia 10:1-16.

Gebed

Vader, mag ons opnuut ook in hierdie omstandighede u mag en krag en heerlikheid besef en beleef. Heilig, Heilig is die Here ons God. Amen

Ds Petrus  082 456 0235 en

Ds Danie 072 272 9631