Skrifgedeelte: Matteus 9:1-8 en Markus 2:1-12
Teks wat tref: v20
“Daar het hulle ʼn verlamde man wat bedlêend was, na Hom gebring. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, wees gerus, jou sonde word vergewe”
In Matteus 9 lees van ‘n verlamde wat nêrens heen kon gaan nie. Sy omstandighede (gesondheid) beperk hom. Hy is afhanklik van sy vriende om te kan beweeg en iewers heen te kom. So ook om by Christus uit te kom.
Sy vriende beleef ook uitdagings om hierdie man by Christus uit te kry. Die huis is so vol dat niemand naby Jesus kan kom nie.
Maar hulle laat nie die omstandighede in hulle pad staan nie.
Hulle maak ‘n NUWE PLAN wat niemand anders gedoen het nie. Hulle klim tot op die dak en laat sak die man af tot by die voete van Jesus.
So mag ons ook die INPERKING beleef. Fisies is ons ingeperk en kan ons nie beweeg nie. Ons kan nie ons vriende en geloofsgenote help soos wat ons gedink het ons gaan nie.
Maar wat is ons GESINDHEID in hierdie inperking?
Ons kan hartseer wees en vaskyk teen die negatiewe en alles wat ons nie soos voorheen kan doen nie, of ons kan NUUT kyk na die uitdagings en ander planne maak om nog steeds mekaar te help – die dak oop te breek om tot by die “voete van Jesus” te kom.
- In besonderse maniere “Breek ons die dakke oop” om voort te gaan met ons eredienste, Bybelstudie en meelewing.
- Ons dink NUUT en laat omstandighede ons nie keer nie.
- Voel jy dak verlam vanoggend? Ryk uit na jou geloofsvriende sodat hul jou kan optel en dra in hierdie tyd.
- Of wees self daardie geloofsvriend wat nuut dink en die gesindheid het om mekaar nog steeds lief te hê en te help in hierdie omstandighede.
Christus sien die vriende se geloof raak. Baie ander wonders lees ons van die geloof wat die persoon gehad het, maar hier lees ons van die geloof van die vriende.
Laat ons geloof in die Here ook daar wees vir ons vriende!
Die verlamde man het gekom met die verwagting dat Christus hom gaan genees.
Christus gee egter veel meer: Hy gee die genesing van die grootse nood wat daar is, naamlik vergewing van sondes. Dit is veel beter as enige genesing van enige siekte.
Vol dankbaarheid leef ons ook hierdie besef uit! Christus is by magte om ons sonde te vergewe, Hy het self daarvoor betaal!
Ons kan in hierdie inperking leef met die wete ek is genees van my sondeskuld, daarom kan ek die Here loof en prys, verwonderd wees oor wat Hy gedoen het!
Ek kan NUUT dink oor hoe kan ons Christus se liefde ook aan ander uitleef in hierdie tyd.
Dors vir meer:
1 Petrus 4:7-11. Jesaja 53.
Gebed
Vader, mag ons opnuut ook in hierdie omstandighede daar wees vir mekaar en ook ander na u toe bring. Dankie vir volkome sondevergifnis. Amen
Ds Petrus 082 456 0235 en
Ds Danie 072 272 9631
Leave a Reply