Skriflesing: 1 Kronieke 29:10-19.
Vers wat tref: 1 Kronieke 29:10-11
“En Dawid het die HERE geloof voor die oë van die hele vergadering, en Dawid het gesê: U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid.
Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles.”
Gister het ons gekyk na God se majesteit en heerlikheid en koningskap. Vandag kyk ons wat dit vir ons prakties beteken in gebed.
In 1 Kronieke 29 word vir ons ‘n dankgebed in die vorm van ‘n lied gegee wat Dawid geskryf het aan die einde van sy koningskap.
Hierdie gebed begin dan amper op dieselfde wyse as waarmee die Onse Vader gebed afsluit: ‘n erkenning aan die Here, dat die grootheid, mag, heerlikheid, majesteit en koningskap Hom toe kom vir ewig.
Gebed vorm die belangrikste deel van my lewe, hoeveel te meer nie in hierdie tyd van Inperking.
Wat kan ons van die Here vra as ons bid:
• God is Koning oor alles?
Aan U behoort die koninkryk – Hierdeur vra ons vir die Here omdat Hy Koning is, meer magtig as enige ander koning, sterker as enige vyand, alle dinge in sy mag het, goed en regverdig is sodat Hy alleen seëninge kan gee aan ons as sy onderdane, saam met ons sal wees en ons al bewaar en beskerm as ons Koning. Dit is vir ons ‘n groot troos, dat God in sy koninklike beskikking alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet en Hy volgens sy besluit geroep het (Rom. 8:28). Ons lewens is nie oorgelewer aan ‘n blinde noodlot nie, maar word bepaal deur ons Koning, ons Vader.
• God besit alle mag en krag?
Hiermee beroep ons ons op die Here dat Hy aan ons moet skenk wat ons vra in gebed, op die krag van God. Hy alleen besit hierdie mag, Hy alleen is in staat om ons in genade aan te sien. Dit behoort aan geen ander nie, daarom kan ons dit ook van geen ander vra nie. Alles en almal wat enigsins krag het, het die krag van God ontvang. Ons kan so maklik als verloor of teleurgesteld word as ons op ons eie krag hoop en voortbou. Ons is egter tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee, in staat om ons roeping te kan uitleef en te bou in die koninkryk van God.
• Alle heerlikheid kom God alleen toe?
Die heerlikheid – die eer vir alles kom God alleen toe. Ons kan slegs die goeie dinge van God af vra omdat Hy dit gee. Wanneer God aan ons voorsien is dit tot ons voordeel, maar dis in die eerste plek tot die eer en verheerliking van God se Naam. Ons is daarom geroep en gered in die eerste plek nie tot ons redding nie, maar tot die eer en verheerliking van die Here ons God!
Dink daarom opnuut watter voorreg ons het om tot die Here kan bid. Ons doen dit om ons daaraan te herinner dat God aan ons wil gee wat ons vra in gebed. Hoekom? Hy is die enigste Koning en sal daarom aan ons gee wat ons nodig het, nodig het vir ons saligheid en vir die daaglikse versorging.
Hy is magtig en die geskenk van redding kan niemand anders gee nie, dit kom slegs van die Here af. Alle eer kom Hom toe en deur die goeie wat Hy in ons doen, word Hy verheerlik!
Dors vir meer:
Matteus 6:1-13 en Jakobus 5:13-20
Gebed
Onse Vader wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word,
laat u koninkryk kom,
laat u wil geskied,
soos in die hemel
net so ook op die aarde
Gee ons vandag
ons daaglikse brood,
en vergeef ons ons skulde,
soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
en lei ons nie in die versoeking
nie, maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot
in ewigheid. Amen.
Ds Danie 072 272 9631
GK Rietvallei.
Leave a Reply